Wenners

Die afgelope naweek het die eindstryde van die Wimbledon tennistoernooi in Engeland asook die Wêreldbeker sokkertoernooi in Rusland ten einde geloop toe die finale beslis is.

Geleenthede waar die bestes van die bestes sake vir die trofeë kon uitpook en die wenners die bekers omhoog kon lig met die wete hulle name is vir ewig in die rekordboeke aangeteken.

Of ons sportliefhebbers is al dan nie, ons het bewondering vir die individue en spanne wat gewen het. Jy wen nie ‘n internasionale toernooi in enige sport formaat bloot net op grond van jou aangebore talent nie. Toewyding, dissipline, opofferings, regte eetgewoontes en goeie afrigting speel net so ‘n belangrike rol.

Daar is altyd iets te leer by mense wat presteer in hulle vakgebied, hetsy in sport, beroepslewe, as ouers, afrigter, student op universiteit, ensomeer. Met verwysing na die naweek se tennis- en sokker eindstryde wat plaasgevind het, het ek weer die volgende geleer:

Angelique Kerber

Op 32 jarige ouderdom is dié Duitser die oudste vrou wat daarin kon slaag om die Wimbledon tennistoernooi vir die eerste keer te kon wen. Volgens kommentators was daar voorheen na haar verwys as die vrou met die meeste potensiaal, maar wie net nie daarin kon slaag om ‘n groot toernooi soos Wimbledon te kon wen nie. Die afgelope naweek het sy egter haar potensiaal ten volle bereik.

Ons sit dikwels alles in ons beroepslewe, in ons rol as ouers of sommer net ons daaglikse oefeninge net om nie die verlangde resultate binne ‘n redelike bestek te sien nie. Dit is nie dan tyd om handdoek in te gooi nie, maar vas te byt in my toewyding, dissipline, opofferings, geduld, uithouvermoë, fokus en visie.  Met die leiding van die Heilige Gees is dit dalk nodig om net geringe verstellings te maak (wysheid) sodat ek die verlangde resultate kan verkry.

Ons geestelike groei vereis eweneens ‘n lewe van toewyding, dissipline en opofferings. Dit is derhalwe belangrik dat ek ‘n visie vir my geestelike lewe sal hê sodat ek my toewyding en dissipline in daardie rigting kan aanwend. Ek kan tog nie ‘n huis bou sonder dat ek ‘n plan het hoe die huis by voltooiing moet lyk nie.

Novak Djokovic

Gedurende Mei vanjaar het ek juis oor hierdie tennisspeler, wat van Serwië afkomstig is, geskryf. ‘n Man wat eens die wêreld se nommer 1 tennisspeler was, maar wie se loopbaan gedurende 2017 weens knaende beserings ‘n ernstige knou gekry het. Vroeg vanjaar het hy tot die 12de plek op die tennisranglys teruggesak.

Toe hy vroeër vanjaar deur ‘n speler wat 109ste op die ranglys is, geklop is, het hy tydens die perskonferensie aangedui dat hy volle vertrou in die proses het wat gevolg moet word en hy glo dat dit hom in staat sal stel om weer die wêreld se beste tennisspeler te word. Wel, die afgelope naweek het hy die mans enkelspel kampioen op Wimbledon se grasbane geword.

Die uitdaging is dus om die neergelegde beginsels in God se Woord te vertrou en daarby te hou ondanks jou emosies. Jy kan die beste jy wees. Stel jou vertroue in Hom en vertrou die proses.

Kroasië se sokkerspan

Kroasië se sokkerspan het die afgelope naweek in die eindstryd van die wêreldbeker sokkertoenooi gespeel. Alhoewel hulle nie as oorwinnaars uit die eindstryd getree het nie, het hulle nietemin die verbeelding aangegryp met die vegtersgees wat hulle aan die dag gelê het. Met die aanvang van die toernooi het niemand verwag dat hulle eens die eindstryd sou haal nie.

Kroasië is voor 1992 deur ‘n Kommunistiese bewind gekenmerk. Vanaf 1992 tot 1995 het die sogenaamde Bosniese oorlog tussen Serwiërs, Kroate en Bosniërs plaasgevind met van die bloedigste gevegte in Europa sedert die tweede wêreldoorlog. Dié oorlog is eers in 1995 beeindig.

Alhoewel die Kroasiese sokkerspelers deel was van die elllende wat deur die oorlogsituasie in hulle land meegebring is, het hulle bo hulle omstandighede uitgestyg en gewys dat hulle as oorwinnaars daaroor kon triomfeer.

Ongeag die geestelike oorlog waarin ons ons daagliks bevind moet ons die dag betree met die wete dat Jesus reeds aan die kruis die oorwinning behaal het. Ons lewe dus vanuit ‘n posisie van oorwinning en nie nederlaag nie. Hou vas aan elke belofte in die Woord en weet dat die Een wat in jou woon groter is as die een wat teen jou is. Met God aan jou kant is jy die meerderheid.