Wies jy?

Dis ‘n groot vraag, een wat ek lank nie oortuigend kon antwoord nie. Dan weer gedink het ek ken die antwoord uiteindelik, tot ek weer begin twyfel het aan my eie wete.

Toe Moses die opdrag gekry het by die braambos van God om die Israeliete te lei, het hy gevra: “Hoe sal ek s wie het my gestuur?”

God het geantwoord:  “My naam is;  Ek is…!”

Dit het my van altyd af gepla want name is vir my belangrik. Ek het grootgeword met die glo dat mens beter af is as jy nog ‘n titel voor daai naam ook kan inwerk. Hoe kan God nie ‘n naam hê nie, dis net verkeerd.

Lao Tzu het geskryf dat die God wat jy ‘n naam kan gee, nie God is nie. En nou nie om aardig te wees nie maar tot die wurm in Alice in Wonderland het by sy opiumpyp verby gefluister: “Who aaare youuuu?”

So Mevrou die dokter of proffesooor, dalk jou eie titel of die gewer van die blink ring aan jou vinger sinne. Ek wil nou nie jou borreltjies bars nie maar ek het ‘n annerlike waarheid kom staan en bedink. En dit is dat daar twee van ons is. Een het naam en titel, lyf en gedagtes en die ander een, dis die een wat naamloos en titelloos is, sonder vorm en sonder blaam. Of hoe het jy gemeen met wie praat jy, wanneer jy in jou kop met jou sigSelwer baklei en sê: “Anna, jys darem wragtag besig om buite die lyne in te kleur! Kom reg, verloor gewig en hou op om so te frons en vir wat het jy nie gedink voor die of daai geseg het nie…?”

So, daar het ek nou gesê, dit wat ek al lankal oor wou griffel. Die res van my storie is eintlik die lekker deel, die ding wat ek ingesien het deur moeite en verdriet. En dit klink so.

As God se naam Ek is, is… dan beteken dit mens kan enige ding daarna skryf. Hoe slim is dit? En ons doen dit heeltyd sonder om te weet. Ons sê: “God is… liefde, God is… genadig.  En al die wonderlikhede wat mens aan kan dink, so Hy is alles wat Hy is.

Ons is ook! Maar ons foeter verkeerd want ek hoor meermale dat ons sê: Ek is… kwaad, arm, hartseer, seergemaak, lelik, vet, ontevrede, besteel, flenters, bevark of watookal aangaan in jou kop.

Sê nou maar dis die waarheid dat ons met ons woorde skep soos die groot boek vertel. En deesdae seg al die groot stemme dieselfde ding net in annerlike woorde.  Dink daaraan… ek het en ek is nou baie versigtig met wat ek agter, Ek is, inspan!

Ek wil graag al die mooi dinge in my lewe inroep wat ek kan. En ek begin vandag deur te skryf…

Ek is hapi!

Ek is tevrede!

Ek het alles wat ek nodig het!

Wies jy?