Weg met die verkoue binne 24 uur

0
135
verkoue.jpg

In die winter kry jou immuunstelsel ’n knou. Hier is ’n nuttige gids om in een dag ’n hupstoot te kry.

06:00 Begin die dag met oefening

Namate ’n mens ouer word, is jy meer geneig om siek te word, maar oefening kan help om dit te beveg. Die koue oggende kan ’n mens se motivering laat verkluim, maar kenners meen dit bly die beste tyd om te oefen. Studies toon ook dat mense wat gereeld matige oefening doen, soos vinnig stap of draf, nie so gou siek word nie. Wetenskaplikes skryf dit daaraan toe dat die selle wat bakterieë aanval, vermeerder wanneer jy oefen.

07:30 Gesonde mense eet ontbyt

Studies toon dat mense wat ontbyt eet, minder geneig is om verkoue te kry. Eet ’n houertjie Gero-jogurt (beskikbaar by supermarkte) of meng dit met jou pap. Dié jogurt bevat ’n spesiale Abchasiese kultuur wat die laktiese bakterieë in jou ingewande laat toeneem. Wanneer dit gebeur, word die patogene bakterieë (die kieme wat jou siek maak) minder en dien dit as ’n natuurlike immuunversterker. Die mense van Abchasië, ’n streek in Oezbekistan, word tot 120 jaar oud en hulle lang lewe word aan dié kultuur toegeskryf.

13:00 Eet middagete saam met ’n goeie kollega

Mense met ’n groot vriendekring se kans om siek te word as hulle aan verkoue- en griepvirusse blootgestel word, is kleiner as dié van mense met min vriende. In ’n onlangse studie is ’n groep universiteitstudente ’n griepinspuiting toegedien. Die groep wat die grootste sosiale kring gehad het, se immuunstelsel het beter en gouer op die inenting gereageer as dié van die groep wat ’n klein sosiale kring gehad het. Mense met baie vriende leef ook langer en hulle kans om hartsiektes op te doen is kleiner as dié van mense met min vriende. Kenners meen dit is omdat goeie vriende jou aanmoedig om beter na jouself om te sien, jou ondersteuning bied in moeilike tye en jou selfbeeld verbeter.

15:00 Kry jou dosis vitamien D

’n Sonkolletjie in die winter kan wondere vir jou gemoed doen, maar dit is ook goed om jou weerstand teen kieme op te bou. Glip weg van jou lessenaar af en gaan sit vir ’n paar minute in die laatmiddagson. Volgens ’n groep Deense navorsers is vitamien D (wat sonlig nodig het om vervaardig te word) noodsaaklik om ons liggaam se weerstand teen kieme op te bou. Sonder hierdie voedingstof kan die T-selle – wat kieme en infeksies beveg – nie funksioneer nie.

19:00 Vryf jou troeteldier, want dis goed vir jou

Navorsing toon dat om ’n troeteldier te liefkoos jou weerstand teen infeksies opbou. Dit verlaag jou bloeddruk en laat jou lyf ’n natuurlike hormoon teen stres afskei. Kinders wat saam met troeteldiere grootword, het ook ’n sterk immuunstelsel en sukkel nie so baie met allergieë nie. Dis nie net omdat jou hond of kat jou laat ontspan nie. Studies op troeteldiere en mense se immuunstelsels het nie dieselfde resultate gehad toe die troeteldiere met sagte speelgoed vervang is nie.

20:00 Skakel af jou selfoon, tablet en rekenaar

Probeer om na agtuur saans jou selfoon en ander tegnologiese katoeters uit te los. Twee uur van blootstelling aan ’n skerm wat van agter verlig word, kan lei tot ’n daling van 23 persent in die melatonienvlak. Hierdie hormoon beheer nie net jou slaappatrone nie, maar speel ook ’n belangrike rol in jou immuunstelsel. ’n Afname in melatonien kan tot slaaploosheid lei.Jou kans om verkoue of griep op te doen is drie keer groter as jy sewe uur of minder slaap. Kenners stel voor dat jy tussen sewe en agt uur in droomland deurbring.