Werk v. plesier: Hoe kry ek balans?

0
60
werk balans

Daardie balans tussen jou werk en jou persoonlike lewe bly ’n gesukkel. Die goeie nuus is: Jy kan maar die weegskaal bêre! Kry só ’n gelukkige lewe.

Daardie balans tussen jou werk en jou persoonlike lewe bly ’n gesukkel. Die goeie nuus is: Jy kan maar die weegskaal bêre! Kry só ’n gelukkige lewe.

Werk is deel van jou lewe, en jou persoonlike lewe is deel van jou werk. Jy kan nie regtig die twee skei nie. Maar passie vir die lewe en geluk kan jy bloot hê as jy weet wat jou doelwitte is en watter keuses na jou doelwitte sal lei.

Stap 1: Evalueer jouself en jou lewe deeglik

Jy moet weet wat jou gelukkig en ongelukkig maak – dit is ’n deurslaggewende stap op jou pad na geluk.

Trek ’n pen en papier nader en besluit waarvan hou jy in jou lewe en in jou werk. Is daar dalk iets wat jy kan verbeter sodat jy nog gelukkiger kan wees?

Om dit makliker te maak, kan jy dink aan wat jy sou doen as jy net ’n jaar oorgehad het om te leef. Wat sou jy anders doen?

Stap 2: Maak seker die belangrike dinge geniet voorkeur

Nou dat jy weet watter dinge jou gelukkig en ongelukkig maak, besluit wat vir jou die belangrikste is. Skryf elke moontlike prioriteit in jou lewe neer, in geen spesifieke volgorde nie. Verkort dan jou lys tot die vyf belangrikste dinge.

Elke vrou se lys sal anders lyk, maar jy kan dink aan jou kinders, jou man, jou gesondheid, werk, finansies en vriende. Gaan gereeld deur jou lysie, want dit sal wel mettertyd verander.

Wat jy ook al gedurende jou dag of jou week doen, onthou jou prioriteite. Dít is wat belangrik is, dít is wat jou gelukkig maak – nie die ander krisisse en krapperighede wat jou oorkom nie.

Stap 3: Maak elke dag ’n lekker dag

Party dae is aaklig, party gemiddeld en ander is lekker. Haal maar weer die pen en papier uit en maak ’n lysie van die kerndinge wat jou dag goed laat verloop.

Miskien kan jy nie sonder meditasie en gebed nie. Of dis vir jou belangrik om elke dag komplimente uit te deel. Jy floreer dalk op daardie gimsessie of ’n netjiese lessenaar.

Begin met een ding en doen dit vir ’n week. Doen die volgende week beter, totdat jy dit elke dag doen. Pak dan die volgende item op jou lysie. Jou lysie is spesifiek, meetbaar en realisties. Jy sal nie glo hoe goed dit jou sal laat voel nie!

Stap 4: Kry die regte strategie vir jou planne

Dit is eintlik verstommend hoe baie van ons sonder ’n plan leef. Jou lewe raak dan soos ’n blaar op ’n rivier. Onthou dat strategie en geluk hand aan hand loop.

Maak 20 tot 30 minute tyd oor die naweek om jou week te beplan. Besluit watter projekte jy moet aanpak en maak (reg geraai!) ’n lys. As jy dit nie doen nie, verdwyn jou dag in ’n dwaal van dringende dinge.

Stap 5: Bespreek jou lysies oor ’n koppie koffie

Die meeste mense kan met iets volhou vir ’n paar dae of ’n paar weke, maar verval mettertyd weer in hulle ou gewoontes. Gesels elke vier maande of so met iemand wat jou goed ken. Gaan saam deur die dinge wat nie werk nie. Kyk of al jou lysies en planne nog op dreef is.  

Geluk is ’n kasteel, en dit word baksteen vir baksteen gebou. Gee jouself tyd om aan die gelukkige lewe te bou wat jy vir jouself beplan, die lewe vol persoonlike en professionele geluk.