Wie ek is agter die glans…

997

Rolene Strauss, Suid-Afrika se sprokieskoningin, het al die wêreld aan haar voete gehad, maar die pad na haar beste self is nog lank nie klaar gestap nie. Sy vertel self daarvan.

Tydens my jaar as Mej. Wêreld het ek ’n kinderhuis in Mexiko besoek. Daar was ’n klein dogtertjie wat bekoor was deur my kroon.

Sy het heeltyd agter my aangeloop. Op ’n stadium het ek voor haar gaan kniel. Die meisie het haar hand versigtig uitgesteek om aan my kroon te vat.

Met ogies vol verwondering vra sy toe in haar taal: “Is jy ’n regte, égte prinses? En sal jy my asseblief saamvat na jou kasteel toe?”

My hart het gesmelt. Hierdie ou dogtertjie wou so graag deel wees van iets groters. Sy wou net liefgehê en aanvaar word.

Soos ons almal, ek inkluis.

Mense kyk na my en van ver af lyk dit of ek alles het. Of dinge in my skoot geval het. In die media en op sosiale media word die perfekte prentjie geskets, maar eintlik is ons almal geneig om net die mooi en lekker dinge te wys en te vertel.

Maar kom ’n bietjie nader en jy sal agterkom ek is net ’n gewone mens. Ek het al ongelooflike geleenthede gehad. My lewe is ’n seëning, ’n wonderwerk, en ek is baie dankbaar vir alles.

Maar ek ken ook moeilike tye. Daar was ook talle uitdagings waardeur ek moes worstel.

Om die waarheid te sê, ek werk elke dag hard daaraan om die beste weergawe van myself te word – en dit is nog ’n lang proses.

Een van my grootste uitdagings is om nie in iemand anders se boksie te probeer pas nie.

Mense kyk op na my en verwag ek moet op ’n sekere manier optree. Hulle wil nie sien dat ek moeg lyk, gewig aangesit het of moedeloos voel nie. Ek respekteer dit en sal altyd my bes doen om seker te maak dat die eerste indruk wat jy van my kry, die beste indruk is. Ek beleef egter ook maar die wisselvallighede van elke dag.

Die ding van boksies is dat ons geneig is om onsself in ’n boksie te plaas. So het ek al gevoel ek moet lyk, praat en optree soos die mense wat ek as rolmodelle beskou.

Jo-Ann Strauss is my vroegste herinnering hieraan. Ek was sewe jaar oud toe ek na haar Mej. Suid-Afrika-kroning op televisie gekyk het. Dit het my dadelik getref dat ons dieselfde van het, en ek het nog gedink: As iemand met dié van dit kan doen, kan ek ook.

Ek was maar ’n wilde dogtertjie wat graag boomgeklim en al die goed gedoen het wat jy op klein dorpies (Volksrust) doen om jouself besig te hou. My ma het darem gesorg dat ek dit in mooi rokkies doen.

Om Jo-Ann se sprokie op televisie te sien afspeel, het my groot laat droom. Ek het wou net soos sy wees.

Noudat ek ouer is, besef ek hoe belangrik dit is om jouself te aanvaar. As jy dit begin doen, sal jy nooit regtig tweede kom nie. Selfs as ek val, spoor dit my aan om harder te probeer.

Soos toe ek die eerste keer vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf het. Ek was onder die topvyf, maar het nie gewen nie, want ek was nog nie heeltemal reg daarvoor nie. My Engels het my gepootjie.

Dit was vreesaanjaend: daardie oomblik toe ek voor ’n see van gesigte staan, met duisende oë op my. Een van die beoordelaars het ’n vraag gevra, maar ek het dit glad nie verstaan nie. Sukkel-sukkel vra ek toe dat hy dit herhaal.

Mense in die gehoor het my uitgejou. Ek het so skaam gevoel. Wat my antwoord uiteindelik was, kan ek nie meer onthou nie, maar my selfvertroue het in ’n waas van verleentheid verdwyn.

Daarna was dit ’n groot struikelblok om te oorkom: om voor mense te praat en dit gemaklik in ’n tweede taal te doen.

Almal wat kon, het gehelp. Ek onthou nog hoe ek my man, D’Niel, met wie ek toe pas begin uitgaan het, met hierdie stukkie vernedering in my lewe vertrou het. Ons twee het Engelse boeke begin lees – ek hardop, terwyl hy luister.

Op kampus het ek en my Afrikaanse kamermaat ook besluit om net Engels met mekaar te praat. Die ander studente het gedink ons is stapelgek.

By die huis het ons ’n paneel van familielede opgestel wat gemaak het of hulle beoordelaars is. Hulle het my gepeper met vrae, tot ek stadig maar seker my selfvertroue herwin het.

Aanhouer wen.

Ten spyte van alles wat ek bereik het, sukkel ek soms om te aanvaar dat ek goed genoeg is, net soos menige ander vrou en ma.

Daar is tye dat ek voel ek is nie mooi genoeg, maer genoeg, intelligent genoeg nie… Ons dink mos altyd daar is iemand wat beter is as ons. Dit is ’n konstante ding waarteen ek daagliks ’n stryd voer.

Partymaal voel ek sommer net vet en ongemaklik in my lyf, maar ek kan dit nie vir enigeen sê nie, want hulle sal dink ek is blasé. “Hoe kan jý, ’n skoonheidskoningin, nou so voel?”

Dus is ek maar baie alleen in hierdie ding. Net die mense na aan my sal dit verstaan. Buitestanders, wat die prentjie van die “perfekte” Rolene sien, sal nie weet waarvan hierdie vrou praat nie!

’n Ander uitdaging waaraan ek moet werk, is om nee te sê. Ek sukkel nog daarmee. As ek na ’n funksie uitgenooi word, word daar altyd verwag dat ek mense moet toespreek. Dit word gevra uit liefde, en ek doen met graagte, maar ek is nog jonk. Soms, veral as dit by geestelike sake kom, voel ek ek moet ook net kan luister. Om self deur ander geïnspireer te word. Om by mense wat ouer en wyser as ek is, iets te leer.

Met ’n man en ’n kind besef ek ook dat om partymaal nee te sê, beteken dat ek ja sê vir my gesin.

Eintlik het ek jonk-jonk al ’n duur les geleer oor nee sê. Ek was maar sestien toe ek alleen na Parys in Frankryk gegaan het vir modelwerk. Ons klomp jong meisies het saam in ’n modelplek gebly… en daar het verskriklike goed aangegaan. Dinge waaraan ek, vanuit ’n baie beskermde omgewing, nog nooit blootgestel was nie.

Gelukkig was my fondament sterk gelê, want daar het ek gesien hoe maklik jy onder groepsdruk kan swig. Die modelbase het ook vir my vertel ek is vet en moet gewig verloor, iets wat op daardie stadium nie eers deel van my woordeskat was nie.

Terwyl ek daar was, is ek (dalk gelukkig?) deur ’n spinnekop gebyt. Dit was ’n gesukkel om ’n taxi te reël en by die hospitaal te kom. ’n Vreemde taal, min geld… en my ouers wat te ver was om betyds te wees vir die operasie.

Ek het wakker geword in ’n bed langs ’n ouer vrou s’n. Dit was so lekker om ’n vriendelike gesig te sien. Die vrou het nog vir my roomys gekoop.

Terwyl ek aan die koue soetigheid smul, het ek net daar besluit: Hierdie hele spinnekopding is ’n teken. Ek wil nie ’n model wees nie. Die enigste model wat eendag sal wil word, is ’n rolmodel. En so het my Mej. Suid-Afrika-pad begin.

Vir party dinge in die lewe moet jy net nee sê, al lyk of klink dit ook hóé belowend. As dit nie goed is vir jou siel nie, is dit nie die moeite werd nie. Ander kere neem die lewe namens jou ’n besluit, en dan hang dit van jou af hoe jy dit gaan hanteer.

Die heel moeilikste jaar van my lewe was toe ons seuntjie gebore is. Dit was ’n verskriklike groot skok.

Ons was pas getroud toe ek swanger geraak het. Ons toekomsbeplanning het toe nog heeltemal anders gelyk. D’Niel het in die Kaap gebly, ek in Bloemfontein. En skaars ’n week na die geboorte moes ek boonop met my laaste jaar mediese studie begin.

Ek was die enigste student in ons groep met ’n baba, en baie van my medestudente het my net as Mej. Wêreld geken, nie as Rolene nie. Dit was ’n aanpassing op sigself.

Maar die moeilikste was die skuldgevoel. Daar word nie verniet gepraat van mommy guilt nie. Ek het oor alles skuldig gevoel.

As ek by my seuntjie was, het ek sleg gevoel omdat ek nie agter die boeke was nie. En as ek geleer het, het ek myself verwyt dat ek my man en ons baba afskeep.

Die publiek hou ’n mens dop, en jy hou ’n front voor, maar hier binne-in my was ek in twee geskeur. Moeg, moedeloos en naderhand raadop gesukkel.

In daardie jaar het ek besef ek is nie so goed in alles as wat ek graag sou wou wees nie, en dis reg so. Niemand is perfek nie, maar as ek my bes doen, sal God die res doen.

Ek het geleer dat ek sterker is as wat ek dink, en dat ’n mens baie meer kan hanteer as waarvoor jy jouself krediet gee.

Ek het ook besef dat tydsbestuur nie een van my sterkste eienskappe is nie. Baie mense sê hulle glo aan multi-tasking. Nie ek nie! Deesdae volg ek eerder die beginsel van chunking. Dis wanneer jy jou volle tyd, aandag en energie aan een taak wy totdat dit afgehandel is. Eers dan gaan jy verder.

Dus, geen veelvuldige takies meer vir my nie; eerder gehaltetyd aan een ding tot dit klaar is. As ek met my seuntjie speel, kry hy al my aandag. En as ek werk, doen ek dit voluit.

Die makliker gesê as gedaan, maar dit raak al beter.

Ná al die stres is dit lekker om vir die eerste keer in ’n lang tyd net “te wees”: ’n vrou vir my man en ’n ma vir ons kind. Ek wil ons seuntjie graag met goeie waardes grootmaak. My droom vir hom is dat hy sy volle potensiaal sal bereik. Party dae het ek geen idee hóé nie, maar ek bid elke dag vir leiding.

Om ma te word was ook ’n goeie ding omdat dit my onselfsugtig gemaak het. Daar is nie ’n beter leermeester as ’n baba om enige sweempie van selfsug te laat verdwyn nie.

Ná my jaar as Mej. Wêreld het ek met ’n verdere skok besef dat wanneer jy jou drome en doelwitte bereik het, jy nie kan terugsit en ophou leef nie. Ek moes nuwe drome skep en najaag.

Die platform wat ek gekry het, is groot, en partymaal probeer ek nog uitpluis hoekom dit daar is, maar elke dag is ’n stappie in die regte rigting.

Die een ding waaroor ek seker is, is dat ek dit wil gebruik om net soveel mooi goed in ander se lewens te saai as wat ek tot hiertoe ervaar het.

Ek wil ’n verskil maak.

Om perspektief te bring is een daarvan. Hier in ons land kan ons ons maklik blind staar teen al die probleme, maar in my reise regoor die wêreld het ek oor en oor besef hoe gelukkig ek is om ’n Suid-Afrikaner te wees. Ek sal dit vir niks verruil nie.

In my kroningsjaar het ons nie net die mooi toeristedele van elke land besoek nie, maar ook die plekke waar daar nood is.

Niks maak jou oë so vinnig oop soos om ’n land op sy ergste te sien nie. Die armoede, vuilheid, min spasie. Ook in welvarende lande, soos Amerika, was dit opvallend hoe min die mense omgee vir ander. Hulle gaan net aan en doen hulle eie ding.

Gemeet aan baie ander lande, is ons baie gelukkig om in ’n plek te bly waar daar ruimte is en natuurskoon, waar jy nog naby aan die dierelewe kan kom. En ons mense, ongeag kleur of kultuur… sjoe, ons nasie is van die vriendelikste, hartlikste en behulpsaamste mense op die planeet.

Ek het terug huis toe gekom, trots om myself ’n Suid-Afrikaner te noem. Elke land het sy probleme en ons s’n is allermins uniek, maar ons het baie mooi dinge om daarvoor te vergoed.

In daardie jaar as Mej. Wêreld het ek ook beleef wat eensaamheid is. Ek was weg van my mense af en dinge wat bekend was. As jou lewe so rondgewikkel en geskud word, besef jy daar is net een ding wat konstant moet bly. My verhouding met God het nuwe dieptes bereik. Hy was soms al Persoon wat ek by my gehad het. Ek het ’n gemaklikheid by Hom ontwikkel, en het ook ’n punt daarvan gemaak om vir mense te bid, oral waar ek gaan. Nie altyd opsigtelik nie, maar ek wou Sy teenwoordigheid laat seëvier. Mense moes Sy liefde ervaar in hoe ek optree en in wat ek doen en sê.

My volgende groot doelwit is om voorkomende genesing in die kollig te plaas. Ek en my skoonsus, dr. Ledivia Strauss, het onlangs RevitaHealth, ’n sentrum vir holistiese gesondheid, in die Paarl geopen.

Dit is een belangrike ding wat ek by mense wil tuisbring: Dis nie nodig om eers siek te word voordat jy hulp soek nie.

As vroue is ons geneig om tyd aan almal behalwe onsself te bestee. Ander dinge kom altyd eerste – man, kinders, huishouding, werk. Maar ons moet juis self gesond wees om ons beste vir ander te kan gee.

Met hierdie sentrum, waar ek die bemarking doen en my skoonsus die mediese sorg, wil ons ’n bewustheid skep onder mans en vroue om hulle gesondste self te wees.

Dit bly maar my grootste hartsbegeerte, my roeping: om mense se lewens op ’n positiewe manier te beïnvloed.

Ek bid elke dag vir wysheid; nie het in hoe ek my seun en ander se lewens benader nie, maar ook my eie.

Alles wat ek aanpak, wil ek graag tot die beste van my vermoë doen. Ek wil saadjies van hoop, lig en lewe plant, oral waar ek gaan.

Die uitdagings in my lewe tot op hierdie punt het my gedwing om myself beter te leer ken. Om te besin oor: Wat wil ek in die lewe hê, en hoekom?

Ek wil graag die tipe persoon wees oor wie mense eendag sal sê: “Rolene het dinge voluit gedoen. Sy het nie teruggestaan of geweifel nie – sy het dit net gedoen, en alles gegee.”

Met genade en harde werk glo ek dat ek ook hierdie droom sal verwesenlik.