Werk jou “knyp-spiere” nie meer nie?

0
18
keggel.jpg

Swangerskappe en geboorte skenk laat jou bekkenvloerspiere verswak. Die spiere in jou bekkenvloer help om urienvloei te stop. As daardie spiere verswak het, kan dit veroorsaak dat jy nie kan knyp nie.

Bekkenvloerspiere reageer baie goed op oefening. Jy sal dus baie beter beheer oor jou blaas hê as jy gereeld oefeninge vir die spiere doen. Die volgende oefening is ideaal om die spiere van jou bekkenvloer – en sommer ook jou boud- en bobeenspiere te versterk en wat ’n bonus is, is dat jy dit kan doen terwyl jy met jou kleinding speel.

Lê plat op jou rug op die vloer of op jou bed. Laat baba met sy maag en bolyfie dwarsoor jou maag lê, met sy voete aan jou linkerkant. Kruis jou regterbeen oor jou linkerbeen. Hou jou baba liggies vas terwyl jy jou heupe effens na regs draai en terselfdertyd jou boud-, bekken- en bobeenspiere saamtrek (“knyp”). Hou die posisie 5 tellings lank en keer terug na die beginposisie. Herhaal ’n paar keer na dieselfde kant, plaas baba langs jou regtersy en herhaal na die anderkant. Doen dit elke dag.

Jy kan oefeninge vir die bekkenvloerspiere ook doen terwyl jy sit en TV kyk, in die motor ry of agter jou lessenaar sit. Trek die spiere van jou bekkenvloer saam (of “knyp”).  Probeer die spiere saamgetrek hou vir 10 sekondes voordat jy ontspan. Herhaal ’n paar keer deur die dag. Hoe meer gereeld jy dit doen, hoe vinniger sal die spiere versterk. Dit werk!

Geskryf deur Linda Kriel