Weet wat jou maat nodig het

1570
Gretha Wiid
Gretha Wiid

Daar is min dinge wat ’n mens so moedeloos kan maak soos ’n verwagting of begeerte wat nie beantwoord word nie – so ook in ’n huwelik.

Wanneer jy lank uitsien na iets en dit gebeur nie, is die teleurstelling groot, maar as jy kry wat jy emosioneel en fisies nodig het, skep jy weer nuwe moed.

Om aannames te maak lei dikwels tot groot frustrasie

In die gejaag van die lewe is daar min tyd om stil te word saam met mekaar en werklik oor ons hartsbegeertes en frustrasies te gesels. Ons baklei miskien oor sekere goed en wys ons frustrasies oor ’n hele paar sake, maar kom selde by hartsgesels uit.

Hierdie bolangse gesels, gejaagdheid en tussendeur bakleiery laat die kalklig val op wat die probleem op daardie oomblik is, maar dis al! Ná die bakleiery of halwe gepraat maak ’n mens ’n paar afleidings en aannames in jou kop.

Jy neem aan jy weet wat jou maat nodig het. Jy besluit in jou kop waar die ander persoon moet verander. Jy probeer om frustrasie en konflik te vermy deur al die balle in die lug te hou, net om oor ’n ruk weer op dieselfde plek van frustrasie of leegheid te wees. Dis ’n bose kringloop, want assumption is die regte vyand hier!

Doen die regte dinge op die regte manier

As jou maat se motor sonder petrol langs die pad gaan staan, kan jy met die beste gesindheid en die grootste moeite opdaag om te help. As jy egter daar aankom met ’n kannetjie petrol terwyl hulle met ’n dieselmotor ry, help dit niks!

In huwelike ook. Ons het soms die beste bedoelings en die reinste harte. Ons buig agteroor, maar dit het geen effek nie. Ons maats doen dalk dieselfde moeite, maar op ’n manier bly ons harte moedeloos. Daar is ’n verskil tussen iemand wat jou liefhet en bederf, en iemand wat jou akkuráát liefhet en bederf.

Jou man gee dalk blomme, maar jy begeer ’n kompliment. Hy is dalk nie ’n man wat drink, laat werk of jou verskreeu nie, maar hy help jou ook nooit in die huis of laat jou voel soos ’n prioriteit nie. Hy doen ’n klomp dinge reg, maar nie die regte dinge om jou werklik geliefd te laat voel nie. Dalk is jou maat se hart ook moedeloos omdat jy dit ook so doen met hom.

Praat reguit en luister vir ’n slag

Jy sal verbaas wees oor met hoeveel aannames jy dalk rondloop – wanpersepsies van dinge wat jy dink jou maat gelukkig maak, terwyl dit dinge is wat hom glad nie pla of enigsins laat tick nie. Doen vir ’n slag die moeite om te vra en werklik te luister. Maak tyd!

Wees innoverend – wees direk. Maak voorstelle en maak lysies. Dit klink moontlik belaglik en voel effens soos huiswerk of Projek Huwelik, maar jy kry dalk ’n beweging uit jou man se enjin wat hy lankal begeer.

Spreek jou eie begeertes ook so prakties en spesifiek moontlik uit. Mans haat dit om te raai wat hulle moet doen. Doen dit met liefde en sonder ’n stem wat verwyt. As daar aan julle beide se verwagting voldoen word, kry julle huwelik mos nuwe hoop!

Sonder aannames, maar met genoeg luister, praat én met petrol of diesel in die regte tenk, is hoop en akkurate liefde dalk die geskenk wat julle kry!

Gretha Wiid, Huweliksgroei, seksualiteit en tieners

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Gretha.