Weg van Wysheid en Lewe

Vader ek weet U is die Een wat leef en ons liefhet
Koning van die heelal
God oor alles en almal
U hou die hele wêreld in die holte van U hand

Sal enige iets ooit
Vir U te wonderbaar wees?
Nee is die antwoord
‘n Duisend maal oor

Wat Ek gister gedoen het
Wil Ek ook nog vandag doen sê die Heer
Ek wil hê jy moet kom
Alles in My hand oorgee en My vertrou

Liewe kind jy sal vind
Ek weet waarvan Ek praat
Ek weet wat jy nodig het
Al is daar soveel geraas rondom jou

Die wêreld sê doen dit sus
Ander sê weer doen dit so
Liewe kind kom na My
Op die Weg van Wysheid wil Ek jou lei

Nie net wanneer jy My nodig het nie
Nie net wanneer jy knie-diep in die sop beland nie
Liewe kind Ek wil jou altyd help
Elke dag wat jy bestaan

Kom na My, kom na My
Begin om te doen wat Ek van jou vra
As jy sou kom, as jy net wou begin
Sou jy sien Ek weet so wat die beste is vir jou

Ek het die berge en dale gemaak
Die see en alles daarin
Liewe kind asseblief sal jy kom
My begin vertrou met die nood wat in jou hart woon?

Ek kan alles beter maak … het jy geweet?
Daar is niks en niemand, geen situasie
Wat Ek nie met My liefde kan aanraak en beter maak nie
Geen probleem wat Ek nie kan draai vir My eer nie

Liewe kind, liewe kind
Kom na My
Asseblief
Kom luister na My

Ek wil jou leer
Al die slimheid wat in My hart woon
Voordat hierdie wêreld geskep is
Het dit alreeds bestaan

Ek wil My wysheid met jou deel
Ek wil jou leer die weg waarop jy moet gaan
Liewe kind dis die Weg van die Lewe
Wandel op hom en vir ewig sal jy verseker saam met My wees.