Winterwonder

Herfs was nog altyd vir my een van die mooiste tye van die jaar. Nie net oor die mooi van die blare nie, maar ook omdat dit ‘n drumpelseisoen is. Die byt in die lug laat jou skielik besef dat dinge aan’t verander is en dat dit tyd is om plek te maak vir warm klere en ‘n ekstra kombers.

Dis asof herfs ‘n mens skielik dankbaar maak vir die sonstrale wat darem nog daar is, vir die vars lug en vir die landskap wat voor jou oë verander – van grasgroen tot gelerig tot ‘n gestroopte bruin.

Dan kom die dag waneer jy die oorgang moet maak – alles wat lapperig en dun is word weggepak en jy maak plek vir musse, serpe en truie, jasse en stewels. Mense in koue plekke kry die donsduvets uit en skaapvelpantoffels word hulle aand- en naweekskoene.

In die noorde is die reën weg en die enigste lastigheid is die kanse op veldbrande en die ewige rookreuk in die lug.

Daar is baie dinge wat lekker is aan winter. Vir die wat nog mag kaggelvure brand, is dit sekerlik een van die groot lekkertes. Met ‘n sjerrietjie, ‘n glas rooiwyn of gluhwein of warm sjokolade.  Selfs gewone koffie en beskuit kry skielik nuwe betekenis wanneer dit koud is. Dis ook sitrustyd, met nawels en naartjies, die natuur se manier om vir vitamine C te sorg.

Winter is ook sinoniem met soppe en bredies, eisbein en potjiekos, melkkos en pannekoek. En jy mag maar ‘n bietjie meer eet want daar is wegkruipplek in jou dikker winterklere.

Winter stroop ons van pretensie, maak ons almal gelyk – met dieselfde droë velle en rooi neuse, dieselfde verkoue-gesnuif en simpatieke kyke wanneer ons saam toustaan in die apteek vir hoesgoed en bruistablette.

Maar winter is ook tyd vir dankbaar en eerlik wees. Oor jou eie oorvloed en die feit dat jy jou gesin kan warm hou.

Mag ons ons harte en hande oopmaak vir dié wat koud kry en honger is, vir wie winter ‘n stryd is om aan die lewe te bly.