Wildvang met nette

Ek het die wonderlike voorreg gehad om te sien hoe hulle wild met ‘n helikopter vang.

Die uiters vaardige helikoptervliënier bring die bokke een vir een aan tot op ‘n veilige plek, waar die net-so-vaardige skut dan ‘n net na hom skiet wat hom verstrengel. Ongelooflik!

Die bok doen sy bes om nie gevang te word nie, hy doen alles in sy vermoë, maar die helikopter met die skut is hom net een voor. Al manier wat hy uit die vangnet kan bly, is om iewers te skuil waar die persoon in die helikopter hom nie kan raaksien nie, om doodstil te staan, selfs al wil hy eerder vlug.

Ek kon nie anders nie as om te dink aan die duiwel wat daarop uit is om ons in sy net te verstrik. Eintlik het ons nie ‘n kans teen hom nie, hy is net so slim, so vinnig, so slinks. Ons kan regtig alles in ons vermoë doen om uit sy kloue te bly, maar as hy ons eers in sy visier het, is die kans goed dat hy suksesvol sal wees.

Behalwe as ons skuil onder die sambreel van Jesus. Behalwe as ons ons vertroue in Hom stel, selfs al is ons verskriklik bang, selfs al is dit menslik onmoontlik.

Want God is sterker as die vyand wat kyk wie hy kan laat struikel. Jesus het hom reeds oorwin. Ons krag lê nie in onsself en ons eie, menslike pogings nie, maar in stilwees en vertroue op Hom. Nou praat ek sommer die hardste van almal met myself, want ek is ‘n doener en ‘n prater. Stilwees is regtig buite my karakter.

Maar, met God is alles moontlik. Hy sal ons deur die moeilike situasies lei. Hy sal ons deur die onmoontlikste tye help en ons beskerm teen die vangnet van die duiwel. Daarvan kan ek uit ondervinding getuig.

Sterk wees!

Toortsie