Wees ‘n ‘Eunice’ en ‘Loïs’ vir jou kinders

bid vir jou kinders

‘n Ruk gelede loop ek en my man met ons tweejarige seuntjie en babadogtertjie in die supermark. Sommer so terwyl ons by die broodrolletjies wag kom staan daar ‘n bejaarde paartjie langs ons en begin met ons gesels oor hoe oulik die twee kindertjies is en hoe groot wonderwerk babas werklik is (en selfs al is ons dogtertjie in pienk geklee vra die ou oom of dit ‘n boetie of sussie is).

Net voordat ons groet, sê die oom vir ons: “Julle weet natuurlik dat julle nou al kan begin bid vir die twee se lewensmaats”. “Ons het al vir die twee begin bid lank voordat hulle gebore is” was my antwoord. Maar vandag voel ek amper soos ‘n Timoteus (2 Tim 1:3-5), want ek besef toe dat ek ook ‘n ‘Eunice’ en ‘Loïs’ gehad het in my ouers, en ek glo my grootouers ook, wat vir ons toekoms en ons lewensmaats gebid het lank voordat ons mekaar ontmoet het en hoe hulle ook reeds vir ons ongebore kinders gebid het lank voordat hulle gebore is.

Ek is dankbaar dat ek in ‘n huis grootgeword het waar ons van die Here geleer het, en dat ek weet my ouers het vir al drie hul kinders gebid, veral deur tye waar hulle moes toelaat dat ons foute maak waaruit ons moes leer.

Nou begin ek ook vir my kinders se toekoms en lewensmaats te bid. My gebed is dat hulle hoop vir ons land nie in die regering en politiek is nie, maar dat hulle hoop op God is wat hierdie land kan omkeer. My gebed is dat die Heilige Gees hulle sal lei in die verhoudings waarin hulle gaan wees, en selfs al is hulle in verhoudings wat nie uitwerk nie, dat hulle waardevolle lesse sal leer wat hulle uiteindelik gereed maak vir hul huweliksmaats. My gebed is ook dat my verhouding met die Here, met my man en met ander mense vir hulle ‘n voorbeeld sal wees waaruit hulle ook goeie verhoudings kan bou.

Begin nou al vir jou ongebore kinders en kleinkinders te bid. Dit is ‘n absolute voorreg en groot seën wat jy oor hulle kan spreek.

Seënwense,

Stephanie