Weet jy hoe om vrese te verdryf?

785

Ons is gemaak om spanning en stres te verduur, maar net vir kort tydjies. Ons moet kinders leer om angs te bestuur en beheer.

Vrees is ’n natuurlike reaksie op ’n spesifieke situasie, soos ’n kind wat bang is vir die donker of vir spinnekoppe. Dit is gewoonlik van korte duur, en kom voor onder die ouderdom van vyf jaar. Dit is deel van die normale ontwikkeling by kinders.

Sê jy verstaan, eerder as om alles te wil oplos

Persone wat angstig is, bekommer hulle oor iets wat nog nie gebeur het nie, soos die netbalwedstryd wat môre gespeel moet word of die besoek aan die dokter.

Dit is goed as daar ’n bietjie streshormone, veral adrenalien, vrygestel word voor ’n 100 m‑naelloop of klaviereksamen. Dan presteer ’n mens gewoonlik op jou beste. As jou kind egter voortdurend angstig en gespanne is, is dit moeiliker om te weet hoe om dit te hanteer en wat om te sê.

Ek het dit al baie met my eie kinders ondervind dat dit nie help om te sê: “Ag, toemaar, dis nie so erg nie,” of “Jy gaan oukei wees, moenie bekommerd wees nie.” Dit is die laaste ding wat jou kind wil hoor, want vir hulle voel niks reg nie. As jy verstaan wat in die brein gebeur en hoekom jou kind op ’n sekere manier reageer, kan jy sê: “Ek is jammer jy voel so. Is daar iets wat ek kan doen om dit beter te maak?”

Stel jou kind gerus deur fisiese aanraking

Daar is ’n amandelvormige deeltjie in die brein wat emosionele betekenis gee aan alles wat met ons gebeur. Dit is die amigdala en dit doen ’n baie belangrike werk: Dit hou ons veilig. Dit laat ons weet as iets op die stoof brand, as daar ’n slang in die pad lê of as iets stresvol is. Goeie tegnieke om spanning te hanteer is gevolglik belangrik.

Onthou, kinders se breine ontwikkel nog. Die deel wat vir die hantering van spanning en stres verantwoordelik is, het nog nie klaar gegroei nie. Dit is belangrik dat jou kind die volgende boodskappe van jou hoor en beleef: “Ek is hier. Jy is veilig.”

Aan die einde van ’n lang dag kan die donker gang of kamer jou kind bang laat voel. Dit help nie om haar dan te wil oortuig dat daar niks is om voor bang te wees nie. Buk af, kyk jou kind in die oë, vat haar hand of gee haar drukkie. Gebruik fisiese aanraking en ’n sagte stem om haar oorreaksie in die stresvolle situasie te kalmeer. Met verloop van tyd en jou hulp sal sy vaardighede aanleer om emosioneel stresvolle situasies te kan hanteer.

Skep ʼn veilige omgewing om te praat oor angs

“Vertel vir my meer” is ’n sinnetjie wat vir jou kind baie waardevol kan wees. Vind uit presies wat veroorsaak het dat hy angstig is. Gee dit ’n naam en gesels oor hoe dit sy lyf laat voel.

Gesels wanneer jou kind rustig is. Skep vir hom die geleentheid om te gesels oor dit wat hom bang maak. Moet dit wat die stres veroorsaak, ook nie afmaak as “sommer niks” nie. Vir party kinders help dit om ’n prentjie te teken oor die spesifieke situasie, en sodoende word die angs en spanning iets wat die kind voel sy self teen kan baklei en oorkom. Dit sal haar laat glo dat sy enige situasie, hoe vreesaanjaend dit ook al mag lyk, kan oorwin!

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.

 
 
Koop dr. Deon van Wyk en dr. Jena Raubenheimer se studieprogram Bly kalm en leer slim aanlyn by voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag. R495 R995 KLIEK HIER