Wie sal die boodskap bring?

Hy het gekla omdat die kliniek lanklaas sy cholesterol getoets het en hy nie gehou het van die pille wat die dokter hom wou gee nie. Hy het die vorige jaar ‘n 3-vat hartomleiding gehad. Ek het sy klere geruik en wou weet hoeveel hy nog rook. “Meer as ‘n pakkie ‘n dag.”

Ons kan kerk toe gaan en die dominee kritiseer en met leë harte huis toe gaan as onsself nie wil verander nie.

Ons kan koerante lees en moedeloos raak of kies om te kyk waar ons ‘n verskil kan maak.

Ons kan by die braaivleisvure kla en in ons koppe emigreer of ons kan mekaar bemoedig met beloftes van hoop. Waar is die seuns en dogters wat as profete moet optree, wie is die oumense wat drome kan droom, waar is die jongmanne wat visioene moet sien? Joel 2…

Dalk is hulle nader as wat ons dink.

Op my pad werk toe stoei my gedagtes met baie dinge. Ek sit later selfs die radio af, want ek hoor niks. My hart voel onrustig oor alles en nog wat. Ek kom tot stilstand by ‘n robot met ‘n taxi voor my. Ek lees die woorde op die agterkant van sy ruit:

GENESIS 22:14 THE LORD WILL PROVIDE / DIE HERE SAL VOORSIEN.

My gemoed raak rustig en my naarheid verdwyn. Ek wil eintlik glimlag. Dat ‘n taxi van alle dinge iets vir my kon beteken.

Soms lê die antwoord reg onder ons neuse. Kom profete dalk in ‘n vorm van ‘n taxi.

Is die probleem nie altyd die kliniek of dokter nie, die kerk of die dominee nie maar dalk jyself.

Moet ons minder in gister leef en meer in vandag. Hy wat Was, Is steeds en Sal ook wees.

As die seuns en dogters, die oumense en die jongmanne dit nie wil uitroep nie, kos dit dalk ‘n taxi om die boodskap te bring:

Die Here voorsien. In Hom lê ons Hoop.