Wie is jy?

0
244
eugene.png

Ek besef nou eers dat ek my lewe lank doen wat ander wil hê. My ouers het my studierigting gekies, my man ons huis en my kinders elke aand se ete. Waar pas ék in die prentjie? – Mariaan, Johannesburg

Elke mens het ’n unieke plek op aarde, jy ook. Jy moet net daardie plek kry, dan sal jy jouself baie beter leer ken en ook jou volle potensiaal kan uitleef. Maar om te word wie jy moet wees, is ’n lewenslange proses. Jy is nooit klaar nie.

Daarom moet jy nooit wag dat jy “afgehandel” voel nie. Dit sal nie sommer gebeur nie! Jy behoort heeltyd besig te wees om te groei.

Maar jy, en baie ander mense, groei maklik volgens ander mense se voorskrifte en nie volgens jou eie patroon nie. Dalk het dit in jou ouerhuis begin. Met die beste bedoelings op aarde gee jou ma vir jou raad. Maar wat vir haar werk, is nie noodwendig die beste vir jou nie.

Hierdie onbedoelde druk wat sy op jou plaas, maak dat jy doen wat sy sê, al stem jy nie saam nie. Hoekom? Jy is bang jy word verwerp.

Jou begeerte om aanvaar te word en jou vrees vir verwerping begin later jou lewe oorneem. Jy raak ’n goedkeuring-junkie! En soos met enige verslawing gaan dit ’n rukkie neem voordat jy beter is. Doen dit rustig:

  • Eers moet jy besef dat jy regtig nie sal doodgaan as iemand jou nie aanvaar nie, al voel dit so. Onthou, as almal van jou hou, is jy nie eg nie. Dan dra jy maskers om te pas by die idee wat elke persoon met wie jy te doen kry, van jou het. En as jy beplan om so deur die lewe te gaan, moet jy aanvaar dat jy nooit gelukkig gaan wees nie.
  • Begin jouself ontdek deur op ’n sterkpuntskattejag te gaan. Gebruik jou tyd hiervoor. Gaan na ’n plek waar jy rustig kan wees en dink oor jou lewe. Waarin is jy goed? Wat het jy al bereik? Van watter dinge hou jy om te doen?
  • Noudat jy weet wat jou sterk punte is, raak opgewonde daaroor! Baie mense het daardie Calvinistiese oortuiging dat jy nie jou sterk punte mag vier nie, want dan gaan jy te veel van jouself dink. Maar natuurlik mag jy, want hoe anders gaan jy dit wat jy doen, met passie aanpak? Aan die ander kant, as iets jou nie opgewonde maak nie, is dit nie vir jou nie.
  • Staan elke oggend op en vra: Is ek besig met dit wat regtig belangrik is? En as jy nie is nie, moet jy weer mooi gaan dink oor jou sterk punte en hoe jy dit gebruik.

 

As ander jou dwing om dinge te doen, kan jy maar weet hulle is ook nie oukei met hulleself nie. Daarom gaan hulle raad en voorstelle dalk nie die beste vir jou wees nie. Iemand wat gemaklik is met wie hulle is, sal voorstelle maak in plaas van voorskrifte gee. En na daardie voorstelle kan jy gerus maar luister.

Moenie verskonings maak om na jou eie stem te luister nie! Doen dit net. Jou man en ouers sal sien dit maak jou gelukkig … Dalk leer hulle uit jou voorbeeld.