Wonderwerke gebeur nog, sê Anders se Wynand en Lindi

1162
Wynand en Lindi van Anders

Albei was op die randjie van die dood. Sy, gebukkend onder die donker wolk van depressie. Hy, leweloos ná ’n fratsverdrinking. Die broosheid van lewe en dood, opgesluit in getuienisse.

Wynand en Lindi Delport van die musiekgroep Anders. Man en vrou wat kan getuig… Wonderwerke gebeur vandag nog.

at gaan aan, Pa?” Dinge was nie meer dieselfde by die huis nie. Hoekom nie?

“Ek het lief geword vir ’n ander vrou,” het hy stilweg gesê.

Oë wat rek. Maag op ’n knop. Hoor ek reg?

“Wel, Pa sal ’n keuse moet maak.” Die tiener in my nog dapper en selfversekerd. “Dinge kan nie so aangaan nie.”

Pa hét toe gekies. Daardie selfde aand nog is ons bymekaargeroep en ingelig.

“Ons het besluit om te skei.” Daar was nie ’n mooi manier om die slegte tyding oor te dra nie.

Ek het die volgende oggend met dikgehuilde oë skool toe gegaan. Die wêreld het in een oomblik inmekaargestort, my ingebore lewensblyheid het verdamp. Die gevoel van verwerping was soos diep dolksteke in my hart.

Dieselfde dag wat Ma en ons kinders uit die huis getrek het, het die ander vrou en háár kinders ingetrek.

Die warmte van ons hegte gesin was yskoud en klinies uitmekaargeskeur.

En wanneer dit alleen en stil was, het die stemme gekom. Dit was amper hoorbaar in my kop: Jy is nie goed genoeg nie. Jy hoort nie op die aarde nie. Jy is niks!

My lewe het so erg uitmekaargeval dat ek en Wynand naderhand uitgemaak het.

Vandag weet ek dit was goed so, want toe kon die fokus uiteindelik van mense na God verskuif. Nou was Hy my enigste hoop.

’n Sielkundige het hierdie verskriklike gevoel ’n naam gegee. “Jy het depressie, in ’n baie erge graad.”

Dit was amper ’n verligting om ten minste te weet wat fout was.

Medikasie kon help ja, maar ek wou niks daarvan weet nie. Die besef was net daar: In jou geval is hierdie ’n geestelike stryd, ’n oorlog wat op ’n geestelike vlak geveg moet word. ’n Stryd wat ek graag saam met die Here wou aanpak.

Die wegbreek-Bosveldnaweek saam met my sussie-hulle kort daarna was pure genade.

Dit was skemeraand toe ek alleen tot bo-op ’n heuwel klim om na die sonsondergang te kyk. Al biddend en smekend teenoor die Here: “Vat asseblief hierdie depressie weg. Asseblief!”

En daar, in die stilte en grootsheid van die natuur, was dit skielik asof my ore oopslaan. Asof die Here self die woorde in my hart kom lê: “Jy kan genees word. Maar jy sal moet wíl.”

Dis reg, Here. Natuurlik wil ek! En daar, op die bultjie onder die sterrehemel, word die besluit geneem om gelukkig te wees. Om teen die hartseer Sý beste vir my lewe te kies.

Dit was ’n keuse-oomblik waarin alles verander het. ’n Wonderwerk.

Skielik was die vreugde terug in my hart. Die donderwolk het gelig.

Dit was ’n ander mens wat daardie aand met die heuwel afgestap het. ’n Ander meisie wat teruggekeer het skool toe.

Die ou Lindi was weer terug, met ’n hart vol dankbaarheid en verwondering oor die genesing wat so skielik en volkome gebeur het.

Daar is baie lesse uit my ervaring te leer. Soos dat die vyand graag steel waar dit die seerste maak.

Ek was altyd ’n positiewe mens. Iemand wat hou van lag. Dat daardie vreugde gesteel is, het my ampertjies verpletter. Vandag beskerm en koester ek dit.

Ek het ook geleer dat tyd herstel bring. ’n Ruk lank was daar ’n worsteling met bitterheid in my hart, maar tyd het my tot by die punt van vergifnis gebring.

Joyce Meyer het dit eenkeer mooi verduidelik: “As jy dink jy het iemand vergewe, verbeel jou daardie persoon vra vir hulp. Is jy bereid om te help? Indien nie, is daar nog nie volkome vergifnis in jou hart nie.” Sulke waar woorde!

In my eie lewe het vergifnis nie oornag gebeur nie, maar dit het mettertyd volkome geraak. Soveel so dat my pa se nuwe vrou uiteindelik een van my beste vriendinne geword het.

Die verhouding met my ma het ook heeltemal herstel. Ná die egskeiding het ons vreeslik baklei. Elkeen toegespin in sy eie kokon van pyn en verwerping.

Wynand het self ’n kragtige getuienis wat sy geloof help vorm het…

Hy vertel: Nog voor my ma geweet het van haar swangerskap, het ’n pastoor kom sê: “Die kind wat jy dra, gaan nog eendag groot dinge vir die Here doen.”

Sy het daardie woorde nooit vergeet nie. Veral nie in die senutergende week langs haar baba se hospitaalbed nie.

Dit het alles op ’n gewone wasdag begin. ’n Vinnige gesels oor die foon, terwyl baba op sy waggelende beentjies verbydraf met Pa se stink sokkies in die hand.

Ma sê ek wou blykbaar net help. Sy het die hele oggend gestaan en doeke skrop, in een van daardie groot, blou doekemmers van ouds.

’n Klein bietjie water, skaars ’n duim diep, het in die bodem agtergebly. En toe lui die foon, slegs ’n paar meter weg.

Ma het aanhou gesels, en baba het naderhand stil geraak.

Toe sy omdraai om te kyk wat aangaan, kom die skok van haar lewe.

Die kind het koponderstebo in die emmer gehang. Gesig in die klein bietjie waswater. Waarskynlik oorgekantel, en toe verdrink. Lyfie al blou. Geen pols of asemhaling nie. Dood!

Histerie het losgebars, want die motor was in vir ’n diens en Pa het te ver gewerk om vinnig genoeg tot ons redding te kon kom.

Toe hardloop Ma oor na die bure toe, aan weerskante, maar niemand was tuis nie.

Die huisdokter was haar laaste hoop, maar sy kar was óók in vir ’n diens.

“Toemaar, Mevrou, daar is ’n plaastrok op die werf. Ek is nou daar!”

Ma het probeer kophou. Met die babalyfie in haar arms na die voortuin gestorm, sodat sy die dokter op die sypaadjie kon inwag.

Die lewelose lyfie is op die gras neergelê. Mond-tot-mond-asemhaling probeer, maar niks wou werk nie.

Toe begin Ma bid. Só vurig dat ek blykbaar self begin asemhaal het, maar die gevaar was nog lank nie verby nie.

Die dokter het met ’n groot gebriek gestop, ons in die bakkie gelaai en hospitaal toe gejaag.

’n Nagmerrierit. Stuurwiel in die een hand en klein Wynandjie in die ander, terwyl hy skree en slaan so tussen die draaie, ratte en pedale deur. “Huil, Wynand, huil!”

Ma het saamgebid en saamgehuil.

Mense sê soms dokters gee net slegte nuus. Eintlik dra hulle net die harde feite oor. Iemand moet dit doen. “Julle seun gaan ongelukkig algehele breinskade hê. Hy gaan waarskynlik blind en verlam wees, en dalk nie kan praat nie. Baie jammer, maar daar is niks wat ons kan doen nie.”

My ouers was verpletter. Tog waar daar hoop is, is daar ’n uitweg.

Ma kon dit nie aanvaar nie.

“Here, hoe kan U hierdie seun gee, ons laatlam, net om Hom weer weg te vat?”

’n Dag of wat later het my toestand halfpad verbeter. Na ’n week het die ander helfte van my lyf ook begin saamwerk.

Dit was tyd om die masjiene te ontkoppel, maar ’n ouer moes teenwoordig wees. Pa het hierdie verantwoordelikheid op sy skouers geneem en langs die bed kom staan.

Toe gaan my oë oop en die eerste woord wat uitkom is: “Daddy”. Die tweede woord: “Eina”.

Pandemonium het losgebars in die hospitaalgange. Dokters en verpleegsters het heen en weer gehardloop om masjiene en monitors na te gaan. Want wat gebeur het, was onmoontlik! Klein Wynandjie moet dan sonder woorde, gevoel of verstand wees. Hoe nou?

Wat so pas gebeur het, was ’n wonderwerk!

Uit hierdie amperse tragedie is daar geleer dat die slegte dinge wat soms gebeur, nie die Here se toedoen is nie. Hy kan wel enige situasie omkeer in iets goeds. Soos dat my getuienis mense herinner dat daar krag in gebed is.

Daar is steeds baie dinge in hierdie wêreld wat onverstaanbaar bly. Soos hoekom party kinders gered word en ander nie.

Ek het nie antwoorde nie, maar wat ek wel weet: “If God were small enough to be understood, He would not be big enough to be worshipped.”

Sy ingryping in my lewe was genade, en daarom maak ek seker dat elke dag tél.

Die feit dat Wynand en Lindi se paaie gekruis het, was ’n stukkie genade op sigself…

“Ons was nie in dieselfde skool nie, maar het in die kerk ontmoet. In dieselfde jeugorkes,” vertel Wynand. “Sy het my oog gevang soos ’n mooi blink dingetjie ’n kraai se aandag trek.”

“Maar dit was nie vir een van ons liefde met die eerste oogopslag nie,” onthou Lindi. “Eerder twee mense wat lank mekaar se geselskap as vriende geniet het, en toe stelselmatig verlief geraak het. Dit is seker een van die beste maniere om ’n verhouding te bou. Met tyd en vriendskap as basis.”

Vir Lindi lê die geheim van liefde daarin om iemand se binneste goed te leer ken. “Ek het op Wynand se hart verlief geraak. Selfs vandag nog, in daardie oomblikke wanneer ek so kwaad raak dat ek hom met ’n pan kan bykom, kan ek my steeds nie die lewe sonder hom indink nie,” sê sy laggend, en knipoog vir haar man.

So lekker soos hulle kan saamwerk en saamsing, so menslik is hulle ook.

“Dis waar ja, maar in ons huwelik gaan dit nie oor ek en jy teen mekaar nie,” verduidelik Wynand. “Eerder: ek en jy saam teen die probleem. Soos hierdie woorde dit stel: “Saying sorry does not always mean I was wrong. It simply means I value the relationship more.” Die verhouding is belangriker as wie die geveg wen.

“As iets pla, los ons dit op. Dadelik,” beaam Lindi. Dis ’n vennootskap van gee en neem. ’n Aanslag wat hulle vandag ’n gedugte span op die verhoog maak. Twee mense wat saam hulle roeping uitleef: om siele te wen en lewens te verander deur musiek.

Die naam van hulle groep, Anders, lê vir Wynand en Lindi veral na aan die hart. Nie net omdat hulle destyds met ’n nuwe klank in gospelmusiek wou eksperimenteer nie, maar ook omdat hulle daardie andersheid prakties wou uitleef.

“Ons was nog jonk getroud, by ’n kerkdiens, toe die pastoor praat oor die deel waar die Here sê: Wees heilig, want Ek is heilig,” vertel Lindi. “In die vertaling wat hy gebruik het, is die woord ‘anders’ in plaas van ‘heilig’ gebruik.” Dus: Wees anders, want God is anders.”

“Ons het dadelik daarby aanklank gevind,” sê Wynand, “en het net daar besluit dit is hoe ons ook wil wees. ’n Mens hoef nie noodwendig vir ander te sê jy is ’n Christen nie, hulle moet dit in jou lewe kan raaksien.

“Mense moet kan sien daar is iets wat in jou lewe skyn, wat jou joyful en anders maak. Dan kom hulle na jou toe met oop harte, en dan is die geleentheid reg om jou geloofstorie te deel.”

Wynand en Lindi hou nie van ’n gedweep en ’n gevingerwys nie. “Dit wat ’n mens doen, dra baiemaal meer gewig as dit wat jy sê,” som Wynand op. “Mense moet kan sien daar is iets anders aan ons, en daardie ‘iets’ moet Jesus wees.”

“Om anders te wees, beteken vir my om Sy beloftes en manier van doen na te volg, ongeag die omstandighede of hoe die wêreld voorskryf,” sê Lindi. “So is ons byvoorbeeld met almal in die bedryf vriende. Ons is loud, lag graag en hou van pret. Op die oog af is daar mense wat nie eers sal dink ons is gelowig nie, totdat hulle ons beter leer ken.

“Maar kernwaardes soos respek, onvoorwaardelike liefde, om nie te oordeel nie en om Hom die middelpunt van ons loopbaan en gesin te maak, bly die belangrikste. Dit is ook hoe ons ons dogtertjie gaan grootmaak.”

So, wie is Wynand en Lindi van Anders? Twee sielsgenote, passievol oor musiek. Twee lewens wonderbaarlik gespaar. Een doelwit voor oë.

Om in alles wat hulle aanpak, hulle bes te gee – in geloof, met die regte gesindheid, en dan op God te vertrou vir die res. Selfs al is dit deur lewe en dood, voorspoed en teëspoed.

“Want Hy het ons nog nooit in die steek gelaat nie.”