Weet wat God vir jou beplan

0
111
roeping.jpg

Voel jy soms dat jy nog nie heeltemal tot jou reg gekom het nie, dat daar nog dinge in jou lewe is wat kortkom? Maar hoe kan jy vasstel wat jou roeping is?

Sy was die spreekwoordelike lelike eendjie. Toe sy op die verhoog stap, het die gehoor haar uitgejou en die beoordelaars het net hulle oë hemelwaarts geslaan. Sy was 48 jaar oud, ’n werklose oujongnooi. Haar hare was deurmekaar en sy het ’n oudmodiese rok aangehad.

Toe die beoordelaars haar vra wat sy graag wou wees, het sy geantwoord: “’n Professionele sangeres.” Die gehoor kon hulle ore nie glo nie en een van die beoordelaars wou weet hoekom sy dit dan nog nie reggekry het nie. Maar sy het kalm gebly. Toe sy begin sing, was almal stom van verbasing – dit was ’n onvergeetlike ervaring!

Binne die volgende paar weke het meer as 100 miljoen mense die video-insetsel van Susan Boyle op YouTube gekyk. Bitter min mense kon dit doen sonder om ’n traan af te vee.

Susan Boyle het ’n impak op ons almal se lewens gehad. Sy het haar droom 36 jaar lank gekoester en haar kans afgewag, want sy het geweet wie sy is en waarvoor sy bestem was. Sy was bestem om miljoene mense se harte met haar pragtige sang aan te raak.

Dit was asof Susan Boyle daardie aand ’n spieël voor ons elkeen gehou het. Ons het haar jammer gekry, want die wreedheid van die beoordelaars en die gehoor het ons laat dink aan die wêreld wat ook ons drome soms minag en vertrap.

Die lelike eendjie is almal se storie

Diep binne-in wil elke mens graag weet wie sy is en wat sy veronderstel is om met haar lewe te doen. Omdat jy nie weet wie jy eintlik is nie, probeer jy dalk om dinge te doen waarvoor jy eenvoudig nie gemaak is nie, en dan wonder jy hoekom jy sielsongelukkig is.

Iewers, in die diepste hoekie van jou hart, weet jy dat jy nie jou drome uitleef nie. Jy het dalk ook soos Susan jou droom vir soveel jaar lewend gehou, maar jy kon net nog nooit op die verhoog klim en “sing” nie.

Almal ken die storie van die swaan wat tussen eende uitgebroei het. Haar hele lewe lank het almal haar gespot en gesê sy is lelik. Hulle het gesê sy moet vrede maak daarmee om net ’n eend te wees. Sy is verstoot en niemand het haar verstaan nie. Tog het sy heeltyd geweet daar is iets meer.

[pagebreak]
Toe sien sy een aand die pragtige swane en dit was asof sy iets in haar binneste kon voel lewe kry. Op daardie stadium het sy nog nie geweet wie sy was of wie sy bedoel was om te wees nie. Sy het net geweet wie sy wou wees.

Eers toe sy haar eie beeld in die water sien, het sy besef sy was net so mooi soos die swane. Die weerkaatsing het vir haar gewys wie sy regtig was. Sy het besef: Dis wie sy van altyd af bedoel was om te wees.

Sien jou weerkaatsing in God se oë

Jy lewe net een keer. Jy het net een keer die kans om ’n verskil te maak. As jy aan die einde van jou lewe weet dat iemand beter daaraan toe is omdat jy daar was, dán het jy geslaag.

Dink ’n bietjie oor hierdie vrae: Het jy al ontdek wie jy is? Leef jy dit ten volle uit deur die dinge wat jy elke dag doen? Sing jy die lied van jou drome wat in jou genetika ingebou is?

Jy is waarskynlik ook een van die meerderheid mense wat “nee” geantwoord het. Dan sal jy goed weet die gevoel van ontevredenheid gaan nooit weg nie.

So, waar begin ’n mens? Jy begin heel by die begin. Dawid beskryf in die Psalms hoe wonderlik jou liggaam gemaak is. Jy het boonop spesifieke gawes en talente gekry. Jy is handgemaak op ’n sekere manier sodat jy die goeie werke wat spesiaal vir jou gereserveer is, kan doen en leef. Handcrafted. Is dit nie ongelooflik nie? Want as jý nie doen wat spesiaal vir jou eenkant gehou is nie, sal dit dalk nooit gedoen word nie! Daar is sekere dinge wat net jy, met jou unieke geaardheid, kan doen.

God maak nie foute nie. Wie jy is en wat jy geroep is om te doen, sál by mekaar pas. Hy sal daarvoor sorg. Maar dan moet jy wéét wie jy is sodat jy jou spesiale geleenthede kan raaksien. Jy moet weet jy is die regte een vir die taak.

Eers as jy in Sy oë kyk en soos die lelike eendjie jou eie beeld sien soos jy dit móét sien, ontdek jy hoe belaglik die verwronge beelde wat die wêreld nog altyd na jou toe gekaats het, nou eintlik is. Dis wat Susan Boyle geweet het toe sy daardie aand op die verhoog gestap het. En dis presies wat jy moet weet wanneer jy op die verhoog van die lewe uitstap.

[pagebreak]

Wie jy is en wat jy moet doen

Jesus was ’n skrynwerker, iemand wat geweet het presies watter stuk gereedskap nodig was vir watter werk. As Hy ’n spyker wou inkap, het Hy ’n hamer gebruik. As Hy ’n skroef wou indraai, sou ’n skroewedraaier die regte ding wees. Anders sou die eindproduk baie slordig lyk!

Dis juis waarom Hy sou weet om nie ’n skroewedraaier te maak en dit as ’n hamer te gebruik nie. Jy is gemaak presies soos jy moet wees vir dit wat jy moet doen.

Jou persoonlikheid, wie jy is, hang van twee dinge af: jou genetika, of aangebore geaardheid, en jou opvoeding. Dis dinge soos die kultuur waarin jy grootgemaak is en die manier waarop jou ouers en onderwysers jou behandel het.

Uiteindelik is dit tog jou genetika wat bepaal hoe jy gaan wees – dis dit wat ’n hamer ’n hamer maak. Dink byvoorbeeld aan ’n vrugteboom: Die kwaliteit van die vrugte sal afhang van die hoeveelheid water en sonlig wat dit kry, maar ’n pruimboom sal altyd pruime dra (sy genetika).

Jy moet dus heel eerste uitvind wat in jou hart en verstand leef. Dis wie jy is en dis die droom wat in jou geplant is. Is jy ’n mens wat die leiding wil neem of wil jy liewer op die agtergrond wees en ander versorg? Jy is dalk goed daarmee om mense te bemoedig en na hulle probleme te luister. Of miskien is jy ’n vrou wat dinge goed kan deurdink en kalm kan bly in ’n krisis.

Sodra jy dit weet, kan jy probeer agterkom waar iemand jou nodig het. As mense geleer moet word, moet daar ’n onderwyser wees; as dinge ’n bietjie handuit ruk, is ’n leier die aangewese persoon.

Om in ’n eend se nes uit te broei is niks as jy uit ’n swaan se eier uitbroei nie. Jou omstandighede verander niks aan wie jy bedoel is om te wees nie.

So, luister na jou hart en vind uit wie jy gemaak is om te wees. As jy boonop kan agterkom wie die ander mense om jou bedoel is om te wees, nog beter. Saam sal julle dinge kan vermag wat almal sal verstom. Dís die toppunt van vervulling!

Vertaal en verwerk uit Start learning your personality GPS van Keith Henry en Berni Dymet.