Wees pynvry sonder pille

0
137
gesond.jpg

Vir elke pyn is daar ’n pil wat jy kan drink. Maar te veel pille, veral dié vir inflammasie, kan jou skelet sag maak en maagsere veroorsaak. Verlig jou pyn só, sonder enige medikasie.

As jy al ooit geloop het in skoene wat jou skaaf, het jy ’n goeie idee hoe erg konstante, knaende pyn kan wees. Die meeste van ons sukkel soms met hoofpyn of rugpyn. Dan verdoof jy dit gou met ’n pilletjie wat heeltemal onskadelik lyk en jou gou beter laat voel. Eers jare later kom jy agter dat jou voete nou soos warm vla lyk of dat jou maagpyn al die tyd ’n maagseer is wat deur pynpille veroorsaak is. Pynpille kan van hulp wees as jy akute pyn ondervind, maar vir aanhoudende pyn is dit beter om alternatiewe maniere te kry om dit te beheer.

Haal dieper asem, want suurstof help genees

Volgens dr. Robert Stern, professor in neurologie aan die Boston Universiteit in die VSA, het die meeste pasiënte wat hy sien, minder pyn as hulle joga doen. Daar is nie navorsing wat bewys hoekom joga teen pyn help nie, maar een teorie is dat dit jou liggaam help ontspan en meer suurstof deur jou lyf laat sirkuleer.

Helen Garde, ’n joga-instrukteur van Pretoria, sê dat jogabewegings wetenskaplik geformuleer is om elke liggaamsdeel te help ontspan. “Jogabewegings wat op jou rug of heupe fokus, help om ontslae te raak van spanning wat in dié dele geberg word; dus word die pyn in hierdie gedeeltes minder. Tydens joga haal deelnemers ook bewustelik diep asem, wat meer suurstof wat genees, help sirkuleer.”

Aanvaarding is die beste medisyne vir pyn

As jy heeltyd teen ’n pyn baklei, is dit moontlik dat jy dit erger ervaar as mense wat vrede daarmee maak. Volgens ’n studie wat in The Journal of Pain gepubliseer is, het Duitse navorsers gekyk na korttermyn- kognitiewe tegnieke om pyn te beveg, soos aanvaarding en aandagafleiding.

Die studie het getoon dat aanvaarding die meeste gehelp het om pyn te verduur. Mense wat hulle pyn aanvaar, is meer gewillig om dit te ervaar, wat dit draagliker maak. Deelnemers wat na musiek geluister het, het ook in ’n mate van hulle pyn vergeet.

Meer trauma skei natuurlike pynverligters in jou lyf af

Tydens akupuntuur word ’n dun naald in die area gesteek waar jy pyn ervaar. Dit maak nie juis sin nie: Hoekom meer pyn veroorsaak waar jy reeds pyn ervaar? Volgens akupunkturis Phyllis Berger van Johannesburg is dit presies wat jy wil hê – nóg ’n besering. “Die naald veroorsaak ’n mikrobesering in jou weefsel. Jou liggaam reageer deur stowwe af te skei om die besering te genees. In dié proses word alle weefsel rondom die besering ook “behandel” met natuurlike pynverligters soos endorfiene in jou liggaam.

Sonlig werk soms so goed soos ’n pynpil

Studies het getoon dat 25% van mense met chroniese pyn ’n tekort het aan vitamien D, die “sonligvitamien”. Mense wat met migraines of hoofpyn sukkel, se vitamien D-vlak is ook normaalweg laag. Vitamien D help eerstens dat kalsium beter deur jou bene geabsorbeer word. Sterk bene beteken dat jy minder pyn ervaar wat deur bros bene veroorsaak word. Tweedens tree vitamien D op as ’n hormoon wat met liggaamsfunksies help, soos ’n sterk immuunstelsel. Wanneer jy pyn ervaar, is dit jou immuunstelsel wat inskop om dit te help verlig.

Geen mens is teen pyn gevrywaar nie, maar jy kan dit bestuur, sonder om net op medikasie staat te maak.