Weet jy regtig wat omgee is?

729

As jy jou eie lewe en dié van ander wil verryk, gee dan regtig om vir mense. Help waar jy kan en dien soos Jesus gedien het.

Dit klink eenvoudig, maar dis makliker gesê as gedaan. Tog is die uiteinde altyd die moeite werd. Probeer dit vir een week. Kyk elke dag waar jy iemand met ’n boodskap kan bemoedig, kan help om hulle kinders by die skool af te laai of ’n hoenderpastei kan bring vir die ma met ’n druk sperdatum by die werk. Dit sal jou lewe verander!

Verskuif die fokus na ander en doen wat jy moet

Die Verlosser se hele aardse bediening het daaroor gegaan om mense te dien. Hy het selfs die voete gewas van die een wat Hom sou verraai. Nadat Jesus die dissipels se voete gewas het, het Hy gesê: “Gelukkig is julle as julle dit ook doen!”

As jy lewensvreugde wil hê, beweeg weg van “my” na “ons”! Opregte omgee fokus op ander. Dit is sonder ego en beweeg altyd uitwaarts. Iemand wat omgee, verstaan ’n ander se nood en doen iets daaromtrent.

Ons fokus val maklik eerder op ons eie gemak en plesier. Wanneer jy ander help, gaan dit jou verontrief. Dit vra altyd iets van jou, want jy gaan tydig en ontydig daar moet wees vir ander. Dit gaan jou egter laat besef hoekom jy op aarde is.

Moet nooit moeg raak daarvan om goeie dinge vir ander te doen nie.

Om te dien bring die beste in almal na vore

’n Rukkie gelede loop ek ’n vriend raak en hy vertel met groot geesdrif hoe hy dié dag vir Jesus ’n toebroodjie gegee het. Toe ek frons, sê hy die volgende: “Wat jy ook al vir die geringstes doen, doen jy vir Jesus.”

Dis menslik om vir ander om te gee, maar goddelik om ook iets te doen. As Jesus innig jammer gevoel het vir iemand, het dit nie by emosie gebly nie. Hy het opgetree om uit te reik na die persoon in nood. So is kos voorsien aan ’n honger skare, die hartseer weduwee wat haar seun verloor het, getroos én is hy uit die dood opgewek.

Die wonder van omgee is dat ons dit nie hoef te doen om die wêreld te verander nie. Die klein daad van hier en nou kring wyer uit na ander, partykeer reg oor die wêreld. Kyk maar na wat Moeder Teresa vermag het.

Rol jou moue op en maak ’n blywende verskil

Om regtig vir mekaar om te gee, bring ons bymekaar. Dit laat mense saamstaan en saamdoen om die wêreld ’n beter plek te maak.

As ons ander help, is dit onmoontlik om die geur en smaak van die weldade vry te spring. Ware omgee vind altyd sy pad terug na die gewer. Ons is gemaak om om te gee met ’n visie, hoop, empatie en liefde. Ons het ’n baie goeie voorbeeld in die Bybel – om op so ’n manier om te gee dat dit ’n blywende verskil sal maak.

Die beroemde Amerikaanse psigiater Karl Menninger het gesê: “As jy eensaam en ongelukkig is, sluit die deur agter jou, loop oor die straat, soek iemand wat seergekry het en help hom of haar!

Liesel Krause-Wiid, Geloofsgroei, berading en gesinsterapie

Kliek hier vir meer videos en artikels van Liesel.

Gebruik die afslagkode LIESEL om die boek NÓÚ IS DIE TYD te koop op voelgoedboeke.co.za.
R104 R149