Wie sê jou klere is jy … regtig?

0
355
styl.jpg

Hoe jy lyk hou verband met hoe jy voel, daarom dink ek dis belangrik om elke dag fantasties te lyk!

Pas jou klere by jou persoonlikheid?

Toe ek in graad 3 van gesegdes begin leer het, was een van my gunstelinge: “Die vere maak nie die voël nie!” Min het ek geweet dat ek eendag in ’n beroep sou staan waar ek presies die teenoorgestelde gaan verkondig! Kom ons draai nou nie doekies om nie: die vere is uiters belangrik. Daarmee sê ek glad nie jou vere moet ontwerpersname dra of jou maandelikse huispaaiement ore aansit nie. Ek sê wel dat dit by jou moet pas. Hoe sou ’n arend lyk met budgie vere? Of ’n pou met die vere van ’n aasvoël? Almal van ons het al gelees hoe belangrik dit is om reg aan te trek volgens jou liggaamsvorm en selfs dalk ook jou gesigvorm, maar wie van ons trek werklik aan volgens ons eie stylpersoonlikheid? Die geheim lê daarin om klere te kry wat nié net jou beste bates beklemtoon en jou minder gegoede areas verdoesel nie, maar wat ook vir die wêreld kan vertel presies wie jy is.

As jy (m)enige man vra wat presies dit is wat ’n vrou aantreklik maak, is hulle antwoord gewoonlik: “Selfvertroue.” Ek wil waag om te sê: Dit help nie jy dra die mooiste, duurste uitrusting wat dalk selfs jou liggaamstipe komplimenteer, maar voel soos ’n absolute spektakel daarin omdat dit glad nie by jou en jou stylpersoonlikheid pas nie. Aan die ander kant het jy dalk nie die perfekte Kim Kardashian agterstewe óf begroting nie, maar elke dag verteenwoordig jou vere presies wie jy is. Dis juis dít waarin die selfvertroue dan lê.

Chantal Kruger (34) is die mooi tuisblyma van vier kinders tussen sewe jaar en 19 maande. “Ek het daardie tipiese mamma-maag,” lig Chantal jou in wanneer jy oor haar lyf begin praat. En hoe dan anders? Sy het vier babas gehuisves! Die gevolg: die tipiese reghoekige lyf… ook bekend as “die appel”. Een van die groot foute wat dames met hierdie liggaamsvorm maak, is om die verkeerde tipe materiaal te dra. Dit help nie jy weet wát jy mag dra maar nie hoé om dit te dra nie. Menige stylghoeroes sê byvoorbeeld dat die oorvourok (wrap) een van die enigste style is wat by alle liggaamsvorme pas, wat in prinsiep seker waar is. Maar dit help nie “die appel” spandeer geld op ’n oorvourok van T-hemp-materiaal wat elke rolletjie om haar maag af-ets nie.

alette_winckler.jpgChantal het definitief ’n kreatiewe streep weg. “Ek hou van patrone, bonkige juwele en iets wat my uitrusting uniek maak soos my kopband,” sê Chantal terwyl sy regmaak vir nog ’n foto. Haar uitrustings is perfek vir haar reghoekige lyf en kreatiewe persoonlikheid. Ons maak gebruik van lospassende materiaal om haar maag (wat enige bewys van babas vir eers heeltemal wegsteek), patrone vir haar onderlyf (waarvan die driehoek vir eers moet wegbly), komplimenterende patrone vir haar skoene, hoë kontrasterende kleure (met haar donker hare) en groot bykomstighede. “Ek het al gewonder of ek nie dalk so baie van patrone hou omdat ’n mens nie maklik kan sien as ’n kind daarop gemors het nie,” voeg sy met ’n glimlag by. Een ding is seker: jy is óf ’n kreatiewe wese, óf nie. Iemand wat hierdie tipe stylpersoonlikheid wil na-aap moet versigtig wees. Dit is een van die stylpersoonlikhede wat baie vinnig wys dat iemand té hard probeer het om dit te maak werk. Maar een ding is seker: Chantal hoef glad nie te probeer nie, want haar vere maak dié voël…

5 tips vir ’n Kreatiewe Stylpersoonlikheid:

• Jy kan wegkom met vreemde kleur- en stylkombinasies.
• Abstrakte patrone is nou hoogmode; eksperimenteer gerus daarmee.
• Baie detail maak jou uitrusting interessant.
• Vreemde kleure op jou naels sal jou kreatiwiteit vrye teuels gee.
alette_winckler_0.jpgOnkonvensioneel en innoverend is die twee woorde wat jou die beste beskryf, so moenie bekommerd wees as mense na jou staar nie.

Geskryf deur Aletté-Johani Winckler