Wie is ek en waar pas ek in?

0
442
andries enslin

Dit voel soms asof my lewe nie sin het nie. Ek probeer uitvind wie ek regtig is. Niks maak my werklik gelukkig nie.

Dit voel soms asof my lewe nie sin het nie. Ek probeer uitvind wie ek regtig is. Niks maak my werklik gelukkig nie.

Ken jy die kinderstorie Are You my Mother? Dit gaan oor ’n voëltjie wat uitbroei, maar sy ma is nie by die nes nie. Hy val uit die nes en probeer dan uitvind wie hy nou eintlik is. Hy gaan staan voor al die diere wat hy teëkom en vra: “Are you my mother?” In ’n stadium begin die voëltjie soos ’n mal ding rondhardloop. Later gaan hy terug na die nes en kry sy ma daar. Hy is tevrede, want hy weet nou wie hy is.

Daar is vandag talle vroue wat ook so rondhardloop en hulle identiteit op die verkeerde plekke soek. Hulle staan voor baie dinge: geld, skoonheid, prestasies, en vra: “Are you my mother?

Jy is dalk verslaaf aan jou werk. As jy iemand ontmoet, is die eerste ding wat jy vra: “Wat is jou naam?” Die tweede ding is: “Wat doen jy?” Jy dink miskien ’n mens se identiteit word gekoppel aan jou werk. Maar dis mos glad nie wie jy is nie!

As jy dus elke oggend by die werk opdaag, staan jy eintlik voor die gebou en vra: “Are you my mother?” Is dit nie belaglik nie? Vir seker is dit nie jou identiteit nie!

Party ma’s sê: “My kind is my hele lewe.” Maar dan staan jy eintlik voor jou kind en vra: “Are you my mother?” Onthou, jou kind gaan haar eie lewe kry, en dan weet jy nog steeds nie wie jy is nie.

Jy moet weer teruggaan na die “nes” toe en vra: “Here, U is die Een wat my gemaak het, wat vir my ’n doel, ’n plan en ’n lewe het. U is die Een wat oor my droom. Sê my asseblief, wie is ek?”

Jy moet weet hoe mooi jy gemaak is

Die hele skepping is tot in die fynste detail beplan en geskep. Kyk na elke blommetjie in jou tuin. Party is baldadig en helder, ander is skugter en het ragfyn strepies en kolletjies. Elke skulpie en see-organisme het ’n doel en lyk anders.

God het nog meer tyd spandeer om te beplan hoe jy moet lyk. Hy het jou daar binne-in jou ma aanmekaargeweef om eendag ’n baie spesiale vrou te wees.

Gaan sit weer ’n slag daar in die “nes” op ’n stil plek en lees Psalm 139. Is dit nie ongelooflik hoe uniek jy gemaak is nie? Lees sinnetjie vir sinnetjie, en ontdek daardie intieme liefdesverhouding tussen julle twee.

Hoe moet jy nou hierop reageer? Begin om net jouself te aanvaar. Hou op om jou aanmekaar met ander vroue te vergelyk. Moenie wonder hoekom jy nie sulke mooi bene of so min vetrolletjies het nie. Of hoekom jy nie so goed kan naaldwerk doen soos jou vriendin nie. Sy wens dalk weer sy kon so lekker kos maak soos jy!

Gaan staan voor die spieël en besluit: Melanie, ek hou van jou. Aanvaar wie jy is. Jy is wonderlik gemaak, uniek en vir ’n spesifieke doel. Net jy kan daardie plekkie volstaan, anders sal dit vir altyd leeg bly.

Daar word groot dinge vir jou beplan

Gestel jy doen pottebakkery. Terwyl jy aan daardie pot werk, het jy heeltyd ’n idee in jou kop, ’n prentjie van jou eindproduk. Jy stort basies jou eie identiteit in daardie kunswerk uit.

Dis presies wat gebeur het toe God jou beplan en gemaak het. Hy het mooi gedagtes oor jou gedink – gedagtes van sukses en ’n hoopvolle toekoms. Hy het beslis nie pyn en lyding vir jou beplan nie.

Het jy geweet daar is ’n biografie van jou in die hemel? Die Skepper skryf ’n boek oor jou en sê: Dis wat Ek met jou gaan maak, wie Ek vir jou gaan wees. Dis die pad wat ons saam kan stap. Dis die verhouding wat ons kan hê.

Skryf jy soms jou gebede in ’n dagboek neer? Begin sommer vandag nog om dit te doen. Blaai van tyd tot tyd deur al jou vorige dagboeke en lees deur al die versoeke en knelvrae. Dit sal jou verstom by hoeveel jy ’n regmerkie kan maak en sê: Hy het my gehoor en vir my gesorg.

Weet jy wat jy gaan raaksien as jy die storie oor jou lewe begin neerskryf? Jy gaan ook die groter storie begin raaklees. Sy tydsberekening is perfek. Hy bly getrou.

Jy leer jouself ken as jy Hom leer ken

Met intimiteit kom identiteit. Hoe nader jy aan jou Maker kom en hoe beter jy Hom leer ken, hoe beter leer ken jy jouself. Gaan sit gereeld by God sodat Hy in jou oor kan fluister wie jy is en vir jou kan sê wie jy nog kan wees.

Jou werk, besittings en geld sal jou net vir ’n kort rukkie gelukkig maak. Nie een van hierdie dinge is wie jy regtig is nie. Die hunkering in jou hart is met ’n doel daar geplaas. Jy móét die antwoord gaan soek – op die regte plek.