Weet wat van jou geld word

1405

As jy die woord “begroting” hoor, kry jy koue rillings, amper soos die hiënas in The Lion King as hulle Mufasa se naam hoor.

’n Begroting is eenvoudig ’n plan om jou geld te bestuur en seker te maak jy verstaan die uitwerking daarvan. ’n Tipiese finansiële plan bestaan uit ’n paar dele wat saamwerk om te verseker jou geld word op die regte dinge uitgegee.

Jou inkomste gaan oor die manier waarop jy ’n inkomste verdien, met ander woorde, jy ruil jou tyd vir geld of jou geld verdien ’n inkomste. Die wrede werklikheid is, ongeag wie jy is of wat jy doen, ons het almal net 24 uur ’n dag tot ons beskikking om te woel en te werk. Maak seker jy het ’n ekstra bron of bate wat ’n inkomste vir jou kan genereer.

Beplan om eerste in die basiese behoeftes voorsien

Daar is altyd ruimte om aan jou uitgawes te skuur en te skaaf. Dit sluit al die dinge in wat jy elke maand moet doen. Terloops, die nuutste selfoon of modieuse skoene val nie onder die dinge wat jy moet doen of moet hê nie. Een ding wat ons egter moet doen, is byvoorbeeld eet, maar ons hoef nie elke week na ’n ander restaurant toe te gaan nie. Dit kan beperk word.

Nog ’n daaglikse behoefte is om klere te dra (verkieslik). Dan het ons almal ook vervoer nodig. Deesdae is daar Uber en treine wat help om die dinamika en gedagtes oor vervoer te verander. Ons moet ook in ’n huis bly en versekering uitneem vir onvoorsiene gebeure. As jy hierdie onvoorsiene uitgawes, soos ’n stamp aan jou motor of hospitaalverblyf, kan dek, gee dit sekuriteit. Dit maak jou gemaklik in jou omgewing.

Aan die ander kant van jou uitgawes is luukshede soos ’n oorsese vakansie. Dit val natuurlik nie onder die basiese behoeftes waarin ons moet voorsien nie. Dis nie ’n moet nie, dis net iets lekkers om te hê en na uit te sien. Moet dit net nooit uit die verkeerde geldemmer finansier nie.

Weet wat jy uitgee om te kan besnoei

Jy weet natuurlik presies wat jy verdien, want dit staan op jou salarisstrokie. Min mense weet egter hoeveel geld hulle werklik elke maand uitgee. Die oomblik as jy sien waaraan jy geld spandeer, sal jy weet waar jy kan besnoei.

Koop kruideniersware byvoorbeeld eerder in die middel van die maand. So kan jy ’n paar rand spaar, want die meeste supermarkte stoot hulle kospryse op aan die einde van die maand. Hersien verder gereeld jou versekering. Dit is ’n baie kompeterende bedryf, dus kan jy baie beter tariewe beding as jy dit reg doen. Gesels met ’n kundige op dié gebied vir raad.

As jy jou maandelikse salaris kry en jy trek jou uitgawes af, bly daar óf iets oor, óf jy sit met ’n tekort, soos die meeste mense. Jy moet daadwerklik jou geldplan so opstel dat jy ’n oorskot kan hê, want dit is wat jou toekomstige finansiële vermoëns gaan bepaal. Dit hoef nie massief te wees nie. Jy kan met ’n klein bedrag begin.

Spaar jou oorskietgeld al is dit min

Jy moet die volgende beginsel verstaan: As jy jou oorskot tot jou voordeel aanwend, kom ons sê dis so min soos R250 per maand, en jy begin op 18 jaar spaar om op 65 af te tree, het jy 46 jaar wat jy R250 vir jou kan laat werk.

As jy R250 oor 46 jaar spaar, is dit ongeveer R150 000. Dis jou bydrae tot jou aftrede. Daardie R150 000 kan groei teen ’n moontlike 10% per jaar. Dit kan vir jou ’n stewige neseier verseker. Baie mense kyk hierdie opsie mis. Eintlik het jy net 5% tot daardie 100% van jou finansiële pot bygedra. Jou bates het ’n groei van 95% bygedra. Dis finansiële oorwinning.

Begin vandag deur ’n eenvoudige begroting op te stel: jou maandelikse inkomste minus jou uitgawes. Maak ’n plan om jou inkomste beter te bestuur. Kom by die punt waar jy nie vir geld hoef te werk nie, maar waar dit vir jou kan werk.

Wouter Snyman, attooh!

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Wouter.