Wie wil jy wees?

0
38
gelukkig.jpg

Ons almal het ’n sekere prentjie in ons kop oor wie ons wil wees. Hierdie prentjie sluit beslis iemand in wat emosioneel gesond is.

Maar hoe lyk iemand wat emosioneel gesond is en hoe bereik ’n mens dit?

Emosionele gesondheid hang baie af van jou vergenoegdheid, en dit kan letterlik vertaal word met dankbaarheid vir genoeg. Die fokus val nie op wat jy besit nie, maar eerder op die feit dat jou lewe betekenis het en dat jy op ’n eenvoudige manier ’n bydrae lewer. Jy laat ook nie toe dat eksterne omstandighede jou welsyn en waarde bepaal nie.

Moenie jouself as ’n slagoffer sien wanneer die lewe ’n paar houe uitdeel nie. Leer eerder iets uit moeilike omstandighede en kies om aan te beweeg. Dit gaan daaroor om in die hede te leef en nie in die verlede vas te haak of vir ’n beter toekoms te hoop nie.

’n Emosionele gesonde persoon is gewoonlik ook ’n gebalanseerde persoon. Vir so iemand kom buigsaamheid handig te pas, en om nuwe dinge te leer en by verandering aan te pas is niks nuut nie. Tog is dit belangrik om te weet dat jy dinge nie altyd alleen kan doen nie, maar ander se hulp moet aanvaar.

Om emosioneel gesond te wees is dus maklik. Neem verantwoordelikheid vir jou lewe, leer om vir jouself te lag en geniet die lewe met oorgawe. Leef met diepe afhanklikheid, besef alles is genade en weet jy is deel van die Skilder se groter prentjie.