Wenke om by ‘n nuwe mamma te kuier

Ek ken nie een persoon wie se gesig nie ophelder as hulle ‘n pasgebore baba sien nie, so dis natuurlik dat wanneer iemand ‘n nuwe baba huis toe bring, almal die klein mensie wil ontmoet en vashou.

Siende dat ek so maand terug my seuntjie gekry het, het ek ‘n paar wenke vir wanneer jy vir ‘n nuwe mamma en haar baba gaan kuier.

1. Vra eers

Daardie eerste paar weke gaan maar rof in die huis van nuwe ouers, of dit nou hulle eerste of derde kind is, so hoor maar eers wanneer hulle reg is vir kuiermense. Onthou die mamma se hormone ry wipplank die eerste paar weke so sy mag dalk die dag omhuil of nie lus wees om haar hare te was nie, so om kuiergaste te onthaal is dalk laaste op haar lysie vir die dag.

2. Bring eetgoed

Kos (gesonde kos) is heel laaste op die lys van nuwe ouers, so wanneer jy inloer, probeer om iets vir aandete te bring, of net ‘n lekker peusel happie wat mamma kan aan smul. Net nog ‘n wenk – maak seker van die verval datum as jy ietsie koop by ‘n winkel, die ouers mag dalk eers later die kossies kan eet en ‘n suur dis wanneer mens honger is, is nie lekker nie.

3. Tyd

So lekker soos wat dit is om by die nuwe baba te kuier, hou die kuiertjie maar kort. Hulle mag dalk nie dit verbaliseer nie, maar ‘n kuiertjie langer as ‘n uur is te lank.  Onthou hulle slaap is min, en om mense te onthaal is stresvol. Ek sal voorstel dat wanneer jy gaan kuier binne die eerste 6 weke (al bring jy kossies) dat jy nie jouself nooi om saam te eet nie, laai dalk net af of drink ‘n vinnige koffie, daar sal wel tye wees vir kuier in die toekoms.

4. Help

Bied dalk aan om die tee te maak of gou skottelgoed te was vir die mamma. Die feit dat iemand hulle koppies kombuis toe vat en sommer uitspoel na ‘n kuiertjie doen wonders vir ‘n nuwe mamma. As jy jou kinders saam bring en hulle het lekker gespeel, ruim asseblief op voor julle ry. Daar is niks wat ‘n mamma so mismoedig maak soos ‘n deurmekaar huis nie. Nuwe mammas voel soms oorweldig so probeer help waar jy kan.

5. Wees sensitief

Vra gerus vir die mamma om te vertel van die geboorte en enige stories wat sy wil vertel. Dit gaan haar help om deur alles te werk, maar wees sensitief. As die mamma sukkel om te borsvoed, moet liefs nie vir haar vertel hoe jou melk in liters uitgekom het nie. Probeer om nie jou storie met haar storie te vergelyk nie, dis nou hulle tyd en ek kan jou belowe sy voel reeds skuldig oor tien ander irrasionele dinge van ma-wees dat jou sukses stories haar net dalk erger mag laat voel oor haarself.

Elke mamma is anders en dalk verkies sy om nie alleen te wees nie of wil graag kuiergaste oornooi vir ete, maar my raad is om nuwe mamma en baba kans te gee om mekaar te leer ken en vir die mamma om haar voete te vind. Voor jy weet is die eerste 6 weke verby en jou vriendin / suster / kollega voel weer mens.

Vorige artikelMevrou Doeminie wonder oor VRESE en VREDE
Volgende artikelJesus se vergifnis hou net aan en aan
Blogger - Izelle Joubert
Ek is ‘n mamma van 'n vrye gees en lawwe dogtertjie van drie jaar oud en het 'n passie vir skryf en ma wees. Nadat die Here my hart aangeraak het om die korporatiewe wêreld en gejaag te veruil vir ‘n deeltydse werk, het ek my passie vir skryf herontdek. Ek het 'n honeurs graad in Bedryfsielkunde en is 'n geregistreede Psigometris by die HPCSA, maar die mees vervullende werk vir my is dié van vrou en ma wees. Ek is al 9 jaar getroud met Donavan en ons het wortels geskiet in Kempton Park. Ek het 'n hart vir ander mammas omdat dit ‘n lekker, maar moeilike taak is. Ek is baie lief vir die Here en is mal oor die talent van skryf wat Hy vir my gegee het. Sodoende wil ek graag eerlik met mamma’s kan praat oor die moeilike en lekker dele van mamma wees, niemand is die perfekte ma nie en ons almal kan by mekaar leer.