Wen die oorlog in jou kop

0
126
oorlog.jpg

Het jy geweet dat ons jare lank in dieselfde hopelose situasie vasgevang kan bly … terwyl die uitkoms tussen ons ore begin? Daar is ’n daaglikse oorlog in jou denke aan die gang.

Janet Snyman was vir meer as ’n dekade ’n regte knorpot. Sy het oor baie dinge gekla en sy het goeie rede gehad. Haar man het haar gelos vir ’n ander vrou, die kinders was onmoontlik en die geld min. Boonop is ’n ernstige siekte by haar gediagnoseer.

Maar een preek het haar denkwyse en uiteindelik haar lewe verander: Jy is wat jy dink en jy word/kry wat jy glo.

’n Eenvoudige begrip, maar dit het Janet laat besef haar negatiewe gedagtes is die rede hoekom sy nie ’n positiewe lewe kon beweeg nie. Sy het besef daar is ’n daaglikse oorlog in haar denke aan die gang. As sy haar manier van dink kon verander, sou haar omstandighede ook begin verander. Sy het besef sy moet meer soos Jesus begin dink.

As ons die oorlog in ons kop wil wen moet ons die voorbeeld van Jesus volg en soos Hy wees.

Jesus was in alle omstandighede positief

Jesus het probleme en persoonlike aanvalle verduur, maar Hy het altyd positief gebly en hoop gegee vir almal wat Hy teengekom het. Wanneer ’n skare mense op Hom toegesak het, het Hy nie gaan wegkruip en gehoop hulle sal verdwyn nie.

Hy het elke keer positief gereageer ten spyte daarvan dat Hy self moeg, honger of uitgeput was. Jesus se positiewe gesindheid was die eerste stap om oor enige situasie te triomfeer. Hy wil hê ons moet dieselfde doen.

Daar kom elke dag derduisende gedagtes by ons op en wat ons met hierdie gedagtes doen, bepaal die impak daarvan op ons lewe. As jy in jou gedagtes vir jouself sê jou lewe sal altyd ’n gemors wees, is dit nie presies wat sal gebeur nie?

Sê eerder: “Ek is uniek geskape met ’n spesifieke doel. My lewe sal weer op dreef kom.” Herinner jouself elke dag daaraan dat jou gedagtes jou woorde word … jou woorde word dit wat jy glo … en wat jy glo, word jou werklikheid.

Jesus was in alle omstandighede hoopvol

Waar daar hoop is, is daar ook ’n uitkoms. Jesus het altyd hoop gehad, want Hy het geweet ’n depressiewe, moedelose gemoed steel ons lewensvreugde, vernietig ons geloof en onderdruk ons geestelike energie. Sonder hierdie drie dinge maak ons dit vir onsself bitter moeilik om God se werking in ons lewe toe te laat.

God beplan vir jou ’n goeie toekoms, maar jou ingesteldheid kan sy werk kragteloos maak. Hoe langer jy jou moedeloosheid verdra, hoe swakker raak jou weerstand en hoe groter word die afstand tussen jou slegte omstandighede en die deurbraak waarna jy smag.

Jesus was in alle omstandighede in kontak met God

Jesus het nie sy gedagtes gerig op wat om Hom gebeur nie, maar op God, omdat Hy gedurig met God in gesprek was. Jesus het dit gedoen wanneer Hy bly, benoud, opgewonde of hartseer was. Hy het dit gedoen omdat Hy geweet het sy gesprekke met God hou Hom naby aan God en sy wil. Deur dikwels met God te gesels, maak ons ons verhouding met Hom persoonlik. En so ’n persoonlike verhouding met ons Skepper is die beste manier om sy bonatuurlike krag in ons lewens vry te stel. As jy hierdie verhouding koester, sal Hy na jou kyk soos ’n liefdevolle Vader na ’n kind.

Jesus het in alle omstandighede God se goedheid geprys

Wanneer ons negatief voel, help dit beslis om te dink aan al die kere wat die Here wel vir ons voorsien het. As jy so negatief voel dat jy aan niks positiefs kan dink nie, lees dan inspirerende boeke, blaai deur voelgoed tydskrifte of kyk TV-programme wat jou help om God se hand in ander mense se lewens te sien.

Prop jou gedagtes vol met opbouende verhale en getuienisse van mense wat uit slegte omstandighede gered is. Leer by hulle en glo die Here het dieselfde vir jou ingedagte. Hy het beslis, maar dit begin met jou ingesteldheid.

Jesus was in alle omstandighede vreesloos

Hy het verstaan dat vrees ons geloof lamlê. Vrees is geloof in trurat. Sonder geloof kan ons nie aanspraak maak op God se seën in ons lewe nie. Dit is skokkend om te weet God reageer nie op ons omstandighede nie. Hy reageer op ons geloof.

Dit help niks om jouself te bejammer nie. So ’n ingesteldheid gaan nie maak dat die Here jou jammer kry en uit jou situasie lig nie. Vra Hom om jou te help en glo dat Hy dit wel kan en sal doen. Jou geloof is wat God tot aksie laat oorgaan.

Jesus was in alle omstandighede dankbaar

Om dankbaar te wees, stel vreugde vry – en vreugde laat ons vol hoop voel. Hoop laat ons geloof toeneem; geloof maak die deurbraak moontlik. Al val jou lewe vandag uitmekaar, doen moeite om dinge te soek waaroor jy dankbaar kan wees.

Span die grysstof tussen jou ore in … Kies om positief te wees, al het jy rede om te kla. Kies om blymoedig te wees, al het jy rede om te huil. Kies om hoopvol te wees, al lyk jou toekoms donker. Kies om te glo.