Weet jy hoe belangrik die Liefde is?

Februarie is mos tradisioneel die maand van die liefde. Spesifiek dan die verliefde liefde, die een wat saam gaan met blomme, sjokolade en kersligetes.

Februarie 2019 is anders. Dit het met ‘n verskriklike slag by ‘n skool in Vanderbijlpark begin, maar uit die rou, die seer, die verskrikking en trauma het Liefde gegroei en gedy. Allermins die hartjie en sjokolade verliefdheid van Valentynsdag, maar wel daardie groter as myself naaste liefde waarvan die Woord praat.

Van heinde en verre het mense begin bid vir ouers en kinders. Vanderbijlpark is steeds in pers en geel getooi. Mense wat in hul lewe nog nooit van Hoërskool Driehoek gehoor het nie, het oor grense heen geestelik hande gevat om saam te bid. Saam te huil. Saam te glimlag vir elke keer as daar ‘n kind uit die hospitaal ontslaan word.

Dit het ‘n tragedie gevat alvorens mense na mekaar begin uitreik het. Ons kan sinies daaroor wees en sê dis nou tipies van die moderne samelewing of ons kan in verwondering staan oor hoe God die lelikste prentjie en die seerste seer kan omskep in die goeie. Hoe daar vanuit soveel pyn, soveel wonderwerke en liefde kon voortvloei. Dit gee mens hoop. Hoop vir ons land en sy mense.

Die oorweldigende saamstaan, saam glo en saamwerk gesindheid wat uit hierdie tragedie voortgebring is, is iets waarop ons moet voortbou. Op 1 Februarie en daarna het almal wat kon alles gelos en gaan help. Skielik was mense se eie probleme, bekommernisse, status, geld, vergaderings en skedules glad nie meer so belangrik nie.

Miskien het die tragedie ons almal weer so ‘n slag wakker geskud. Ons laat besef hoe kort is die lewe en hoe belangrik is elke dag, elke oomblik wat jy saam met geliefdes kan deurbring. Doen wat jy doen na die beste van jou vermoë, maar onthou altyd hoe belangrik die Liefde is.

Vorige artikelDie Meester van balans
Volgende artikelViva die Gees-legkaarte!
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.