Weet jy hoe om NEE te sê?

stel grense

Welkom in die jaar 2020!

Stel jy grense of doen ander dit vir jou? Die kwaliteit van jou lewe word in ‘n groot mate bepaal deur jou Ja’s en jou Nee’s.

Op een van RSG se kuierprogramme, het ‘n spreker onlangs gesoek na die Afrikaanse woord vir ‘pleaser’. Die antwoorde het almal fasette van die Engelse begrip bevat maar nie een kon dit omvattend beskryf nie: paai-boetie en ja-broertjie was van die voorstelle.

Kom ons maak sommer ons eie een: kom ons noem hom of haar ‘n assebliefie, of beter nog, ‘n bliefie. Iemand wat altyd ander wil tevrede stel, dikwels ten koste van homself.

Min van ons het groot geword met die vaardigheid om maklik Nee te kan sê. Maar dit is eintlik ‘n baie belangrike eienskap vir ‘n gesonde en gelukkige lewe – en iets wat ‘n mens ook aan jou kinders moet oordra. Want jou Ja en jou Nee reflekteer jou waardestelsel of dit wat vir jou belangrik is. Dit stel jou grense en skryf as’t ware vir jou jou lewensverhaal.

Wanneer jy vir iemand Nee sê, moet jy verwag dat hy kan kwaad word of teleurgesteld gaan wees – want hy kry nie sy sin nie. Verwag hierdie reaksie. Maar weet ook dat daar ‘n moontlikheid van manipulasie in sy versoek kon wees en dat jou antwoord jou daarteen beskerm het. (‘n Maklike voorbeeld hiervan is kinders se kerm-versoeke in ‘n winkel…)

‘n Mens kan vir jouself ‘n kompas ontwerp om jou Ja’s en Nee’s te bedink. Hier is ‘n paar wenke vir jou eie kompas:

  • Dink in jou alleentye oor wat vir jou baie belangrik, onderhandelbaar of weglaatbaar is.
  • Dink oor situasies waar jy Ja gesê het waar jy eintlik Nee moes gesê het.
  • Maak seker dat jy genoeg ruimte maak vir omgee vir jouself.
  • Bou vir jou ‘n betroubare netwerk van mense en bronne wat jou van raad kan bedien wanneer jy nie weet of jy Ja of Nee moet sê nie.
  • Wanneer jy voor ‘n uitdaging te staan kom, onderskei tussen die kein dingetjies wat jy maar gerus kan laat vaar en kies die antwoord wat vir jou gemoedsrus gaan gee.
  • Moenie ‘n bliefie wees nie – in die meeste gevalle het jy ‘n verborge vrees vir verwerping en word jy eintlik gemanipuleer, weg van dit wat vir jou belangrik is.
  • Onthou – om grense te stel, maak jou vry!

My wens vir jou vir die jaar 2020 is ‘n gebalanseerde leefstyl met al die ja’s en nee’s goed in plek.

Vorige artikelDit maak jou net sterker
Volgende artikelSo lyk die broers en susters van die Here
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.