Weet jy dat elke bekering in die hemel opgeskryf is?

645

Dit kom al ’n hele ruk. Eintlik weet Paul nie presies wanneer dit begin het nie. Was dit geleidelik of skielik? Miskien was dit nog altyd aan die gang. Dis asof alles anders is, al het niks regtig verander nie.

Hy probeer terugdink om ’n greep te kry op wat aan die gang is. Dalk het dit by verlede jaar se Oujaarspartytjie begin. Dis mos ’n jare lange tradisie: Oujaar word daar gedeurnag. Jy hou niks terug nie – ’n mens lewe net een keer. Maar die laaste keer kon hy nie soos altyd die voorbok wees nie. “Sonder brieke,” soos die manne sê, kon hy nie die nuwe jaar in nie.

Faan het gedink hy is siek en wou vir hom ’n bietjie ekstra “medikasie” gee, van die sterk soort in vloeibare vorm. Maar hy kon dit nie drink nie. Na ’n bier of twee het hy eenkant gaan staan en toe op die strand gaan stap. Dit was asof die seebries ’n wysie geneurie het wat met sy hart gepraat het.

Dinge werk nie meer soos voorheen nie. ’n Ruk terug het ’n vent in die ry kom indruk terwyl hy besig was om die persoon agter die toonbank se aandag te probeer trek. Gewoonlik sou Paul, wat ’n groot, sterk man is, die ding daar en dan in ondubbelsinnige taal oplos. En as dit nodig was, sommer met spierkrag ook.

Maar daardie dag het hy gewonder of die man nie dalk probleme het en dringend êrens moes heen nie. Hy het selfs vir hom gevra of alles reg is, of hy dalk kon help. Die man het omgedraai en in trane vertel van ’n krisis en om verskoning gevra vir sy ongemanierdheid. Paul, die man met die kliphart, het hom jammer gekry.

Hy sukkel ook al ’n hele ruk om dinge te sê soos voorheen. Growwe taal begin hom al hoe meer hinder. Dis nogal vreemd vir iemand wat altyd die voorprater en grapmaker is, wat vir niks en niemand terugstaan nie!

En wat van daardie vreemde onrus wanneer hy gaan slaap? Daardie stem wat vrae vra oor sy lewe? Sê nou hy word nie môre wakker nie, waar sal hy wees?

Onlangs, by ’n begrafnisdiens van ’n oom wat hy nie eens goed geken het nie, het hy vir homself skaam gekry. Hy, Paul Bredenkamp, het gehuil oor iemand met wie hy baie min in sy lewe gepraat het.

Sy vriende weet dit nog nie, maar vir ’n paar weke al gaan hy elke Sondag kerk toe. Dis snaaks, maar dit voel asof die prediker net met hom praat. Hy ervaar vreemde, teenstellende gevoelens – hartseer en blydskap gemeng.

Gisteraand het hy selfs gebid, die eerste keer sedert Sondagskool. Hy het gedink iets is fout. Maar miskien is iets juis besig om reg te kom…

Elke hart hunker om huis toe te gaan. Elke bekering is ’n verhaal met ’n Outeur in die hemel.

KOOS VAN DER MERWE is ’n bekroonde liedjieskrywer, predikant en solokunstenaar.

Koop Koos se boek Sielskos aanlyn by voelgoedboeke.co.za.

10% afslag plus gratis aflewering vir lesers!

R175.50 R195

Kliek hier