Word deel van die Vroue Wat Glo-beweging

0
223
liesel.png

Een was die “lelike eendjie”, ’n ander moes worstel met ’n werk. Nog een ken die stigma van ’n sekere voorkoms en die vierde een moes vasklou aan die lewe … Vir elkeen was geloof die kompas wat hulle koersvas gehou het.

liesel_krause_wiid_0.jpgLIESEL KRAUSE-WIID SÊ:
Omhels God se droom vir jou!

(predikant en sakevrou in Pretoria)

Ek het op dieselfde kleinhoewe noord van Pretoria grootgeword waar ek en my gesin, Siebert, Karmen (12) en Siebert (6), vandag bly. ’n Plaasmeisie met ’n bril, vlegsels en tandedraadjies. Die gespot oor my bril was al in graad 1 so erg dat ek dit opgehou dra het. Die klinieksuster het agterkom hoe moeilik ek sien en dadelik vir die onderwysers gaan vra “om seker te maak Lieseltjie dra haar bril”. Toe ek uiteindelik in graad 10 by die skool opdaag sonder my draadjies, met kontaklense én ’n nuwe haarstyl, was dit asof daar ’n nuwe kind in die skool was. My ervaring het my ’n baie sterk aanvoeling vir die randfigure in die samelewing gegee. As ek terugkyk, kan ek nie glo hoe bevoorreg ek vandag is nie! Die een dag preek ek, die volgende dag werk ek met skoonheidsprodukte en die volgende neem ek besluite as sakevrou in die Willa Krause Groep. Dan is daar ook televisie- en radiowerk, motiveringspraatjies, die skryf van boeke en artikels – én die voorreg om ’n mamma te wees. Ek swem in God se genade, en ek glo Hy wil ons almal so seën.

My groot passie is om ander te bemagtig om ook hulle Godgegewe droom te ontdek en uit te leef. Ek was in graad 11 toe ek met ’n Jeep op die plasie gery en dit gerol het. My liggaam was gebreek. Ek moes ’n hele kwartaal lank net op my rug lê en opkyk … As dit nie daarvoor was nie, sou ek nie vandag ’n predikant gewees het en God se droom vir my lewe kon uitleef nie. Hy gebruik ons seer én foute in Sy diens – as ons Hom toelaat om dit te doen.

Ek wil vroue graag aanmoedig om hulle talente, passies en gawes te ontdek. Hy het ons elkeen uniek geskep met al die eienskappe wat ons nodig het om ons droom uit te leef. Gryp God se droom vir jou lewe aan … daardie passie wat in jou hart brand!

[Pagebreak] venessa_schoeman.jpgVENESSA SCHOEMAN SÊ:
Jy is hier om ’n verskil te maak!
(redakteur van FINESSE, Vaaldriehoek)

Op skool het ek besluit om ’n dieetkundige te word. Ek het selfs ’n paar jaar my eie praktyk gehad. Maar die Here se visie was groter.

Ek en Coenie (uitgewer van FINESSE/Carpe Diem Media) het ontmoet, dolverlief geraak en binne ses maande getrou! Kort daarna het ons besigheidsvennote van ons eie tydskrif geword.

Ek was heeltemal tevrede om die gesondheidsrubriek te behartig. Maar toe ons ’n nuwe redakteur soek en niemand kry nie, het ’n besigheidskonsultant voorgestel dat ek die leisels oorneem. Ek? Nooit! Nes Moses het ek aan elke verskoning gedink hoekom ek nié die regte persoon was nie.

Gelukkig het God my tree vir tree gedra. Vandag is ek dankbaar deel van Sy groter plan: om ’n verskil in duisende vroue se lewens te maak. Wat ’n voorreg! Ek geniet my lewe saam met Coenie en ons tweeling, JC en Chanté én ek is mal oor my (onbeplande) werk.

Ek wil vroue inspireer om ook ’n verskil te maak. Waar begin jy? Ek het ’n vriend gehad wat baie skepties was oor die geloofsding. Ek het besef dat jy mense nie met woorde gaan oortuig nie. Jy moet jou Christenskap lééf. Jou geloof moet oorgaan tot aksie.

Ek het myself twee dinge voorgeneem: om my verantwoordelikheid in my binnekring na te kom. Sorg vir jou gesin en maak seker dat jy self “vol” bly – anders kan jy niks vir ander beteken nie.

Tweedens, jy moet jouself nooit geringskat nie. As jy voel jy is te nietig, gaan sluit jouself vir een nag in ’n kamer toe saam met ’n muskiet. Jy sal gou agterkom dat iets baie klein ’n baie gróót impak kan maak. Nes jy!

karien_basson.jpgKARIEN BASSON SÊ:
Jy is meer as goed genoeg!

(omroeper by Radio Tygerberg in die Kaap)

Buiten pastoorsvrou, is ek aanbieder by Radio Tygerberg, waar ek die middagprogram, Vuurvas, behartig. Ek onthou hoe ek as dogtertjie omroepers nagemaak het. Radio was in my bloed, maar onbereikbaar omdat dit ’n “ongewone werk” was. ’n Kursus in toerismebestuur het ’n loopbaan op passasierskepe uitgespel, maar na drie jaar het ek die Here se stem vertrou en, sonder opleiding, ’n kans gewaag met die media.

Ek was die teiken van onregverdige etikette wat ander om my nek gehang het: die stigma van die Barbie look. Mense dink maklik jy het geen IK nie en dat die pad boontoe vanself voor jy oopval. Dis nie waar nie. Ek het my al baie afgevra: “Is ek goed genoeg?” Om van dié las te ontsnap, moes ek besef God het my gekies nog voor die fondasie van die wêreld gelê is.

Ek wil dit graag by vroue tuisbring dat vrouwees ’n misterieuse wonder is wat ons moet geniet – dis nie ’n probleem wat opgelos moet word nie! Ons het elkeen ’n storie wat moed en hoop aan ander kan gee.

[Pagebreak] jana_du_plessis_0.jpgJANA DU PLESSIS SÊ:
Verwag ’n wonderwerk in jou lewe!

(FINESSE se Inspirasie Vrou van die Jaar 2013 in Bloemfontein)

Ek stem saam met Spreuke wat sê die mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. Op die oog af is ons ’n normale gesin: ek, my man, Ian, ons dogter, Zandri (7) en seun, Zehan (4). Ons bedryf ’n onderneming in opvoedkundige hulpmiddels, en ek het die groot voorreg om min of meer ’n voltydse tuisbly-ma te wees. Maar ons storie is ook ’n getuienis dat ons ’n lewende God dien wat doodgewone mense inspan om te wys waartoe Hy in staat is. En dat jou Christenskap jou nie vrywaar teen swaarkry nie. My pa het my ’n belangrike les geleer toe ek eendag, baie siek van die chemoterapie, gekla het. Toe vra hy my hoe ver loop ’n mens in ’n bos in. “Net tot in die helfte,” het hy verduidelik, “want met elke treë verder is jy besig om uit te loop, terug na die sonlig toe.” My passie is om ander hiervan te oortuig.

Ek was van altyd af ’n sportiewe mens; fiks en gesond. Daarom het ek geensins onraad vermoed toe ek opgeneem is vir ’n klein operasie as gevolg van ’n sportbesering nie. Die uitslag was ’n ongelooflike skok! ’n Seldsame, aggressiewe kanker in my beenweefsel het die dokter genoop om my been onder die knie te amputeer. Ek het dit aanvaar en was dankbaar vir die tweede kans – al het medici gesê ons sal nooit weer kinders hê nie. Nogtans het die God van wonderwerke gesorg dat klein Zehan gebore is; maar drie jaar later moes ons uitvind die kanker het na my longe versprei. Ek moes my derde swangerskap beëindig sodat ek dadelik met behandeling kon begin. Ons is aangeraai om soveel dinge moontlik saam te doen as gesin, want my tyd was min.

Dít het my die krag van gebed geleer. Gebed kán Sy hand beweeg. Vandag is ek heeltemal gesond en ’n bewys dat geloof God se wonderwerkkrag in jou lewe, en ander s’n, kan vrystel – dit maak nie saak hoe sleg jou omstandighede lyk nie.

Kliek hier om meer te lees oor Vroue Wat Glo