Wonderpark met wolke

“The joy of the Lord is my strength” … dis die woorde wat vanoggend in my kop kom lê het.

Die nag was om een of ander rede onrustig. Hoe wonderlik dan dat ‘n versie van nêrens af in my hart kom nes maak. Nee, dalk nie van nêrens af nie, dit kom van êrens, van ‘n dag in my lewe toe ek hierdie vers gekry het en gestoor het. In my hart bewaar het tot ‘n Goddelike hand dit weer in my gedagtes geplaas het.

Die waarde van Bybel lees en stiltetyd kom dikwels op vreemde plekke en maniere tot uiting. Die goeie gewoontes wat dalk nie elke dag sin maak nie maar jou dra wanneer jy dit regtig nodig het.

Oppad werk toe gister  hoor ek hoe Brad op Radio Kaapse Kansel praat oor die verskil tussen “happiness”and “joy”. Vreugde en geluk. Die een kom van binne ongeag wat buite gebeur, die ander word beinvloed deur omstandighede.

Mense en omstandighede kan jou ongelukkig maak maar dit hoef nie jou vreugde te steel nie.

In die fliek “The Wonderpark” wat ek saam met my jongstes gaan kyk, raak die fantasie wêreld wat die dogtertjie in haar kop optower weg toe haar hart vol kommer raak oor haar siek mamma. Wanneer sy op n dag per ongeluk ‘n stukkie van haar “wonderpark” weer ontdek is sy verstom hoe sleg dit lyk.  Sy begin verstaan dat sy self toegelaat het dat slegte monsters oorgeneem het en besig is om haar park te vernietig.

Daar is soveel waarheid daarin. Ongemerk laat ons toe dat die sorge van die lewe ons vreugde steel. Ons verloor dan die vermoë om die mooi raak te sien en die wonder van die lewe te vind.

In die fliek kry sy dit reg om die wonderpark te herstel. Daar bly egter ‘n wolkie oor. Sy kry die insig dat daar dalk altyd ‘n wolkie sal wees maar dalk is dit juis die wolk wat ons herinner hoe kosbaar die lig is.

Met paasfees op hande, is die kruis dalk die herinnering hoe nodig ons die Lig het.

“The Joy of the Lord” is ons fort wat ons teen die sleg kan beskerm. Daar sal altyd wolkies in ons lewe wees wat ons nie kan keer nie maar nooit mag ons toelaat dat die sleg ons so oorweldig dat die lig en wonder uit ons lewe verdwyn nie.

The joy of the Lord is my strength…en daarin verbly ek my.