Word jy gelei deur die heilige gees?

0
151
gees.jpg

Baie gelowiges wonder oor die Heilige Gees ... Word hulle ook gelei? Hoe en waar? Wanneer sal jy weet of dit regtig gebeur of bloot toeval is?

’n Gelowige mens is nie soos ’n bottel nie – kwartvol of halfvol of heeltemal vol van die Heilige Gees nie. Dit hang eerder af van watter dele van jou lewe jy oopstel om gelei te word. Vir party mense is dit dalk net Sondae. Hulle gaan kerk toe, gesels vriendelik met vriende en familie, lewe heilig ... maar Maandag is dit ’n ander storie. In die vergadering baklei hulle alleen en op die gholfbaan het hulle ook nie leiding nodig nie. Nee, dan is dit net hulle en die wêreld. Die Bybel vra jy moet jouself as ’n lewende offer gee. Maar die probleem met ’n lewende offer is ... dit klim so maklik van die altaar af! Jy wil so graag jou eie kop volg.

Jy het jou eie planne en idees. Die Heilige Gees is altyd beskikbaar, jy kies net om die leiding te ignoreer. Wanneer jy jou egter daaraan oorgee, sal die wonderlikste dinge gebeur. Dit is so opwindend om te dink jy is deel van hierdie georganiseerde ding waarvan die Here in beheer is. Soms soek mense geestelike oplewing in groter kerke, meer mense, nog ’n orkes vir lofprysing, maar op die ou end moet dit oor Jesus gaan. So kom jy by die Heilige Gees uit. Dalk is jy so op soek na groot wonderwerke om te kan glo dat jy dinge soos gesondheid, ’n werk en ’n gesin miskyk. Dis ook elke dag ’n gawe. Elke mens kan Sy stem hoor, dit gebeur net anders vir elkeen. Daar word vertel van ’n Chinees wat tot bekering gekom het. Vir hom was een van die hoogtepunte om ’n Bybel in die hande te kry, hy kon nie wag om te begin lees nie.

Die enigste beskikbare Bybel was ’n ou Engelse vertaling in baie hoë taal. Dit het hom egter nie afgeskrik nie. In Ou Engels was dit die gebruik om so te skryf: Lo, thy God is with thee. Hierdie Chinees was in die wolke! Sy naam was Lo, en elke keer as hy dit gelees het, het hy geglo God praat direk met hom. Wat natuurlik die geval is. Iets wat ek uit hierdie verhaaltjie geleer het, is dat ons almal eintlik die Bybel behoort te lees asof vir die eerste keer. Die Heilige Gees help jou om die Bybel reg te verstaan – dit is ook ’n manier hoe jy God se stem kan hoor. Parakletos beteken Hy is ons Helper – dit is een van die Griekse woorde wat na die Heilige Gees verwys. Hy help ons, gee ons krag, dra ons.

Dit laat my dink aan die staaltjie van ’n man wat so halfpad deur die dag gebid het: “Here, ek het vandag nog nie een keer geskel nie. Ek het nog nie een keer op die kinders geskree of gevloek nie ... maar as ek nou hier gaan opstaan, gaan ek regtig U hulp nodig hê!” Laat die Heilige Gees toe om jou te help sodat ook jý die vrugte van liefde, vrede, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing kan dra.

DEEL
Vorige artikeljou vyand en jou baas
Volgende artikelgewig verloor (grappie)
This is the "wpengine" admin user that our staff uses to gain access to your admin area to provide support and troubleshooting. It can only be accessed by a button in our secure log that auto generates a password and dumps that password after the staff member has logged in. We have taken extreme measures to ensure that our own user is not going to be misused to harm any of our clients sites.