Woeker met wat jy het

465
Elma Postma

Op 41 besef ELMA POSTMA dat sy haarself nie aan ’n nommer moet koppel nie. Die lewe se kinkels en draaie maak elke dag ’n nuwe begin.

Kyk … kyk wéér … en toe tref ’n oomblik van helderheid my kolskoot in ons woonkamer. Dit was ’n stokou heruitsending van 7de Laan, ’n dekade of wat gelede geskiet. My karakter, Dezi is op haar stukke, maar dié keer sien ek iets anders op die TV-skerm raak. ’n Gewaarwording wat slegs met die verloop van tyd en ’n bietjie meer lewenservaring, duideliker word.

“Siestog,” flits die gedagte deur my kop, “so ’n gladde ou dogtertjie”. Onaangeraak deur die lewe. Mooi handjies. Sagte vel. Nie ’n krakie in sig nie. Nog só jonk en onervare. En op ’n manier, onvergenoegd oor baie dinge.

Daar was soveel goed van myself wat ek op daardie ouderdom gehaat het. Die vorm van my lyf (wat eintlik niks makeer het nie), ’n afhanklikheid van ander mense, ’n soeke na liefde, die behoefte om almal tevrede te stel, ’n strewe na perfeksie …

Gelukkig bring tyd insig mee, en word dit stelselmatig ’n reis na ’n groter bewustheid – die vermoë om jouself en die lewe te sien soos wat dit is. Dit te aanvaar, rustig daaroor te raak en die hier en nou te geniet.

Om die groot veertig te slaan het my eers so ’n bietjie laat skrik … die idee dat min of meer die helfte van die lewe nou verby is en dat dinge van hier af net afdraande loop.

Dié besef duik soms op die snaaksste plekke op. Soos nou die dag, toe my oog ’n onvleiende skoot in een van die monitors op die stel van Isidingo vang. “Watse neklyne is dit daardie? Waar kom dit vandaan?” Skielik is daar plooie wat nie laasjaar daar was nie.

’n Mens kom agter jou lyf is besig om te verander, en daar is nuwe pyne wat kop uitsteek. My gedagtes loop dan sommer wye draaie: “Is dit ’n permanente besering? Dalk die begin van ’n ernstige siekte?”

Maar dit pla net vir ’n oomblik, want met ouer word, kom die insig dat elke skeet en lyn ’n storie vertel. Dat plooie karakter gee en die hartseer en blydskap in jou siel weerspieël – en dít maak dit mooi.

My uitkyk is die meeste dae positief: ’n Besef dat “veertig plus” eintlik ’n groot mylpaal is. Die eerste helfte is nou maar eers verby, wat beteken dat daar nog ’n ongelooflike vol tweede helfte voorlê.

Dis amper asof ek nuutgebore is, maar met die voordeel dat die basiese dinge soos loop en praat nou bemeester is. My nuwe lewe skop dus op ’n hoë noot af, want dit kan met soveel meer ervaring, kennis, herinneringe, nuwe idees en beter vermoëns aangepak word.

Dit was ’n trotse oomblik nou die dag by die oefenklub toe ek ’n swaar gewig kon optel wat die jonges laat steun en kreun het. Sjoe, dit was ’n lekker gevoel! Fisiek is ek nou soveel sterker en meer gemotiveerd as in my jonger jare.

Die fokus het verskuif van “gewig verloor en die perfekte lyf nastreef”, na “maak die beste met wat jy het”. Daar is deesdae ’n baie groter waardering vir hoe my liggaam funksioneer, ’n bewustheid van hoe elke deel beweeg, en dít maak dit lekkerder om te oefen en uit te vind wat werk en wat nie.

Die slim mense sê dis beter om buigbaar te wees in jou denke as om vasgevang te raak in ’n vasgestelde manier van dink en doen.

Ek stem saam. Om elke dag ’n klein bietjie te verander – en ook jou strukture en roetines daarby aan te pas – help om hierdie buigsaamheid te kweek. Daar word juis gesê ’n mens styg nie na die vlak van jou doelwitte nie, maar daal eerder na die vlak van die sisteme wat jy in plek het.

En van die dinge waarna ek streef, is om soos ’n gesonde mens te dink. ’n Goeie balans te vind, want spaar my die drama om ooit weer op ’n dieet te wees! Elke eetplan onder die son is al probeer, sonder sukses. Nou poog ek om eerder te luister na hierdie lyf, om gemaklik daarin te voel, en te doen en te eet wat voordelig is.

Soos om eerder ’n slaai as ’n hamburger, of ’n skinny cappuccino in plaas van poeding te kies. Maar ook om ’n sny koek of paar blokkies sjokolade te geniet, sonder om skuldig te voel en dan alles te verorber.

As ek nou op die skaal klim en swaarder weeg as verlede week, wat daarvan? Daar is darem nog my persoonlikheid!

Vir ’n geswore people pleaser het dit ook makliker geword om vir ander dinge “nee” te sê.

In my jonger dae was daar dikwels die druk om by rooitapytfunksies gesien te word. Die gevoel om te móét netwerk en skouerskuur met die regte mense by die regte plekke om in die bedryf vorentoe te beweeg. 

Dis nou nie meer so belangrik nie, want my prioriteite het verander. Die groter prentjie raak al hoe duideliker. ’n Mens leer dat dit beter is om eie te wees aan jouself as om gedurig aan ander se verwagtinge te probeer voldoen.

Dis ’n gegewe: Ek gaan nooit almal tevrede stel nie. Wat ’n verligting om dit te besef!

 Ek haat dit byvoorbeeld om hakskoene te dra – dit druk en maak seer en word gewoonlik uitgeskop, doer in die hoek, so gou as ek kan. Daarom is dit lekker om nou meer kieskeurig te wees oor watter uitnodigings aanvaar word en watter nie. Dis ongelooflik bevrydend.

Hierdie hele nuwe lewensfase voel eintlik soos ’n deurbraaktydperk; ’n ontdekking van hoe ek graag die res van my lewe wil leef. ’n Besef dat geluk en sukses toe nie opgesluit lê in roem en rykdom, maar in die kleiner, eenvoudiger dinge.

Tyd het kosbaar geword, daarom wil ek mooi besin hoe om dit te gebruik. As ’n mens nie besluit wat belangrik is en wat nie, gaan jy altyd beskikbaar wees en altyd op standby lewe.

Dis hoekom ek fermer oor sekere dinge geraak het. Wanneer ons besluit om weg te gaan met vakansie, is ek nie beskikbaar vir enigiets anders nie. Punt. Groot oudisies is al prysgegee as gevolg hiervan … en hoewel my werk baie lekker en vervullend is, is my huislewe, hartsmense en innerlike vrede belangriker.

Om tyd te koester beteken ook dat daar nie meer so van die een ding na die ander gejaag word nie. Daar word doelbewus tyd gemaak om tot stilstand te kom. ’n Gunstelinggewoonte is om in die oggende voor werk te mediteer. Dit is dan nog lekker doodstil, en dit is so asof my lewe meer sin kry as ek daardie stilte inlaat.

Partymaal is die hunkering na materiële goed steeds daar, maar die gehegtheid daaraan raak minder. Daar is juis ’n sê-ding dat ’n mens baie seer in die lewe kan ervaar as jy te geheg raak aan iets: aan idees, mense, geld of jou werk.

Vandat ek dit in my agterkop ronddra en minder verknog is aan goed, is die teleurstellings, frustrasie en pyn ook beslis minder. 

Die soeke na goed wat geld nie kan koop nie, het groter geword.

Vir my is ’n kwaliteit lewe opgesluit in die samesyn van lag en gesels saam met familie en vriende. Om ’n glas wyn te kan geniet en na die sonsondergang te kyk. In die reuk van ’n braaivleisvuur en die vrede om na die vlamme staar. Om ’n boek te lees, na mooi musiek te luister en my gedagtes in ’n dagboek neer te pen. Te kook en nuwe resepte te probeer. Ook om genoeg te slaap, en in die bederf om soms vir ’n uur lank met my ma te kan gesels.

Geluk lê ook in die vryheid om net rustig te kan sit op die stoep – ondanks die lagie stof om my – en net die lieflikheid van die oomblik te kan indrink. Want deesdae vra ek myself al hoe meer af: “Hoekom moet dinge altyd so perfek wees?”

Waarom moet die stoep eers skoon wees voor ek die kruie wat daar geplant is, kan waardeer? Hoekom moet al die skottelgoed eers gewas wees voor ek tot ruste kan kom? Waarom ongelukkig raak en soos ’n mislukking voel, elke keer wanneer my selfopgelegde reëls en sperdatums nie gehaal word nie?

Ek kyk na oorsese bekendes en staan dikwels verstom. Dis vir hulle geen probleem om op straat gesien te word presies soos hulle daardie dag wil lyk nie. Opgetof of slonsig – dis hulle saak. By my werk dit so ’n bietjie anders. Dit was nog altyd belangrike om goed in die openbaar te lyk.

Daarom is dit ’n groot persoonlike deurbraak wanneer ek dit wel regkry om uit die huis te gaan en te lyk soos ek op daardie dag wil lyk: soms sonder grimering of geblaasde hare. Een klein treetjie op die reis om my ware, outentieke self beter te leer ken.

Daar het al heelwat persoonlike groei plaasgevind. ’n Groter gemaklikheid met wie ek is en hoe ek oor sekere goed voel. Waar ek voorheen sou stilbly, is dit nou makliker om my sê te sê. Ek is minder naïef en meer versigtig om mense te vertrou. 

Daar is ’n groter sensitiwiteit teenoor ander se omstandighede en die gevoelens wat daaruit voortspruit … ek oordeel nie so gou soos in die verlede nie. En komplimente word effens makliker as voorheen aanvaar.

Dis lekker om sagter met myself te werk, en ’n verrassing om te besef dat die lewe eintlik lekkerder word soos wat die jare aanstap.

Jy besef: dis oukei om soms werk opsy te skuif en impulsief vir ’n naweek uit die stad uit weg te breek. Om nie alles te weet, altyd sterk te probeer wees of my swakhede weg te steek nie.

Dis ook aanvaarbaar om soms broosheid te wys, voor vreemdelinge te huil, of selfs te baklei as dit moet.

En wanneer ek die dag ’n bietjie meer luidrugtig as gewoonlik voel en ’n paar snaakse kyke kry, is dit ook in die haak.

Vir iemand wat altyd die hoofmeisie van alles was (skool, koor, orkes) – die een wat by die reëls hou en daarna streef om alles “reg” te doen – is dit wraggies bevrydend om nie altyd so verdomp korrek te wees nie.

Die maskers is besig om een vir een gestroop te word, en dis goed so.

Dit is wat ek tydens damesoggende en motiveringspraatjies oor die lewe by vroue bo veertig wil tuisbring.

As ’n mens fyn luister, kom jy gou agter dat die meeste vroue worstel met dieselfde uitdagings: om hulle mans gelukkig te hou … ’n ma te wees wat oulike, gebalanseerde kinders grootmaak … wat tevrede kan wees met hulle gewig … na waarde geskat word by die werk … inpas by hulle sosiale groep.

Dit laat my met ander oë na ons reis deur die lewe kyk. Vroue vergeet soms hoe mooi en sterk, interessant en misterieus hulle is, en hoeveel mag hulle het.

Almal het opgekropte seer en frustrasie. Ons word so gebombardeer met sosiale media en miljoene artikels oor hoe om “’n beter jy te wees”, dat ons vergeet van die eenvoudige, basiese goed wat ons reeds het en rééds is. 

Ja, ek is ook skuldig hieraan, en het al soveel keer gewens dat ek anders kon lyk, anders gebou kon wees, slimmer was … maar hoeveel tyd word nie hierdeur gemors nie? 

’n Groot doelwit by die praatjies is om net één gedagte by vroue te los: selfondersoek. Waarmee hou jy jouself besig in die lewe? Wat kan jy aan jou manier van dink en optree verander? Wat kan jy oor jouself vier?

Dit beteken baie as ’n liggie in iemand se oë aangaan. Dis lekker as vroue na die tyd kom dankie sê.

Maar ek moes ook leer om minder sensitief te wees, want almal kan nie tevrede gestel word nie – onthou?

Soos die keer toe ’n vrou in die gehoor aan die slaap geraak het. Ek het selfs harder begin praat … maar sy was steeds in droomland!

In die verlede waar ek myself oor so iets sou kasty en dalk sou oorreageer, word daar nou met groter insig en perspektief daarna gekyk. Dalk het sy ’n laataand gehad, of medikasie gebruik wat haar lomerig maak. Dalk lê die probleem nié by my nie, of miskien moet ek juis ’n paar veranderinge aan my aanbieding maak.

’n Deel daarvan is om sagkens met jouself te werk en realisties en positief na situasies te kyk.

Anders as in my twintigs en dertigs, observeer ek beter. Daar is ’n groter empatie teenoor mense. As iemand my konfronteer, sal ek eerder vra: hoekom? Wat is die storie agter die storie? Miskien voel die persoon omgekrap oor iets anders. Dalk is dit nie ’n persoonlike aanval nie.

Ook wanneer mense vra wanneer ek en Paul gaan kinders kry – “jy is immers bo 40” – ontstel dit my nie meer nie. “Wanneer die tyd reg is,” antwoord ek, “want dinge gebeur soos dit moet”. Maar dankie dat jy belangstel.

Dit was vir my een van die groot lesse. Dat ’n mens nie in beheer is van alles in die lewe nie. Daar is ’n groter plan uitgewerk, en dit moet toegelaat word om te ontvou.

Met die terugkykslag oor my lewe besef ek telkens hóé waar dit is. Verhoudings wat nie uitgewerk het nie … rolle wat deur my vingers geglip het … mense wat ek verloor het. Dis alles deel van ’n groter prentjie. 

Daar was nou die dag ’n aanhaling op Finesse se Instagramblad wat my baie diep laat nadink het: “As jy nie geweet het hoe oud jy was nie, hoe oud sou jy wees?”

My gevoel? Ek is so oud soos elke ouderdomsfase tot nou toe. In sommige situasies voel ek nog bloedjonk en onervare. Op die verhoog, sekondes voor die gordyn oopskuif, klop my hart steeds wild in my borskas. My handpalms sweet. Vreesbevange … al is ek al vir twintig jaar ’n aktrise! Op ander dae, moeg en uitgeput, voel ek sommer stokoud.

Ons plaas soveel klem op ’n getal … oor wat waarskynlik nog gaan gebeur en moet gebeur, dat ons die wonder van die hier en nou miskyk.

Daarmee wil ek nie ontken dat ek veertig plus is nie, dis die realiteit, maar ek gaan nie in enige negatiewe of geykte denke daaroor verval nie. 

Inteendeel, hierdie is maar nog net die begin van ’n wonderlike nuwe lewe, en ek is van plan om elke oomblik met oorgawe te geniet.