Wees ’n vrou met integriteit

integriteit

Hoe maak ons die wêreld ’n beter plek? Mense dink dat groter huise, beter skole en vinniger dienste die antwoord is. Nee, dit begin by karakter.

MAANDAG

Integriteit is wanneer jou binnekant groter as jou buitekant is

Stygende misdaadsyfers, ’n gebrek aan respek vir ouers, onderwysers en ander gesagstrukture, swak werksetiek en korrupsie – al hierdie dinge dui op ’n groeiende gebrek aan verantwoordelikheid, respek en selfbeheersing, dit wil sê, ’n gebrek aan karakter.

Karakter is nie iets waarmee jy óf gebore is óf nooit gekry het nie. Dit ontwikkel met tyd. ’n Christen se integriteit hang veral daarvan af hoe jy reageer wanneer dit sleg gaan. Of wat jy doen wanneer niemand kyk nie.

Karakter is – volgens die Bybel – om te leef uit die innerlike krag wat Hy gee. Wanneer die positiewe moontlikhede in jou persoonlikheid seëvier, is dit ’n teken van ’n sterk karakter.

As jy voor ’n geringe versoeking swig vir korttermynbevrediging, kry jou karakter ’n knou. As jy egter in swaarkry kan uithou vir iets beters, leer jy om God dieper as voorheen te vertrou. Dit bou integriteit. Die Bybel is vol voorbeelde van karaktervolle mense by wie ons baie kan leer.

Hulle was mense wat onberispelik opgetree het. Hulle het altyd die regte dinge gedoen, die waarheid gepraat, nie kwaad gestig nie, en niemand beledig en sleg behandel het nie.

In die land Us was daar ’n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy. (Job 1:1)

DINSDAG

Persoonlikheid stem nie altyd ooreen met karakter nie

Talle kursusse is ontwikkel om mense te leer om hulleself tussen ander te handhaaf en ander te beïndruk. ’n Kultuur van how to win friends and influence people het posgevat.

Persoonlikheid ís belangrik, maar dit gee nie die ware beeld van wie jy regtig is nie. Soms dra ons ’n masker om aanvaar te word deur ander.

’n Aangename persoonlikheid steek dikwels ’n onaangename karakter weg. Wat jy doen en hoe jy reageer, sal wel die een of ander tyd wys wat regtig in jou binneste aangaan.

Beginsels soos integriteit, betroubaarheid, verantwoordelikheid en respek is reeds vir jare die grondslag van sukses. Hierdie eienskappe word nie verniet beklemtoon nie. Dit is belangrik, want dit beskerm jou.

Karakter is soos die muur rondom die ou stad Jerusalem in Nehemia se tyd. Dit beveilig jou teen aanvalle van buite. As die mure platval en die poorte is afgebrand, kan die vyand inkom om te roof en te steel. Jy is weerloos en kan nie weerstand bied nie.

As julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming. (Jakobus 1:3-4)

WOENSDAG

’n Swak karakter veroorsaak chaos in jou lewe

Ons weet almal wat met iemand gebeur as die steen van selfbeheersing net vir ’n oomblik nie in die karaktermuur is nie.

Die persoon vou onder druk. Deur een verkeerde daad is so iemand vir ’n oomblik in chaos gedompel. Chaos wat dalk permanente gevolge kan hê.

Almal het foute, en dit is maklik om die splinter in iemand anders se oog raak te sien. Voor jy vinger wys, maak altyd eers seker of daar nie dalk ’n balk in jou eie oog is nie.

Wanneer jy volgende keer iemand wil beskuldig, ondersoek eers jou eie karakter en dink eerlik oor waar jy dalk te kort skiet.

Besluit watter eienskappe vir jou belangrik is en skryf dit neer. Bespreek ook, saam met die gesin, watter eienskappe julle van mekaar verwag en skryf dit neer.

Nou kan jy mooi oor hierdie eienskappe ook besin. Daarna gee jy ook die res van die gesin kans om hulle insette te lewer oor waar elkeen kan verbeter.

Jy sal verbaas wees oor hoe ander jou sien en gou besef waar leemtes is wat konflik kan veroorsaak.

Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk. (2 Korintiërs 12:9-10)

DONDERDAG

Jy kan verbeter deur jouself te ken

Dit is gelukkig nie ’n verlore saak nie: ’n Mens kan altyd daaraan werk om te verbeter. Die pad na herstel is tweeledig: Jy moet heel eerste aan jouself werk en dan probleme met die gesinslede deurwerk.

Jy kan slegs jou optrede verander as jy jouself goed genoeg ken. Jy moet weet hoe jou binnekant jou optrede bepaal en hoe dit jou lewe beheer. Ware verandering kom van binne af, nie van buite af nie.

Sodra jy jou negatiewe eienskap(pe) erken het, bely dat jy die verkeerde koers ingeslaan het en graag ’n rigtingverandering wil maak. Kry ’n nuwe perspektief op die probleem en die oplossing daarvan.

Werk dan doelgerig daaraan om anders op te tree. Om die verhouding met die gesin te herstel moet elke probleemarea rustig deurgewerk word om weer eenheid te bou.

As jou maat byvoorbeeld ontrou was, verg dit moed om eerlik te sê hoe jy voel. Dit kos selfbeheersing om die probleem deur te werk en die deursettingsvermoë te hê om aan te gaan. Na volkome vergifnis is die sirkel voltooi.

Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees… (Romeine 12:3)

VRYDAG

Wees oop en eerlik en erken jou foute

Dit verg nogal baie om te erken ’n mens was verkeerd. Mense sal meer respek vir jou hê as jy jou fout erken as wanneer jy iets onder die mat probeer invee.

Dit is amper soos om jou beste vriendin in ’n oomblik van woede iets aakligs toe te snou. En dan vir jare nie met haar te praat nie. Jy gaan haar mis en daaroor tob. Bel haar liewer dadelik en erken die fout.

Of gaan vertel jou baas onmiddellik as jy iets verkeerds gedoen het. Sy gaan dit in elk geval uitvind en as jy dit nie dadelik erken nie, gaan sy wonder oor jou integriteit en eerlikheid.

In die boek A return to love beskryf Marianne Williamson hoe sy vir ’n lang tyd depressief was en vasgevang gevoel het. In dié tyd het sy ongelukkig en hartseer by ’n vriendin gekla oor haar lewe en hoe sleg sy voel. Haar vriendin vra haar toe: “Wat doen jy vir ander?”

Sy het, in plaas van om haar te vererg, eerlik daaroor gedink en besef dat die vriendin reg was. Dit het ’n ongelooflike verandering in haar lewe teweeggebring.

Eerlikheid het ’n mens nog altyd verder gebring as om te probeer voorgee.

Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. (Psalm 37:3)

SATERDAG

Jy kan net verander as die Gees in jou werk

Daar is net een manier waarop ’n mens regtig kan verander, en dit is as jy jou lewe aan Hom oorgee sodat Hy jou nuut kan maak.

Dit beteken nie alles uit die verlede moet oorboord gegooi word nie. As ons die pad vorentoe wil vind, moet ons onthou waar ons vandaan kom en hoe ons tot hier gekom het. Deur die verlede te onthou, kan ons weet watter foute om nie in die toekoms te herhaal nie.

Raak opgewonde oor die moontlikheid om nuwe energie in jou lewe en verhoudings te blaas. Neem egter klein treetjies aan die begin. Moenie verwag om die veranderings waarop jy besluit het onmiddellik reg te kry nie.

Om op te staan en iets te doen is baie beter vir jou gees as om in ’n groef te bly en jouself jammer te kry. Nie alle veranderings is ewe goed of suksesvol nie, maar dit is altyd die moeite werd om ten minste ’n poging aan te wend. As jy misluk, staan op en probeer weer!

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is. (Efesiërs 4:22-24)

SONDAG

Vir beter resultate, doen dinge anders as voorheen

As jy sien dat sekere patrone of gedrag nie die resultate vir jou gee wat jy wil hê nie, verander dit!

Jy het byvoorbeeld rede om kwaad te wees vir daardie vriendin wat jou weereens in die steek gelaat het. Bly geduldig, maar moet ook nie bang wees om op die regte tyd daaroor te praat nie.

Visualiseer dat dit moontlik is en neem dan die eerste stap. Soms is dit klaar goed genoeg om vir jouself te vertel dat jy dit kan regkry om minder verdedigend of aanvallend op te tree. Of om meer kreatief te wees.

Daar is sekere stappe waardeur ’n mens moet gaan op die pad om uiteindelik by die ideale plek uit te kom.

Jy sal eers nie besef jy doen dinge al weer op die ou manier nie. Jy besef eers ná die tyd dat jy weer die ou patrone gevolg het.

Namate ’n mens meer bewus raak van hierdie patrone, sal jy agterkom wanneer dit gebeur. Uiteindelik sal jy dit betyds besef en anders optree.

Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi. (Markus 2:22-23)

Kliek op voelgoed.co.za/7-daggeloofsplan vir méér geloofsplanne.