Weet jy hoe om bakhand te staan?

173

Gee was nog nooit regtig vir my moeilik nie. Om die waarheid te sê, kry ek mense wat nie kan gee nie, eintlik jammer. As jy ouer as vier jaar is, sou jou ma jou geleer het dat gee lekker kan wees.

Maar om te kan ontvang, is ‘n ander storie. In my kop lyk ontvang nogal soos die bedelaar wat by die robot staan met ‘n plakkaat om sy nek. Hy laat jou ongemaklik voel, soms selfs bang genoeg om jou venster af te draai want jy weet nooit of hy nie dalk ‘n skermunkel is nie. Of hy laat jou skuldig voel omdat hy so uitgeteer en honger lyk, sonder skoene en ‘n selfoon.

Ek het gaan dink waarom ontvang vir my ook moeilik is. Want ontvang beteken om te vra, en vra is nie sonder risiko nie – jy mag dalk ‘n nee kry. En ‘n nee beteken verwerping en minderwaardig voel. As jy gee het jy beheer, as jy vra stel jy jouself ondergeskik en maak jy jouself kwesbaar.

Ek moes op ‘n keer vir ‘n vriendin ‘n groot guns vra. Ek kon haar nie betaal nie want ‘n mens betaal nie jou vriendin nie. Ek kon haar op geen manier vergoed nie, ek moes oefen om te ontvang, om bakhand te staan. Later het sy my vertel hoeveel dit vir haar beteken het om vir my te kon géé.

En toe word dit vir my ‘n geloofsles. Ek het skielik besef dat vra en bid dikwels sinonieme is in die Bybel. Jesus sê vra en jy sal ontvang. God gee sy genade sonder dat ons dit verdien. Verniet, sonder enige teenprestasie. Maar ons moet weet hoe om te ontvang. Ons moet afhanklikheid en behoeftigheid kan verstaan as ons dit wil weet. Weet hoe om bakhand te staan.

Dit het my tussen die oë getref: as ek so sukkel om van mense iets onverdiends te ontvang, hoe sal ek ooit God se grootste Geskenk, sy liefde en sy genade kan ontvang?