Werk lekker saam met jou kollegas

0
261
kollega.jpg

Milanie Vosloo het haar eie reklamemaatskappy. Sy gee top wenke oor goeie verhoudings by die werk.

Jare gelede het ’n jong Milanie die kans gewaag en Uppe Marketing begin – in haar motorhuis. Nou, byna 30 jaar later, spog sy met kantore in Kaapstad en Johannesburg, asook 22 voltydse werknemers.

Dit is nogal indrukwekkend vir ’n vrou wat openlik is oor haar Christenskap in die sakewêreld. Maar sy glo dis reeds weens haar hart vir ander dat sy vandag ’n uitsonderlike leier is. “Volg hierdie vyf wenke vir goeie besigheidsverhoudings met kollegas en kliënte, want daarsonder sal jy nooit bo uitkom nie.”

Belê in werksverhoudings

Of jy van jou kollegas hou of nie, daar sal soms konflik wees. Belê gereeld op ’n lekker manier in hulle lewens. Kuier gerus saam oor middagete of teetyd. As daar konflik kom, help die gedeelde positiewe energie julle om op die probleem te fokus. Die verhouding ly dan nie skade nie. Onthou: Lank nadat mense vergeet het wat jy gedoen het, onthou hulle steeds hoe jy hulle laat voel het.

Prys jou kollegas

Almal is onseker, veral oor hulle bydrae by die werk. Wys jou kollega se prestasies uit wanneer sy iets goeds of kreatiefs doen. Gee eerlike erkenning aan haar en maak seker sy verstaan hoe haar optrede jou en ander se lewens verryk. Sy sal floreer en selfs harder werk.

Probeer eers verstaan

Ons wil almal verstáán word. Probeer egter eers om te ander begryp voordat jy verwag dat jou standpunt ingesien moet word. Fokus daarop om jou kollegas te leer ken. As jy haar agtergrond verstaan en weet wat haar motiveer, sal jy beter verstaan waarom sy op ’n spesifieke manier optree. Dink jou in hoe dit sou wees om in haar skoene te staan. So word dit makliker om oor die weg te kom en saam te werk.

Vier julle verskille

Elke mens is uniek. Waar jy dalk swak is, is jou kollega moontlik sterk. En so vul julle mekaar perfek aan by die werk. As jy weet wat jou sterk punte is, kan jy openlik leiding neem in daardie area van die werk. Wanneer elkeen in die span weet waar sy inpas, val alles soos ’n legkaart in plek. Elke persoon se inset verseker ’n beter eindproduk.

Laat konflik julle sterker maak

Daar is dikwels misverstand by die werk, want elkeen het haar eie persoonlikheid, standpunt en metode van werk. Leer om te luister na wat jou kollega sê voor jy reageer en jou opinie lug. Dis ook goed om al die gedagtes op die tafel te sit of op ’n wit bord te skryf, en dan objektief daarna te kyk. Dit kan emosies ontlont. Maak seker almal fokus daarop om die probleem op te los en die groter prentjie te sien. As julle mekaar persoonlik aanval, sal daar niks opbouends kan gebeur nie. Dink wat die beste vir die maatskappy is, want so sal jy nog lank seker wees van ’n werk.

ʼn Oomblik met God is Milanie Vosloo se nuwe Bybeldagboek, geskryf vir besige vroue. Sy spog met sewentien suksesvolle boeke op haar naam. Die manier waarop Milanie haar reis deur die alledaagse lewe, veral as besigheidsvrou, met vroue deel is ’n inspirasie vir duisende. Hierdie Bybeldagboek is ’n moet-hê vir elke vrou. Word versterk en wees die rots op wie kollegas, vriende en jou familie kan reken, omdat jy naby Hom lééf. leesfeesvirjougees.co.za