Woedend, want hy was onttrou …

0
38
woedend_want_hy_was_onttrou.jpg

Daar is die klein jakkalsies en die dinamiet-ontploffings, soos die dag toe jy uitvind hy verneuk jou.

Dít is die klein jakkalsies wat gereeld opduik, soos die laat werkery of vuil kombuis. Maar daar is ook ernstige kwessies wat jou woedend maak en veel dieper strek. Dit gaan gewoonlik met ander emosies soos skok, teleurstelling en vernedering gepaard.

Wat maak jy as jou maat byvoorbeeld geld verduister, in ’n buite-egtelike verhouding betrokke raak of vir jou lieg? Plant jy oopgemaakte blikkies tuna onder sy motorsitplek, of lap jy sy geheime aan die wêreld uit?

Of vergewe jy hom?

Ek moes my woede oorwin

Susan, 43, het haar tweede man Hennie, 47, onvoorwaardelik vertrou. Skaars vier jaar later het sy egter onraad vermoed, en toe ontdek sy dat hy ’n buite-egtelike verhouding met ’n kollega het.

Sy het nie die moed gehad om hom te konfronteer nie, maar haar woede en teleurstelling het veroorsaak dat sy fisiek en emosioneel van hom onttrek het. Die verhouding het drasties agteruitgegaan. Eindelik het die paartjie hul tot huweliksberading gewend, waar Susan alles op die lappe gebring het. In plaas daarvan om met sy kop in sy hande neer te sak en te sê: “Ek kan verduidelik …” (soos in die flieks!), het hy kwaad en verontwaardig gereageer omdat sy kwansuis sy privaatheid geskend het. Uiteraard het sy weiering om verantwoordelikheid te aanvaar Susan kwater en seerder gemaak. Later was sy moeg gestoei met gevoelens van vernedering, verwerping, woede en hartseer, en sy het uitgetrek.

Dié storie het egter ’n gelukkige einde. Die paartjie het vir individuele berading gegaan en drie maande later het hy een nag aan haar deur kom klop. Hy was ’n wrak en vir die eerste keer bereid om sy aandeel in die verbrokkeling van hul verhouding te aanvaar. Hy het vergifnis gevra en Susan was bereid om dit te gee.

Vandag, twee jaar later, is die paartjie se verhouding sterker as ooit.

Woede in ’n verhouding is normaal

Woede is deel van die tweede fase waardeur alle verhoudings gaan, naamlik die magstryd, verduidelik Petro de Wet van Imago-Africa.

“Tydens ons kinderjare vorm ons onbewustelik ’n prentjie van liefde (ons imago), gebaseer op ervaringe van ons ouers of diegene wat ons versorg. Op grond van hierdie prentjie kies ons dan ’n lewensmaat. Iemand met ’n afwesige of ongeduldige ouer dink byvoorbeeld dit is hoe liefde lyk, en raak verlief op ’n ewe afwesige of ongeduldige maat.”

Imago glo dat die doel van die huwelik nie eerstens is om ons gelukkig te maak nie, maar om die emosionele wonde wat ons as kinders opgedoen het, te herstel.

[pagebreak]

Volgens die Imago-benadering gaan alle verhoudings deur ’n aantal fases. Fase een is verliefdheid, waar iemand voel hulle het ’n huweliksmaat gekry wat hulle ewig gelukkig sal maak. Twee jaar later daal die endorfienvlakke en tree die magstryd in, waar die fokus hoofsaaklik op die verskille begin val. ’n Paartjie begin oor bykans alles baklei. Kritiek, blaam, onttrekking en manipulasie word gebruik om die ander persoon se gedrag te probeer verander – natuurlik sonder sukses! Die fase gaan met baie woede gepaard. Die uitgangspunt van Imago is dat woede ’n sekondêre emosie is. Agter die woede lê seerkry, vrees en frustrasie.

Woede moet uit!

Woede waaraan nie uiting gegee word nie, kan depressie veroorsaak, maar mense wat woede-uitbarstings kry, kan weer hul maat baie erg met woorde seermaak.

“Dit is baie belangrik dat iemand wat met groot woede teenoor sy maat sit, binne ’n redelike tyd tot die punt kom waar hy besluit oor die toekoms van die verhouding. En indien die besluit sou wees om met die verhouding voort te gaan, moet albei partye commit om aan die probleem te werk en die verhouding te herstel,” waarsku Lenie.

“Deur onbepaald met onopgeloste woede rond te loop, is meer negatief vir die persoon wat kwaad is as vir die oortreder.”

Volgens Lenie is die drie grootste oorsake wat woede in huwelike veroorsaak geld, ontrouheid of die verbreking van vertroue en kinderopvoeding.

Jy kan woede of vergifnis kies

Die sleutel tot ’n ommeswaai in jou huwelik is egter om jou maat te vergewe.

Vergifnis is ’n wilsbesluit, meen Lenie. “Solank as wat jy nie vergewe nie, bly jy vasgevang in ’n maalkolk wat jou vermoë om volledig te lewe – en die lewe te geniet – belemmer.”

Baie vroue voel so afgemat deur hul mans se liefdelose hardvogtigheid dat hulle hopeloos voel. Sulke vroue het hul mans al keer op keer probeer vergewe, maar om hom sonder respek te behandel lyk na die enigste manier waarop sy kan oorleef.

Baie vroue voel skuldig oor hul woede en is gefrustreerd aangesien dit ’n groot rol in die verbrokkeling van hul verhoudings speel.”

Daar is egter ’n beter manier om woede te hanteer. Dit is deur te sê: “Ek is woedend en bitter oor wat my man gedoen het.” Dit doen jy deur te bely dat jy woede en bitterheid in jou ronddra. Daarna moet jy jou bitterheid teenoor jou maat bely en om vergifnis vra. Die geheim is om aan te hou vergewe as jou maat ook bereid is om te verander.”