Wees wie jy gemaak is!

0
90
Liesel Krause-Wiid

Betrap jy jouself dat jy wens jy was meer soos sy? So suksesvol, maer en fiks soos jou vriendin of kollega? Jy voel minderwaardig, maar meet jy dalk jou waarde aan wêreldse standaarde?

Geloofkenner: Liesel Krause-Wiid

lyn_3.png

GRATIS

Jy word wakker met ’n bang gevoel in jou binneste. Waar gaan jou krag vandaan kom? Die antwoord is om vertroue te hê. Sewe vroue uit die Bybel kan jou leer hoe om te vertrou. Kliek hier en laai ons 7-dag geloofsplan gratis af.

lyn_3.png

Betrap jy jouself dat jy wens jy was meer soos sy? So suksesvol, maer en fiks soos jou vriendin of kollega? Jy voel minderwaardig, maar meet jy dalk jou waarde aan wêreldse standaarde?

Dit is menslik om jouself met ander te vergelyk, maar sosiale media veroorsaak deesdae dat ons meer gereeld in die strik trap. As jy jouself gedurig met ander vergelyk, laat dit jou maklik minderwaardig voel. Wees dus versigtig en besluit om dit nie te doen nie, selfs al beteken dit dat jy ’n “sosiale media”-vas moet onderneem!

Jy is waardevol vir Hom, en dit is jou identiteit

Die probleem is dat mense slegs die mooie en veral die suksesse van hulle lewens op sosiale media verkondig. Die beeld wat geskep word, is nie eg of gebalanseerd nie. Ons vergelyk onsself dan met ’n situasie of persoon wat nie werklik bestaan nie.

Soms dink ons wat ons kry, waar ons bly en waarmee ons ry bepaal wie ons is. Wie maak jou wie jy is? Jou man, jou kinders, jou loopbaan? Dit is baie beter om jou identiteit in dinge te vind wat ewig is. Moet nooit weer sê jy is niks werd nie, want jy is teen ’n duur prys vrygekoop. Jou identiteit lê in die feit dat jy waardevol is vir Hom.

Die Woord sê jy is uniek – daar is niemand soos jy nie. Dit is onnodig om jouself met ander te vergelyk. Jy het jou eie, unieke gawes gekry. Die Griekse woord vir “gawe” is “charisma”, wat “geskenk” of “genadegawe” beteken. Hierdie gawes word nooit verdien nie. Ons kry dit uit genade. Daarom het jy geen rede tot hoogmoed, arrogansie óf minderwaardigheid nie.

Jy is vry om jouself te wees in Hom

My lewe het verander die dag toe ek besef het ek het sekere talente en tekortkominge sodat ek my spesiale en spesifieke plan vir my lewe kan vervul. Dit is ’n plan wat niemand anders as ek kan uitleef nie. Ons is almal deel van een liggaam, en die voet is nie belangriker as die hand nie. Dit is nie net sekere mense wat geroep word nie. Hy roep al Sy kinders en rus hulle toe om hemelse werk op aarde te doen.

Ons is ook nie bedoel om ornamente te wees nie, maar instrumente. Ons ontvang nie talente en gawes om daarmee te spog nie, maar om daarmee te dien. Dalk het jy ’n vriendin wat sendingwerk in ’n vreemde land doen en wanneer jy na haar wonderlike getuienisse luister, voel jy sommer minderwaardig.

Moeg gejaag? Mis jy God se stilte, maar kry nie tyd vir Bybelstudie nie? Die Eerste 5-toep (app) help jou om weer beheer oor jou geestelike lewe te kry.

Die media vertel vir ons voorkoms is alles. Ons bewonder beeldskone modelle op glanstydskrifte se voorblaaie en dink stilletjies: As ek maar net so ’n mooi vel gehad het of sulke pragtige bene sonder selluliet! Die ironie is dat die einste tydskrifte van allerhande rekenaartruuks gebruik maak om die modelle se velle so vlekloos te laat lyk of om elke rekmerkie te verwyder. Ons streef dikwels na dinge wat nie eers werklik bestaan nie.

Jy is spesiaal gemaak vir jou spesifieke doel

Samuel moes die nuwe koning van Israel gaan salf. Tipies mens, soek hy toe na ’n man van statuur, iemand met lengte en ’n mooi voorkoms. Maar Samuel word berispe, want wanneer Hy iemand roep, is afkoms of ander menslike standaarde nie die belangrikste nie. Die onwaarskynlikste kandidaat, die kandidaat wat in die oë van mense nie geskik lyk nie, is volgens hemelse standaarde meestal perfek vir die taak.

Soos Dawid word ons ook toegerus, verander en gevorm vir ons spesifieke taak. ’n Mens word nie net sommerso gestuur nie. Ons ontvang al die dinge wat ons mag nodig kry om die taak uit te voer. Hierdie toerusting begin by die gawes van die Gees.

Ons vergeet maklik wie ons is, maar ek herinner jou graag: Jy is ’n kind van die lewende God. Jy is na Sy beeld geskep. Jy dra Sy DNS!

Om gelukkig te wees beteken nie dat alles in jou lewe perfek is nie. Dit beteken dat jy besluit om verby al die onvolmaaktheid van hierdie wêreld te kyk. Besef vandag hoe uniek en spesiaal jy gemaak is vir jou spesifieke doel hier op aarde.

lyn_3.png

KOOP AANLYN

Die mooiste Bybelverse is ‘n volkleurboek met 44 kragtige beloftes uit die Bybel en ‘n kort, inspirerende stukkie pitkos vir krisistye. Die bladsye met kleurvolle Bybelverse in hierdie boek is geperforeer sodat jy dit kan uitskeur en met iemand deel. Jy kan vandag ‘n verskil in iemand se lewe maak.

lyn_3.png