Weigh-Less is op die 2 beginsels gebou

0
24
Mary_Holroyd.jpg

Goeie menseverhoudings en persoonlike kontak is die fondasie waarop Mary Holroyd Weigh-Less gebou het. Na drie dekades pas sy nog steeds dié beginsels toe.

My grootste prestasie tot op datum …

is die MBA-graad wat ek op die ouderdom van 55 behaal het. Ek het die eerste jaar gedruip, en dit het my vyf jaar geneem om die kursus te voltooi. Maar ek het dit gedoen! Ek is op 15 jaar uit die skool (in Engeland); dus is ek baie trots op my kwalifikasie.

Dít maak of breek ’n besigheid ...

Menseverhoudings is die boustene van enige suksesvolle onderneming. As jy nie ’n goeie verhouding met die mense om jou het nie, gaan hulle jou nie vertrou nie. Hulle gaan nie lojaal wees en die pad saam met jou stap nie. Jy gaan ook sukkel om hulle te motiveer.

Dít is vir my ononderhandelbaar ...

om my werksetiek en waardes aan my personeel oor te dra. Hulle is ’n verlenging van my maatskappy se beeld en speel ’n belangrike rol in ons sukses. Almal het nie altyd dieselfde waardes nie en het riglyne nodig oor wat vir jóú aanvaarbare gedrag by die werk is.

Ek het my doel bereik as ...

die groepslede hulle teikengewig bereik. Dis immers waaroor die besigheid gaan. As jy jou teikengewig op ons program bereik, het ons in óns doel geslaag. Hoe meer lede dit regkry, hoe meer leiers het ons wat hulle eie groepe kan begin. En dit is hoe ons die besigheid uitbrei.

Ek bestee baie tyd aan ...

opleiding. Tot 1997 het ek self ons groepleiers opgelei. Dis een van die maniere waarop ek hulle toerus om hulle groepe effektief te bestuur. ’n Groot deel van my dag bestaan ook daaruit om my groepleiers te motiveer en te ondersteun. In dié opsig is ek baie hands-on.

Ek glo onwrikbaar daarin dat ...

daar sekere dinge is wat jy nie deur middel van tegnologie kan regkry nie. Om ’n persoonlike verhouding met iemand op te bou, is een daarvan. Jy moet weet wanneer dit gepas is om ’n teksboodskap of ’n epos te stuur, en wanneer jy self na iemand toe moet gaan.

Een van my grootste uitdagings is ...

om die groepe te laat groei sonder om ’n kapasiteitsprobleem te ontwikkel. Groepleiers kan net ’n beperkte aantal lede per groep hê anders raak dit onpersoonlik. As jou groep te groot is, verloor jy daardie human touch – die spil waarom ons besigheid draai. Een groepleier kan ook net ’n beperkte aantal groepe hanteer.

Om sukses te behaal, moet jy ...

die konsep van jou besigheid so effektief moontlik oordra. In ons geval verkoop ons meer as net ’n gesonde eetprogram. Ons gee mense hóóp. Baie keer is gewigsverlies ’n oplossing vir ’n ander probleem, soos dat jou huweliksmaat jou onaantreklik vind. Jy moet dit by jou kliënte en personeel tuisbring.