Wens ‘n mens

Soos ‘n mens ouer raak besef jy al hoe meer die waarde van dinge waaraan jy nie regtig aandag gegee het nie. Of liewer, dinge wat voorheen belangrik was, volgens jou, het na die agtergrond geskuif.

Ek verstaan hoekom mense altyd se hulle voel nog jonk, maar die lyf wil nie saamspeel of jy lyk nie meer soos in jou jeug.  Daar is niks wat jou so vinnig aarde toe bring soos ‘n nuwe plooi, ‘n ekstra rekmerk, ‘n ekstra dimpel op die boud of ‘n vars spataar nie.  Uiterlike vergaan sê die spreekwoord, so wat het jy dan oor wat vir jou die betekenis en sin in die lewe gee.  Ek sê nie dat jy nie na jouself moet omsien nie. Soos my Pa altyd sê, daar is niks mooier as ‘n goed versorgde vrou.  Jy het mos so stukkie trots vir jouself en darem seker ook vir jou man sodat hy nie met ‘n balaklava langs jou in die mall hoef te stap nie.

So gepraat van aarde toe bring. Ek begin sien toe al hoe meer van hierdie ou aartjies wat vorm op my bene. SPATARE. Nou kyk. Ek verstaan dat alles nie meer dieselfde kan bly nie, maar ai, ek vat liewer nog ‘n plooi as so aar. Die aard van my werk help verseker nie die situasie aan nie, ook nie gene nie.  My Dokter-Oom het vir my mooi verduidelik dat die enigste ding wat eintlik regtig werk om dit te voorkom is “compression stockings”.  ‘Right’. Ek het vir “compression stockings gekoop  Die feit dat ons net so duskant die son bly is natuurlik nie ‘n positiewe punt vir my nuwe plan-van-aksie nie.  Die volgende dag dra ek vir kouse.   Die besigheid is styf, en jy trek dit op tot net so onder jou longe. O  N  G  E  M  A  K  L  I  K.  Vir hulle sal ek dra vandag. Dit was ‘n tipiese 40 grade dag, maar ek is braaf. Nie nog ‘n aar sal haar verskyning maak.  Teen die einde van die dag, semi blou in my gesig, skeur ek amper daardie kouse van my af.  Twyfel of ek nog so dag sal oorleef. Net daar besluit ek, as my (jonger) man my spatare as ‘n kaart wil gebruik om vir hom ‘n ander wyfie te gaan soek, ‘be my guest’ maar ek sal eers weer my “compression stockings” in die winter dra.

Alles aan jou maak jou tog eintlik wie jy is.  Dit is amper soos medaljes aan jouself. Jy het gelewe en daar is soveel belangriker dinge as om heeltyd te wonder:  “Spieëltjie spieëltjie aan die  wand,  wie is die jongste, mooiste, maerste, vinnigste, slimste, snaakste in die land?”  Niks van dit waarna jy streef, indien dit jou strewe is, maak meer saak as jy besef die belangrikheid van ware geluk nie. Gesondheid.  Familie.  Geborgenheid. ‘n Verhouding met die Here. Omgee.  Hoe meer jou karakter gevorm en geskaaf word deur die lewe, hoe mooier raak jy van binne. Dit skyn later deur. Deur al die uiterlike gleufies en groefies en gaatjies en merke.  Jy kan die duurste, beste grimering dra, as jou hart lelik is gaan dit jou uiterlike beïnvloed.  Jy kan jou mooiste voet in die duurste skoen voorsit, as jy op vals note leef gaan jou lewensdeuntjie vals weerklink.

Al hoe meer en al hoe meer hoor ek, lees ek, dat jy moet meer soos Jesus moet (wil) raak. Wat ‘n taak is dit nie. Hoe meer jy smag om Hom te gehoorsaam, na Sy stem te luister, Sy wil vir jou lewe te begin insien, hoe minder gaan jou wêreld net om jouself wentel.  Daar is so baie mense wat ander mense nodig het.  Wees daardie mens.  Hartseer, alleen, siek, afgemat, depressief, bekommerde mense wat dalk sê: “ Ek wens ‘n mens.  Maak 2019 meer oor ander en minder oor jou, en sien God se guns, genade en liefde jou meer en meer omvou.  WEES hierdie jaar in plaas daarvan om net te bestaan en te staan net vir jouself.

#wens’nmens