Wees oop en eerlik met mekaar

213
eerlik

Baie verhoudings word gekenmerk deur onuitgespreekte behoeftes, vrae wat nooit gevra word nie, onrealistiese verwagtings en verskuilde agendas. Dit veroorsaak magteloosheid en hopeloosheid vir paartjies.

it lyk soms asof sielkundiges al die antwoorde het, maar in haar boek Lies at the Altar: The Truth About Great Marriages erken dr. Robyn Smith dat sy ook al die paadjie van die preekstoel af vorentoe byster geraak het.

Volgens haar is “waarheid” die geheime bestanddeel vir ’n gelukkige huwelik.

Dit is om te ontdek en te erken wie jy is en wat jy uit die lewe (en jou huwelik) wil hê. En natuurlik moet jy ook weet wat jou maat se “waarheid” is.

Al is julle reeds jare getroud, is dit nie te laat om hierna te soek nie. Om deur getroud wees verras te word hoef nie ’n negatiewe ervaring te wees nie.

Maak seker dat julle verbintenis ’n groei-ervaring eerder as ’n ontnugtering word, deur die volgende onwaarhede te ontmasker…

“Om gelukkig getroud te wees is harde werk”

Die realiteit is dat julle liefde vir mekaar met die jare intens gaan verdiep. Maar as julle die verliefdheid heeltemal laat verdwyn, sal julle ook die passie en die vonkel in die oog verloor.

Vir die gelukkig getroudes is die huwelik ’n opwindende ontdekkingsreis. Dit is lekker en veilig in die verhouding en dit is hulle passie om dit so te hou.

Teen hierdie tyd is dit duidelik dat jy hom nooit gaan verander nie. Maak eerder vrede met jouself en met jou man. Bou konstruktief saam aan ’n nuwe, verbeterde “ons”, wat op respek en vertroue gebaseer is.

Moenie jou steur aan wat die doemprofete sê nie en laat getroud wees jou asem wegslaan!

Kom uit die groef en neem ’n proaktiewe besluit om julle verhouding opwindend te hou.

“As ek dít bereik het, sal ons gelukkig wees”

Jy lewe nóú, hoekom mag jy nie nóú in ’n gesonde, opwindende huwelik wees nie? Hou op om die lewe te versuur deur aanmekaar uit te stel met “as”. Hou op kla en doen vandag iets daadwerkliks om dinge vir julle beter te maak.

Vra jouself aan die einde van elke dag: Was ek ’n plesier om mee saam te wees? Indien nie, wie is die probleem, ek of hy? Wat gaan ek môre daaraan doen om dit te verander?

Sit ten minste een vaste uur per week opsy waarin julle veilig voel om hartsgeheime met mekaar te deel. Probeer om vir ’n slag nie te praat oor die alledaagse dinge soos ’n stukkende kraan of die kinders nie.

Persepsies en afleidings is doodsteke vir die getroude lewe. As jy gedurig moet raai wat aan die gang is, beteken dit julle kommunikeer swak. Kry die kommunikasie oop, eerlik en reguit, sodat julle as ’n span kan funksioneer.

“Ons sal self ons probleme oplos”

Te laat, jy is nie meer objektief nie en jy kan dit ook nooit wees nie. Jy is subjektief deel van ’n verhouding. Hoekom wag tot dit amper te laat is voordat julle bereid is om om hulp aan te klop?

Vir finansiële raad of mediese probleme gaan sien ons die beste kundiges wat geld kan koop, maar ons wil nie dieselfde vir ons huwelik doen nie. Gaan sien ’n professionele persoon om julle te help, sonder om skaam te wees daaroor.

Almal maak foute, want niemand is perfek nie! As jy nie vergifnis kan vra of ontvang nie, gaan sien iemand wat jou daarmee kan help. Dis dalk tyd om op te hou om in die verlede te leef en die bagasie saam met jou te dra.