Wen hom met jou woorde

0
72
Greha Wiid

Vroue wil graag hê hulle mans moet voortdurend bou aan ’n verhouding met die kinders. Baie pa’s wil, maar weet eenvoudig nie hoe nie.

 

lyn_3.png

GRATIS E-BOEK

Mamma het ‘n breuk nodig

In Mamma het ’n breek nodig maak Susan Coetzer vensters oop op ’n ma se wêreld. Op pittige wyse praat sy oor tye soos wanneer haar enigste kuiken saam met sy pêlle oorsee gaan vakansie hou en die lewenslesse wat sy by ’n vyfjarige dogtertjie kon leer.

Kliek HIER en laai hierdie e-boek GRATIS af.

lyn_3.png

Huwelikskenner: Gretha Wiid

Vroue wil graag hê hulle mans moet voortdurend bou aan ’n verhouding met die kinders. Baie pa’s wil, maar weet eenvoudig nie hoe nie.

Kom ons wees eerlik: Ons sukkel soms om te kies tussen ons kinders en ons mans. Ons sê nie verniet nie: “Sukkel met my kinders, en jy kry met my te doen.” Dit is ook soms waar wanneer Pappa die skuldige is…

Ons besef nie aldag die impak hiervan op ons huweliksverhouding nie. ’n Vrou wat voel haar man is emosioneel afwesig, fisies onbetrokke, onbillik of te streng met die kinders, plaas geweldige stremming op ’n huwelik.

Onopgeloste kwessies kan verander in wrewel

Aanvanklik raak vroue dalk gefrustreerd of teleurgesteld omdat hulle drome en verwagtinge van die pa-kind-verhouding nie realiseer nie. Dan maak ons die fout om tussenbeide te tree. Ons paai die kinders om stil en rustig te wees om die vrede in die huis te bewaar. Ons manipuleer hulle emosioneel in ’n poging dat Pa tog net die kinders moet raaksien. Ons gaan slaap kwaad, vee krapperigheid onder die mat in en bid stilletjies dat God tog asseblief moet ingryp – ter wille van die kinders én die huwelik.

Maar hierdie onopgeloste sake verander later in wrewel en selfs passiewe aggressie. Sulke emosies lê soos modder op ’n dam- of rivierbodem – die water lyk miskien helder en stil, maar ook net totdat die regte emosies aangeroer word. Dan kom die stukkies gemors na die oppervlak en vertroebel die water.

Die uiteinde is dat Ma met die kinders ’n verenigde front teen Pa vorm. Nie doelbewus nie, maar bloot omdat ons harte so graag die beste vir ons kinders wil hê en hulle wil beskerm. Die ironie is dat baie mans hulle dan juis onttrek, en strenger en kwaaier raak met die kinders of emosioneel afgestomp raak. Uiteindelik sit ons met ’n leë nes en ’n leë huwelik omdat die wrewel skielik ontbloot word. Die kinders hoef nie meer beskerm te word nie.

[VIDEO] Gretha Wiid: Hoe vertrou ek weer na ‘n affair?

Gee raad sonder om soos ’n ma te klink

Daar is baie pa’s wat getuig dat hulle self ’n swak verhouding met hulle eie pa’s gehad het. Daar was nie ’n goeie voorbeeld van liefdevolle fisiese kontak, deel van emosies en diep pa-seun-gesprekke nie. Al hierdie mans erken hoe nodig hulle dit gehad het. Die meeste pa’s smag eintlik na ’n hegte verhouding met hulle kinders, maar hulle is ongemaklik, want hulle nie weet hóé om anders te wees nie.

Jy hoef nie soos ’n ma te klink as jy met jou man praat nie, maar hy het tog jou liefdevolle en diplomatiese raad nodig. Jy mag Sussie se inkleurwerk vir hom uitwys en vóór haar vra: “Liefie, het jy gesien hoe mooi het sy dit gedoen?” Selfs met jou tieners mag jy noem dat dié of dáárdie kuiken ’n klop op die skouer of ’n drukkie nodig het.

Gee erkenning vir alles wat hy reg doen

Manne het erkenning en respek broodnodig. En die plek waar hulle erkenning kry, word die plek wat hulle oor en oor besoek. Dit beteken geweldig baie vir hom as jy dankie sê vir sy mooi woorde of die drukkie wat hy uitgedeel het. Hy wil hoor dat die kinders blom onder sy aandag en liefde! Maar as jy hom gedurig afkraak en kritiseer, gaan jy die stryd waarskynlik vir altyd verloor.

Mans wil weet watter spesifieke eienskappe van hulle pa-wees uitstaan. Woorde soos “Jy laat dissipline so maklik lyk,” of “Ek is so dankbaar die kinders het jou humorsin geërf, die kinders geniet jou geselskap en raad so baie, jy is ’n wonderlike voorbeeld vir hulle” is soos reën op dorre grond. As jy dink jy kan hom omkoop met dit wat hy kán wees en móét wees, maak jy ’n fout. Skimpe met mans val op dowe ore!

Dit is nie ’n kitsresep vir wonderwerke nie, maar definitief ’n goeie begin. Kom ons steek die hand in eie boesem. Breek jy meer af as wat jy opbou? Gee vandag vir jou man die erkenning wat hy nodig het. Wees wys, gefokus en sien die saak vir wat dit is. Hy is nie net die pa van jou kinders nie – hy is jou man!

lyn_3.png

KOOP

Vroue Wat Glo Tydskrifboek

Finesse se Vroue Wat Glo Tydskrifboek bied jou al die inhoud om jou gees te detoks en weer op die regte dinge te leer fokus, met ’n luukse volkleurontwerp!
Eksklusief beskikbaar by uitgesoekte Pick n Pay-winkels, tot 30 Junie.
Ook beskikbaar aanlyn op Voelgoedwinkel.co.za. Kliek hier.

lyn_3.png