Wie is ek, Here?

Dis in “plain” engels “date night” en ek is vreeslik opgewonde. Dit gebeur dalk een of twee keer ‘n jaar. Ons is gelukkig om plek te kry by ‘n deftige restaurant saam met hartsvriende.

Ek gaan staan buite by die trap om te rook. Daar is wel ‘n rookarea in die restaurant, maar ek besluit teen dit om daar te gaan staan.

Ek kom uit ‘n familie van nie-rokers. Sedert ek laasjaar die gewoonte hervat het, moet ek oop wees vir kritiek oor my slegte gewoonte.

Daar stap ‘n dame verby, sy glimlag vir my, ek herken haar nie dadelik nie, maar dis iemand wat ek as ‘n rolmodel beskou. Sy is grasieus en haar oë sprankel met vriendelikheid. Ek voel baie verleë. Ek ken al die klagtes rondom etiket vir rokers, veral in openbare plekke. Hoe dan anders, my familie herinner my gereeld… Kon ek nie maar iewers anders gaan staan en rook nie? berispe ek myself.

Intussen gebeur iets moois om my. My vriendin (‘n nie-roker wat braaf die koue saam my aandurf) staan langs my. ‘n Man probeer ‘n versameling klein winkeltrollies teen die steilte opstoot. Hy sukke sonder sukses. Sy tree vorentoe en help hom uit sy penarie uit. Ek word teruggeroep tot realiteit.

Gebeur dit nie soms met ons almal nie? Ons is so vasgevang in die “eie-ek” dat ons die geleentheid mis om iemand te help, om ander se behoeftes raak te sien.

‘n Paar weke later konfronteer ek ‘n totale ander scenario, soveel kritiek van mense, jy kan die beste intensies hê, iets goed probeer doen, sommige mense sal altyd iets kry om jou oor te kritiseer. Ek voel seergemaak, teleurgestel in die mensdom en ek sal dit maar sê – ek voel kwaad. Te midde die scenario verloor ek daardie middag amper my kalmte van gees. Dis mos so maklik om jou sê te sê en jou poppe uit die stootwa te gooi.

Stop.

Daardie spesifieke oggend het daar ‘n vers in my kop bly opkom – asof God  geweet het ek gaan dit nodig kry – “Be still and know that I am God”. Ek byt op my tong, ek moet stil wees, eers dan sal God se volle plan in werking kan kom.

Dit was toe natuurlik ook waar.

Die volgende dag kom daar soveel seën op my pad. Deure gaan skielik oop. Ek besef net daar dat ek slegs ‘n kanaal kan wees vir God se goeie werke as die kanaal oop en skoon is, vry van twyfel, vrees en negatiewe denke.

‘n Ruk terug het ek geskryf “Watter pad, Here?” tog moet ek eers besef wie ek is voor ek ‘n pad kan kies.

Dit is wat dit so moeilik maak. Ek struikel so baie in my sondige natuur, my denke en my hardkoppigheid…dit maak die beeld soms onduidelik… wié is ek nou eintlik Here?

Daardie identiteit is slegs te vinde in die volgende vraag: Wie is ék in Christus?

Ek voel soms soos Moses, die woorde wil nie uitkom nie, ek twyfel in myself, kryp dalk agter my broer weg. Hoe kan ek dan nou ‘n gebore leier wees? Ek, die rebel? Ek is glad nie die voorbeeld van goeie leierskapmateriaal nie.

Dan gaan my gedagtes weer na Jesus. Ek het tog gevra wie is ek in Christus?

Ek dink aan Jesus wat soveel wysheid gehad het oor wat reg is, oor wat edel, aanneemlik en prysenswaardig is, tog, het Hy ook geen oordeel uitgedeel nie en sy tyd saam menige sondaars spandeer. Jesus was nie bang vir lang kronkelpaaie en vuil hande nie. Die hande was tog net die uiterlike, want die hart, Sý hart was suiwer, ja sommer silwerskoon en skitterblink.

Ek besef toe Wie ék is, want ek het besef wie Hý is. Ten spyte van my tekortkominge, ten spyte van my kronkelpaaie, kan ek met ‘n geruste hart weet –

Ek ís ‘n Oorwinnaar in Christus! So ook jy!

Vorige artikelOor ritme
Volgende artikelDie lewe is lank
Blogger - Tersia Gouws
Tersia Gouws is ’n getroude ma van twee wat voltyds werk as klientediens konsultant. Haar liefde vir kommunikasie het verseker dat sy haar vlerke kon sprei as fotograaf, skrywer, dromer en waaghals! Haar passie vir mense het daartoe gelei dat sy by verskillende welsynsorganisasies werksaam was in kommunikasie, openbare betrekkinge, bemarking en fondsinsameling. Sy gebruik steeds haar vrye tyd om betrokke te wees as ñ vrywilliger. Sy beskryf haar grootste uitdaging nóg as vrou-wees en ma-wees. Haar liefde vir lees en skryf het sy by haar pa, Joos Bothma, geëerf wat in 2016 oorlede is. Sy skielike afsterwe het haar geroep om te begin skryf met die doel om ander te inspireer en te herinner dat die lewe kort is. Volg gerus haar persoonlike blog by www.elkesekondetel.blog