Wil ’n man ’n vrou se hulp hê?

0
281
hulp

Jy is sy vrou en het voor die kansel belowe om hom te ondersteun. Tog, as jy hulp aanbied, is hy te hardkoppig om dit te aanvaar. Maar wil mans ooit gehelp word?

Jy is sy vrou en het voor die kansel belowe om hom te ondersteun. Tog, as jy hulp aanbied, is hy te hardkoppig om dit te aanvaar. Maar wil mans ooit gehelp word?

Vroue is geneig om hulle hulp aan te bied. Van kleins af word meisietjies geleer om vir Mamma te help waar sy kan. Ook maatjies, boeties en sussies en later vriendinne kry hierdie koninklike behandeling. Dis daarom net natuurlik dat ’n vrou haar man sal wil help.

Die Bybel noem dit diensbaarheid. Selfs die wyse Albert Einstein het die belangrikheid hiervan ingesien. Hy’t gesê net ’n lewe wat vir ander geleef word, is die moeite werd. Hoekom sukkel mans dan soms om vrouens se hulp te aanvaar en om toe te laat dat hulle gehelp word? Elke man het sy eie mening hieroor.

Sy kan met enigiets help

“Daar is geen ‘moets’ en ‘moenies’ tussen my en my vrou nie,” sê die sanger en liedjieskrywer Piet van Wyk de Vries (37). “Geen vereistes nie. Daar is niks wat ek nie op my eie kan doen nie. Maar dit beteken nie dat ek dit sonder haar hulp wíl doen nie. En daar is ook niks waarmee sy my móét help nie. Ek haal asem, ek kyk links en regs voor ek oor die staat loop, maak my skoenveters vas en ek maak ʼn bottel oop. Dit is die tipe dinge wat ek self doen. Sy kan enige tyd met die res help.”

’n Man vra net liefde en respek

“Die beste hulp wat ’n vrou kan bied, is om net langs my te wees en my met respek en liefde behandel,” sê Wouter du Preez (38). “Sy help my deur ʼn sagte woord na ʼn lang werksdag. Of wanneer ek nie daardie groot kontrak gekry het nie. Selfs al het ek nie lus om te gesels nie. Mans is werklik grot-diere, sodra iets skeefloop, kruip ons weg. Maar dis juis dan wanneer ons so bietjie hulp van vroulief wil hê. Al lyk dit nie altyd so nie, en al tree ons glad nie so op nie!”

Hulp in en om die huis

Wanneer het mans hulp nodig, eggo Aiden Choles (29) die vraag. “Die stem in elke volbloedman sal sinne bou rondom onafhanklik, selfonderhoudend, en selfversekerd. Of dit is in elk geval hoe ons dink dinge behoort te wees. Veral in en om die huis. Want dit is mos ons terrein, of nie? Maar ek dink tog die moderne manlike man besef dat hy hulp nodig het. Op baie meer vlakke as wat hy sal erken. Ek het hulp nodig met wasgoedwas en skottelgoedwas. Ek het nie ’n idee hoe om dit te doen nie. Blameer my kinderjare!”

Hy wil dit eers op sy eie probeer doen

“Wanneer ek drie keer na mekaar sukkel om iets reg te kry, sal ek instem dat my vrou my help,” sê Johan Terblanche (30). “Maar ek moet dit eers op my eie probeer. My vrou moet my egter ondersteun en bystaan in die dinge wat ek doen of aanpak. Wanneer my werkslading en stresvlakke hoog is, moet sy my bystaan en nie kla of my verstoot nie. Dit is vir my belangrik dat sy my opbeur as ek af voel. Maar ek kla nie! My vrou bring elke oggend vir my ontbyt in die bed.”

Hy wil net hê jy moet daar wees

Lenie Naudé, sielkundige en Imago-terapeut, sê jy kan jou man help deur in hom te glo en hom te ondersteun. ʼn Man moet weet dat sy vrou vertroue in hom het, al glo ander nie in hom nie. Die gesegde “agter elke suksesvolle man is daar ʼn vrou” is baie waar. As jy nie wys dat jy in sy potensiaal glo nie, sal hy later ook in homself begin twyfel. Dis jou plig as vrou om ’n steunpilaar vir jou man te wees. En dit beteken nie noodwendig jy hoef iets te doen nie, somtyds moet jy net dáár wees vir hom.

Onlangs sê ʼn man vir my dat sy vrou persies weet hoe om hom tot ander insigte te bring wanneer hy dalk ʼn mal perd opsaal. Dit is asof sy agter hom staan en net ʼn ligte plukkie aan sy kruisbande gee. Dit bring hom tot nugterheid. Wanneer haar ridder uitgaan om die monsters van die buitewêreld te beveg, moet die man die versekering hê dat sy vrou hom liefdevol terug sal verwelkom, maak nie saak wat die uitkoms van sy oorlog was nie. Mans het ʼn baie hoë streslading, want hulle voel dat hulle primêr die versorger van die gesin is. Al is hulle nie al broodwinner nie, is mans steeds geneig om die plig vir die finansiële versorging van die gesin op hulleself te neem. Daarom is dit noodsaaklik dat die vrou poog om die huis soos ʼn rustige oase vir hom te laat voel. ’n Veilige hawe waar hy kan onlaai en sy kragte weer kan opbou.

Die bekende skrywer Charles Dickens het gesê niemand is nutteloos in hierdie wêreld as hy ander mense se laste ligter maak nie. Dat dit dan julle albei se roeping in julle huwelik wees, om mekaar se laste ligter te maak. Doen daarom moeite om uit te vind hoe julle dit vir mekaar kan doen. En doen dan moeite om diensbaar aan mekaar te wees.