“Wie ek is, is heeltemal genoeg”

2707
Natasha Sutherland

Vir Natasha Sutherland lê geluk en tevredenheid in klein goedjies: ’n sonsondergang, lawwe oomblikke saam met haar kinders, die reuk van suurlemoen… In plaas van om ’n meester van bekommernis te word, kies sy om anders na die wêreld te kyk.

Jy lyk so sterk. Is dit hoe jy voel?

NATASHA Geensins! Dit was nogal ’n rowwe jaar. Ek het baie met angstigheid gesukkel. Dis ’n verskriklike ding. Dit suig jou in ’n diep gat ver van God, liefde en vrede. Veral snags sou die gedagtes kom: Is my kinders veilig? Het ek die regte skole gekies? Wat as ek oud word sonder ’n sent op my naam?

Tot die dag van my dood sal ek seker maar oor Seb (16) en Ben (14) bekommerd wees. Dit is deel van moederlike instink, maar wanneer hierdie gedagtes jou keer om te funksioneer, raak dit ’n probleem.

Blykbaar neem dit tienduisend uur se oefening om ’n kuns te bemeester: viool, fotografie, kolwyntjies bak… Êrens deur die loop van die jaar het ek ’n meester geword.

Hoe beskerm jy jou geluk teen vrees?

NATASHA Na so baie ure van bekommerd wees, het my brein amper al gewoond geraak daaraan om op die uitkyk te wees vir die volgende ding wat uit die boks kan spring en verkeerd kan loop. Alles wat verkeerd kan loop, het ek al aan gedink nog voor dit eers ’n moontlikheid op die horison was.

Om van hierdie angstigheid ontslae te raak, moes ek eers bewus word van my gedagtes. Dan sou ek die volgende woorde oor en oor herhaal: “Ek is genoeg, ek het genoeg gedoen, ek doen genoeg en ek wil soveel moontlik van hierdie tevredenheid ervaar as wat ek kan.”

Natuurlik raak ek steeds nou en dan angstig, maar deur gebed, draf en terapie het ek begin om my vrese beter te bestuur.

Waar kry jy krag wanneer jy hulpeloos voel?

NATASHA Midde-in my ma se siekbed het ek onthou hoe ek en Steve eenkeer met ’n skoolhoof gaan praat het oor ’n boelievoorval waarin een van ons kinders betrokke was. Vooraf het ons strategie gesels: Ek sou die good cop wees, want dis wie ek is – sag en goedgeaard, bietjie vervelig. Steve sou as die bad cop inspring as dit nodig sou wees.

Maar toe dit daardie oggend vir my voel ons bekommernisse word nie ernstig opgeneem nie, het daar hierdie krag in my gekom.

Die onregverdigheid van alles het my net daar beheer laat neem. Steve se bad cop was nie nodig nie. Die dag as dit regtig nodig is, kan ek ’n ninja warrior wees. Ons is baie sterker as wat ons besef.

Dink jy kennis van jouself dra by tot geluk?

NATASHA In tye soos daardie, maar eintlik altyd, is dit vir my belangrik om te verstaan hoekom sekere dinge my ontstel. Bestee ek my energie aan dinge wat goed vir my is of dreineer dit my van lewenslus? Dit is vir my belangrik om ook my skadukant te ken, en ek moedig ook die seuns aan om al hulle fasette te ontdek en te omhels.

Daar moet egter ’n balans wees. Te veel selfondersoek is ook nie goed nie. Dit het die vermoë om jou te verteer. Daar moet ’n balans wees tussen die bewus-wees van wie jy is, hoe jy aanmekaargesit is en hoe jy funksioneer. Die lewe het my nodig, jou nodig, ons nodig, anders sou ons nie hier gewees het nie. Vir my is dit amper ’n kwessie van vind jouself, verloor jouself.

Is mense geneig om ’n etiket om jou nek te hang?

NATASHA Ek sal nie weet nie. Miskien sien mense my as ’n engel, ’n dame of die hartseer eksvrou van ’n popster. Ek is waarskynlik iets van alles en eintlik ook nie een van daardie stereotipes nie.

Wat ek mettertyd geleer het, is dat vooroordele gevorm word om beter en veiliger oor onsself en ons lewe te voel. Ons hou spieëls voor mekaar – of dit nou in vriendskappe, verhoudings of onder kollegas is. As daar iets omtrent iemand anders is wat jy nie kan hanteer nie, is dit waarskynlik ’n subtiele manier om vir jou te wys daar is ’n kant van jóú waarmee jy nie gemaklik is nie. Ek beskou mense se menings oor my eerder as kommentaar oor hulleself as kritiek teenoor my.

Hoe sorg jy dat kritiek jou nie ontstel nie?

NATASHA Heftige reaksies word ontlont wanneer iemand dieselfde ervaring op hulle lewensreis gehad het, hetsy negatief, hetsy positief.

Voorheen sou ek myself van die wêreld afgesonder het om weg te kom van ander se menings oor my, maar eintlik is dit nonsens. So het ek toegelaat dat ander se persepsies my tronk word. Ons is tog soveel meer as wat mense met hulle beperkte kennis van ons dink.

Die truuk is om grense te stel. Grense aan jouself oor hoeveel jy gaan toelaat dat ander se etikette jou beïnvloed. Hoe jy oor jouself voel, is steeds ’n keuse. Verder moes ek toelaat dat mense my ondersteun. Al kan party mense se menings jou vernietig, is daar weer ander mense wat jou troetel en heelmaak.

Hoe hanteer jy die kritiek wat wel waar is?

NATASHA As daar van die kritiek is wat ’n snaar in jou raak, glo ek die enigste manier om gesond te word, is om verantwoordelikheid daarvoor te erken en dit te aanvaar. Dit vereis dat jy met absolute eerlikheid in die spieël kyk – iets wat nogal pynlik is. Die maklikste is om iemand anders die skuld te gee, maar die gevoel van vrede wat saam met die dapper erkenning van foute kom, is ongelooflik.

Om verantwoordelik te wees vir jou eie pyn, help jou om God se genade raak te sien. Dit was nooit weg nie! Nou kan jy jouself van selfoordeel bevry. Ek het gekies om te groei. Ek het gekies om die lig aan te sit. Ek is besig om groot te word.

Jy het al baie rolle vertolk. Vertel van jou ma-rol?

NATASHA “Skuus, maar julle sal my moet verskoon. Ek het voorbereiding om te doen voor ek môreoggend twee mans soen wat ek nog nooit ontmoet het nie.”

Dit was tydens ’n ouervergadering by die skool en ek het die volgende oggend agt tonele gehad om te leer saam met nuwe akteurs saam met wie ek nog nooit voorheen gewerk het nie. Dit was eers toe ek die uitdrukkings op die ander ouers se gesigte gesien het dat ek besef het wat ek gesê het. Taamlik skaapagtig het ek my uit die voete gemaak. Dit moes verskriklik geklink het vir mense wat nie die konteks ken nie.

“Jou onderwysers kan môre miskien vreemde vrae vir jou hê,” het ek Sebastian gewaarsku toe ek by die huis kom. Hy het net gelag.

Ma-wees is sinoniem met skuldgevoelens? Stem jy saam?

NATASHA Verlede jaar wou ek Ben en Seb Mosambiek toe neem om saam met die wilde dolfyne te gaan swem. Ek het te laat besef dat Ben se paspoort verval het. Om ontslae te raak van my skuldgevoelens het ek ons vir ’n vakansie Durban toe geneem en miskien ’n bietjie oorboord gegaan: haaiduik, fietsry langs die Goue Myl, kersligpieknieks, vis-en-skyfies op die hawe, doughnut-winkels en reksprong van die Moses Madiba-stadion…

Dit is moontlik vir enkelouers om wonderlike tye saam met hulle kinders deur te bring. My seuns bring ’n wonderlike dimensie aan my lewe. Hulle maak my lewe regtig vol met dinge wat ek nie andersins sou doen nie.

Ek het nie eintlik ’n groot aftreefonds nie, maar ek gaan sakke vol mooi herinneringe hê om mee te oorleef.

Hoe fokus jy op jouself sonder om te vergelyk?

NATASHA Ek ken ’n vrou wat haar kind as sesjarige aan kanker verloor het. Terwyl ander ma’s by die gim kla oor hulle rekmerke, is dit vir haar ’n kosbare herinnering aan die kind wat sy eens op ’n tyd gehad het. Sy is dankbaar daaroor, want sy weet sy het hom liefgehad tot die dag van sy dood.

Sulke goed laat ’n mens maar net anders na die wêreld kyk. Vra eerder wat jý vandag die lewe kan bied en nie wat die lewe jou kan gee nie.

Wanneer ek vergelyk, oordeel ek outomaties – ek verloor energie, lewensvreugde en voel soos ’n totale mislukking. Ons almal voel soos mislukkings. Dis asof ’n mens nooit versadig is nie, nie genoeg van negatiwiteit kan kry nie. Ek probeer dus om my persepsie van die wêreld te verander.

Is jy al op die punt van selfliefde?

NATASHA Gaan die meeste mense nie maar deur fases van tevredenheid en ontevredenheid nie? Dis meestal ’n gespring van die een uiterste na die ander. Selfkritiek is myns insiens een van die rowers van vrede. Niemand kritiseer my so genadeloos soos ekself nie.

Miskien is dit omdat die media die idee uitbeeld dat ons altyd “meer” moet wees – meer droom, hoër mik, meer hê. Dis nie sleg om ambisieus te wees nie, maar nie ten koste van jou vrede en geluk nie.

Ek moes begin glo het dat liefde die waarheid is en daarmee saam medelye en vergifnis vir myself kry. Liefde laat al daardie seer kolle wegsmelt. Dit gee ’n mens ’n dieper sin vir die waarheid en sommer baie moed en medelye.

Waarop is jy die trotsste in jou lewe tot dusver?

NATASHA “Ek dink jou kinders is regtig uitsonderlik. Is mal oor al twee. Seb is so ’n vrygewige siel en Ben net ’n bron van energie. Jy is so geseënd om hulle te hê.”

Perspektief plaas ook sukses in ’n ander lig. Kyk, laat ek nou nie doekies omdraai nie: My seuns is maar buierige, grommerige tieners wat heeltemal te veel tyd op hulle fone spandeer, maar hulle is steeds baie spesiaal. Hierdie boodskap van my vriendin, die aktrise Mary- Anne Barlow, sal ek vir altyd bêre as ’n bewys dat ander ook so dink.

Sy het dit gestuur nadat Seb en Ben ons gehelp het om ’n video’tjie vir sosiale media te maak. Hulle is onkonvensioneel sonder om hulle uniekheid te verloor – ’n inspirasie vir my.

Sou jy dus sê jy is gelukkig?

NATASHA Dit was ’n vroeë lenteoggend toe ek in my klein binnehof gesit en lees het. Uit die bloute was dit asof al my sintuie net skielik alles om my uiters intens waargeneem het: die reuk van die suurlemoene aan my suurlemoenboom; die geel van die rose wat begin blom en die son op my vel. Op daardie oomblik het ek besef ek het genoeg, ek is tevrede met waar ek nou is in my lewe en dat dit goed gaan met my.

Dis ’n wonderlike plek om te wees: ín daardie oomblik met die wete dat ek genoeg is, dat ek geliefd is en dat ek niks hoef te doen om daardie liefde te verdien nie. Ek word bemin net omdat ek bestaan.