Wenke om meer selfsversekerd te lyk

0
90
lyftaal

Maak seker mense “lees” jou lyftaal reg en dat jou nieverbale kommunikasie selfversekerheid uitstraal. Ons het vir jou  wenke wat dadelik 'n verskil kan maak.

Maak seker mense “lees” jou lyftaal reg en dat jou nieverbale kommunikasie selfversekerheid uitstraal. Ons het vir jou  wenke wat dadelik 'n verskil kan maak.

1. Glimlag meer. Wanneer jy glimlag lyk jy dadelik meer aantreklik en betroubaar vir mense. Fisies kan ʼn glimlag wondere vir jou doen, jou hart klop stadiger en jou liggaam ontspan. ʼn Glimlag stel ook goed voel hormone vry wat die streshormone bietjie teenwerk. Belangrikste van alles, ʼn glimlag is aansteeklik. So volgende keer wanneer jy in ʼn vertrek vol mense instap, glimlag breed en maak seker jy kyk mense in die oë as jy hulle groet. Jy sal sommer voel jy het meer selfvertroue.

2. Jou postuur verklap baie. Jou ma het nie verniet van kleinsaf vir jou gesê sit en staan mooi regop nie. Gaan kyk gerus na mense se manier van staan en loop. Jy sal intuïtief voel dat iemand wat regop staan, met hul skouers agtertoe en hul kop op, meer selfvertroue uitstraal as iemand wat “slouch” soos die Engelse dit so goed stel.

3. Maak altyd ʼn positiewe indruk. Met ʼn bietjie oefening kan jy jou lyftaal aanpas volgens jou omstandighede. Wanneer jy bv. jou stem moet laat geld teenoor ʼn moeilike persoon, maak seker jy praat in vol sinne. Kyk die persoon vir langer as nodig in die oë. Indien moontlik staan en kyk af op die ander persoon. Wanneer jy weer met iemand te doen kry wat jy nie wil intimideer nie en wie se vertroue jy wil wen, moet jy seker maak jy glimlag meer en probeer op dieselfde vlak te wees as jy met die persoon praat. Behou ook oogkontak maar nie so lank op ʼn slag nie. Praat net ʼn bietjie stadiger en sagter.

4. Maak jou lyftaal ʼn spieëlbeeld . Wanneer jy graag iemand wil oorhaal tot jou standpunt, maak seker die ander persoon weet jy luister deur jou kop te knik, te glimlag en oop handgebare te gebruik. Moenie jou afsluit van die ander persoon deur jou arms voor jou te kruis nie. Weerspieël ook die ander persoon se lyftaal, deur bv. effens vorentoe te sit as die persoon dit doen, saam te glimlag as die ander persoon glimlag.

5. Onthou jou arms en bene. Baie mense kan verkeerdelik dink dat jy jouself afsluit deur jou arms te kruis of dat jy nie van ʼn persoon hou of nie saam met die persoon stem as jy jou bene kruis of in ʼn rigting weg van die spreker draai nie. Dit is nou maar eenmaal die persepsie wat mense het. Konsentreer om dit dan liewers nie te doen nie. 

6. Moenie aan jou gesig vat of met jou hare speel nie. Dit mag lyk of jy senuweeagtig is of glad nie na die gesprek luister nie.

7. Kyk altyd op, tensy jy notas moet vat natuurlik. Iemand wat die heeltyd afkyk kan die indruk skep dat hulle nie genoeg selfvertroue het om die wêreld in die oë te kyk nie.

8. Doen alles net so bietjie stadiger van praat tot by loop. Jy sal sommer dadelik lyk of jy kalm en selfversekerd is. Jy sal ook meer ontspanne voel.

9. Konsentreer daarop om nie die heeltyd te sit en vroetel met jou hande of een of ander beweging die heeltyd te herhaal nie. Wanneer jy wel ʼn spreekbeurt kry, gebruik handgebare om jou saak te beklemtoon, maar doen dit doelbewus. Vra iemand na aan jou om jou te help om enige gewoontes wat jy het, soos om bv. die heeltyd met jou voet op die grond te tik, te identifiseer en oefen dan om dit uit te skakel.

 

 

DEEL
Vorige artikel7. Wat praat jy met jouself?
Volgende artikel9. Ooreet jy aan “gesonde” kosse?
This is the "wpengine" admin user that our staff uses to gain access to your admin area to provide support and troubleshooting. It can only be accessed by a button in our secure log that auto generates a password and dumps that password after the staff member has logged in. We have taken extreme measures to ensure that our own user is not going to be misused to harm any of our clients sites.