Wie verdien my genade?

Nes die koningshuis in Brittanje hulle kenmerkende stywe-polsie, palm-in-die-wind-waaigroet van kleins af oefen, het onse ou volkie nou ook sy eie choreografie ontwikkel, voel dit vir my: Die Kopskud.

Wanneer ons mekaar vertel van die tweede optog in twee weke wat die hele middedorp ontwrig sodat g’n niemand kan gaan rekeninge betaal nie, is hy daar: Die Kopskud.
Die blonde vroutjie wat vandag dit en môre dat by jou karvenster kom smous daar voor die Poskantoor – hier kom dit…
Die dat die water alweer straataf stroom sonder enige aandag – daar’s hy weer.
‘n Sekere kêrel besluit die banke het nie regtig ‘n aanspraak op al wat ‘n Suid-Afrikanser is se swaarverdiende huispaaiemente nie – en Die Kopskud maak vir die hoeveelste keer sy opwagting.

Daai kopskud kan egter soveel dinge beteken, dis asof hy ‘n taal van sy eie het.
Of dit stadig, maar met wel-uitgedrukte afkeer gedoen word, of met diepe simpatie net so na die een kant, of met ‘n skaars onderdrukte vererglikheid gepaardgaan – Die Kopskud wil gesien word.

Deesdae betrap ek myself egter dat ek bietjie meer gereeld binnetoe kyk as die gordyn sak oor my eie Kopskud. Want wie verdien nou eintlik my genade?

Asof ek in enige posisie is om dit te gee of te weier.

Ek lees hierdie week in Josua ‘n gedeelte wat ek nog nie vantevore raakgelees het nie.

Die mense van Gibeon het gehoor die Israeliete was op top-vorm en het Jerigo en Ai sommer maklik ingeneem. Soos wat die Volk se reisplan geblyk het, sou die Gibeoniete se wonings straks volgende wees.

Maar die knoeiers bedink toe ‘n plan.

“Hulle het mense na Josua gestuur. Die mense het verslete saalsakke oor hulle donkies gegooi en verslete wynsakke saamgevat wat geskeur en weer toegewerk was. Hulle het ou gelapte sandale en verslete klere aangetrek. Hulle het ou brood vir padkos saamgevat. Hulle het by Josua in die kamp by Gilgal aangekom en vir hom en die Israeliete gesê: “Ons kom van ’n ver land af. Ons wil graag met julle ’n verdrag sluit.”
Joshua 9:4 NLV

Hierdie vredesverdrag sou bepaal dat die reisigers se grond en eiendom en lewens gespaar sou bly wanneer Josua-hulle dan eendag daar verby sou gaan.

Die Israeliete was eers heel skepties, maar toe hulle sien hoe stukkend die mense se skoene was en hoe droog die brood, het hulle – sonder om eers die Here te raadpleeg – ‘n vredesverdrag gesluit met hierdie mense wat van vééér af kom. Hulle sou hierdie Gibeoniete spaar wanneer hulle weer paadjies kruis.

‘n Paar dae later kom die Volk toe oor ‘n bult en wie woon daar? Die Gibeoniete. Die Volk is uitoorlê. Die verbond is voor die Here gemaak en die Here sou hulle nie toelaat om hierdie leuenaars en bedrieërs skade aan te doen nie. (Verderaan lees mens darem dat hulle van daardie dag af vir die Israeliete moes werk en vuurhout bymekaarmaak en water aandra.)

Die punt wat ek wil maak is dit: Wie verdien my genade?

En as ek nou mooi gemaklik is met daardie antwoord, dan kan ek nie anders as om te vra nie: Van wie verdien ék genade?

Dis eintlik maar ‘n oksimoroon – en ek onthou hoe giggel die seuns in ons Standerd 9 Afrikaanse klas toe Juffou Clara hierdie moet verduidelik.

Hoe kan genade verdien word? Dit is juis die wat dit onmoontlik kan verdien wat dit die nodigste het.

Dit sal my goed doen om dit te onthou wanneer ek weer my eie koppietjie wil skud.
Daai Onverdiende Genade het ook vir my kruis toe gestap.
En Genade het gesê:

“Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef.
Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters.
Dit pas glad nie by gelowiges nie.
Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel:
“‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here.”
Romeine 12:18 Die Boodskap

Here, ek sal verstaan as U soms U kop sou skud oor my.
Dankie dat U genade my foute gebruik,
eerder as om hulle net teen my te laat tel.
Leer my hoe om dit vir ander ook te doen.
Amen.

Vorige artikelOor die dag na Moedersdag
Volgende artikelGulsige-gunsies
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!