Weet wat depressie regtig is

1406

Weet jy wat depressie regtig is? Het jy ’n idee van die val en opstaan, twyfel en vertrou, wanhoop en hoop waardeur depressielyers gaan? Hoe help jy iemand wat aan dié siekte ly? Kan dit ook gelowiges se lewensvreugde steel? VRA DIE KENNER JOHAN LATEN…

Daar is daagliks 23 suksesvolle (ongeveer 8 000 per jaar) en 230 onsuksesvolle selfdoodpogings in Suid-Afrika.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie voorspel dat die grootste persentasie van die wêreldbevolking teen 2030 deur depressie geraak sal word. Dit is meer as diegene wat leef met siektes soos kanker en MIV/vigs.

Depressie is ’n daaglikse werklikheid rondom ons. Ons kan nie langer oningelig bly nie.

As mense weet waaroor die siekte gaan, kan die diagnose gouer gemaak word en die behandeling vroeër begin. Die siekte word beter bestuur en lewens word beskerm. Net dán kan jy iemand help om voluit te leef!

1. Is dit aansittery of ’n werklike siekte?

Depressie is ’n behandelbare siekte. Depressiewe steurings kan in twee onderafdelings verdeel word. Die aard, intensiteit en duur van die simptome sal bepaal hoe vinnig daaraan aandag gegee moet word.

Major depressie kom voor wanneer jy minstens vyf van die depressiesimptome gedurende dieselfde tydperk van 14 dae of langer ondervind. Jou liggaam funksioneer anders as tevore.

Distimiese steuring is nie so erg soos major depressie nie, maar dit kan vir een tot twee jaar aanhou sonder dat jy beter voel. Die verloop is ook nie episodies, soos in die geval van major depressiewe siekte nie. Dit is eerder ’n chroniese toestand.
Net sommige van die depressiesimptome is oor ’n lang tydperk aanwesig.

2. Is dit oorerflik of gebeur daar iets?

Moet daar iets gebeur wat dit aan die gang sit? Is dit geneties? Daar is drie moontlike faktore, naamlik neurooordragstowwe, wat boodskappe in jou brein rondstuur, oorerwing en omstandighede.

Probleme kan met die chemiese oordrag van die boodskappe in die brein ontstaan, en so kan die hele sisteem naderhand wanfunksioneer.

Die risiko van depressie word bepaal deur die kombinasie van jou gene van jou ma en pa en hoe dit by mekaar inpas. Gene speel ’n bepalende rol of jy depressie sal erf of nie, maar dis nie noodwendig die “oorsaak” nie.

’n Mens dink onmiddellik aan stres as emosionele stres, maar jy kan ook stres ondervind weens beserings, operasies, ernstige siektes en voortdurende fisies uitdagende omstandighede.

3. Hoe dokter ’n mens somber gevoelens weg?

Hoe gemaak as iemand dit erken en hulp soek? Depressievegters het verskeie opsies rakende die behandeling van hulle siekte: psigoterapie, medikasie of doen self iets.

Psigoterapie bied nie ’n kitsoplossing nie. Dit neem tyd (wat van mens tot mens verskil) voordat daar enige verbetering is.

Om die beste behandeling te verseker, moet jy en die terapeut saam besluit of terapiesessies voldoende is en of medikasie ook nodig is. Dit bly jou keuse.
Doen self iets:
• Praat daaroor. Jy kan nie die emosies en depressiesimptome ignoreer as dit jou lewe begin oorneem nie.
• Oefen. Jy moet minstens drie keer ’n week oefen. Kry vir jou ’n oefenmaat. Dit sal jou help om gemotiveerd te bly.
• Eet gesonde kos.
• Slaap genoeg.

4. Daar bly ’n donker wolk oor die lyer hang

Na gelang van die oorsaak van depressie, sal dit nooit heeltemal verdwyn nie. Behandeling help om die siekte beter te bestuur, nie om jou volkome gesond te maak nie.

Die doel van die behandeling is nie om die depressievegter se lewe in een lang, plesierige partytjie te verander nie. Dit sou nie normaal wees nie.

Die depressievegter moet weer toepaslike emosies ervaar. As slegte dinge gebeur, moet jy sleg kan voel; as goeie dinge gebeur, moet jy goed kan voel.
Vrae om te vra:
• Is die diagnose korrek?
• Neem jy die medikasie reg?
• Gebruik jy die regte dosis?
• Gebruik jy die medikasie al lank genoeg?
• Benadeel ander medikasie die antidepressant se werking of bevorder dit depressie?

5. Hoe help jy iemand uit die skadu na die son?

Depressie is ’n uiters gespesialiseerde veld, maar al is jy nie ’n sielkundige nie, kan jy ook ’n depressievegter ondersteun sonder om die rol van ’n professionele terapeut oor te neem. Wen die depressievegter se vertroue voordat jy hulp aanbied.

• Luister met onverdeelde aandag.
• Moenie op persoonlike detail aandring nie.
• Ondersteun onvoorwaardelik.
• Wees geduldig.
• Vermy veralgemenings.
• Gee spesifieke terugvoer (sonder om raad te gee).
• Gebruik ’n positiewe stemtoon.
• Die mense naaste aan die depressievegter moet ingelig word, al is depressie nog nie by die persoon gediagnoseer nie.

Depressie sal nooit net “verdwyn” nie. Dit kan slegs met die regte behandeling beter hanteer word. Hoe gouer met behandeling begin word, hoe beter.

6. Ken die verskil: vrees, angs en paniek

Angs kan ’n voorloper van depressie wees. ’n Mens moet tussen vrees, angs en paniek kan onderskei om te verstaan hoe dit in depressie kan ontaard.
Vrees: Mense vrees spesifieke dinge soos leeus, slange of oorlog.
Angs: Jy voel iets gaan gebeur, maar jy kan nie presies sê wat dit is nie. Angs kan gerig wees op iets wat nie werklik gevaarlik is nie of dit kan ’n gevoel sonder ’n spesifieke rede wees.
Paniek: Dit is nie ’n reaksie op ’n stressor nie. Dit is onvoorspelbaar. Iemand word oorweldig deur buitengewone vrees en angs dat iets verskrikliks kan gebeur. Dit voel vir hom of hy beheer verloor of ’n hartaanval kry of gaan sterf.

7. Gelowiges kry ook swaar met depressie

Gelowiges word nie teen sombere gevoelens gevrywaar nie, trouens, selfs bekende Bybelfigure soos Dawid en Job het met die siekte geworstel. Kerkmense kan dikwels depressielyers daarvan beskuldig dat hulle gewoon ongelowig is.

“Jou geloof is nie sterk genoeg nie, daarom het jy kanker. Jy moet jou saak met God regmaak en jou sondes bely, dan kan jy gesond word.” Niemand sal dít ooit vir ’n kankerlyer sê nie, want die persoon is tog siek.

Waarom dan die onsinnighede kwytraak teenoor ’n depressievegter? Hy is ook siek. Dit is etikette wat (gelowige) mense om ’n depressievegter se nek hang.

’n Beter begrip van die siekte kan mense se perspektief en ingesteldheid aansienlik verander. Maak seker jy verstaan en is ingelig.

Dit is nie vir iemand maklik om uit die “depressie-kas” te klim nie. Wees iemand wat ’n depressielyer sal weet die meeste begrip sal hê en gee ’n oor wat luister.

Jy hoef nie daardie persoon se berader te word nie, maar jy kan die rigting aanwys vir hulp.

Ons elkeen word regstreeks of onregstreeks deur depressie geraak. Dis ons verantwoordelikheid om betrokke te raak. Maak ’n verskil en help die stigma afbreek deur bewusmaking!

Kliek hier vir jou GRATIS 7-dag aanlyn kursus.

SKRYF IN vir ons AANLYN KURSUS
(Vir jou foon, tablet en rekenaar)
Weet wat depressie regtig is
Johan Laten
R139 R199
leesleerleef.co.za