Word energie-slim

energie

Kry moegheid jou soms onder? Voel dit vir jou of jy elke dag dieselfde berg klim sonder om bo uit te kom? Voel dit vir jou asof jy net nie genoeg energie het om deur die dag te kom nie?

Jy is nie alleen nie. En daar is raad vir jou. Terapeute wat pasiënte met die outo-immuunsiekte lupus behandel, het sigbare sukses behaal deur mense te leer dat pyn en energie aktief bestuur kan word. Pyn of ongemak, het hulle bevind, is ‘n belangrike energie-dief en die rede waarom baie mense kla van lae energievlakke.

Marathon-atlete weet dat hulle hul kragte vir die belangrike eindpunt moet spaar. Hulle beplan die roete, hul pas en energieverbruik vir die op- en afdraendes sorgvuldig. Want hulle weet dat hulle net soveel spierkrag en stamina beskikbaar het.

Navorsers leer lupus-lyers om hierdie proses van beplanning in te span – om letterlik die pas aan te gee – sodat hulle met beperkte energie pynvry by lewenskwaliteit kan uitkom.

Wat die meeste mense doen, is om hulself te druk tot by die pyndrumpel verby. Dan neem die persoon ‘n pil of gaan lê om te herstel, indien dit moontlik is. Sodra die pyn bedaar, word die patroon herhaal. Op goeie dae kry jy baie gedoen en op slegte dae voel jy soos ‘n mislukking.

Navorsing het egter bewys dat dié manier van doen gevaarlik is. Die intervalle van pyn word korter en die hersteltyd langer – totdat daar later permanente skade is. Dit werk net so met energievlakke.

Die herstelpad begin wanneer jy jou drumpels ontdek. Gebruik ‘n tydklokkie om op ‘n “af dag” vas te stel hoe lank jy kan staan voordat dit voel of jou rug afbreek. Gestel dis 30 minute. Maak dan jou staandrumpel 15 minute. Doen dieselfde met sit voor die rekenaar of wanneer jy gaan stap of beweeg.

As jy hou by die drumpeltye, kan jy hulle stadigaan rek, maar dit moet altyd ver van die pyndrumpel af bly. Dit kos dissipline en die stilmaak van jou eie stemmetjie wat jou laat glo dat jy ‘net nog ‘n rukkie kan aanhou’. Die beloning is ‘n korter hersteltyd en meer energie.

Stap twee is om jou daaglikse take in ‘n week-oorsig te beplan en met robotkleure te merk: rooi vir hoë-energie-take, geel vir medium en groen vir dié wat min energie vereis. Kleur nou jou week in en spasieer die drie kleure tot jy ‘n gebalanseerde geheelprentjie het. As jou Maandag bloedrooi is, moet jy weet dat jy teen laat-oggend uitgeput en oneffektief gaan wees.

Maak aanpassings. As kosmaak ‘n uur neem, kyk of jy dit in drie twintig minute-sessies kan opbreek sodat jy nie jou sit- en staandrumpels oorskry nie. Wees eerlik met jouself. Jammerkry los nie jou energieprobleem op nie – kreatiwiteit wel.

Vorige artikelRoetine help jou kind beter saamwerk
Volgende artikelDit wat stukkend is maak Hy heel
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.