Word weer dolverlief op jou man

0
141
verlief.jpg

Maak ’n positiewe kopskuif en onthou weer hoekom jy in die eerste plek so dolverlief op jou man was.

Kritiek is een ding. Die manier waarop jy dit sê en die houding waarmee jy dit sê, is ’n ander ding. Lees hier hoe huwelikskenner Floris Knouwds vir Mia en Isak uit ’n bose kringloop bevry.

Die paartjie

Mia: 39, onderwyseres
Isak: 41, ingenieur
Getroud: 15 jaar
Kinders: Liana, 12; Zander, 9

Die berader

Dr. Floris Knouwds, skrywer van onder meer 21 dae tot ’n fantastiese huwelik.

Die agtergrond

Na baie wik en weeg het Mia besluit om Floris se hulp in te roep. Dit voel vir haar of elke gesprek tussen haar en Isak op ’n geveg of op stilstuipe uitloop. Nadat Mia ’n paar sessies op haar eie deurgegaan het, het Isak uiteindelik ingestem om saam met haar na Floris toe te gaan.

MIA Dit voel vir my of jy altyd op die verdediging is al bedoel ek ’n opmerking ook goed.

ISAK Dis presies wat dit is! ’n Opmerking. ’n Ongevraagde mening wat spruit uit beterweterigheid.

MIA Dis nie hoe ek dit sien nie. Dink maar aan gister toe ek vir jou voor die funksie gesê het hoe handsome jy lyk.

ISAK En as dit maar daarby gebly het. Toe sê jy…

MIA Toe vra ek of jy nie ’n ander hemp wil gaan aantrek nie, want die een wat jy aangehad het, het jou boepie ’n bietjie beklemtoon. Ek het jou net probeer help.

ISAK En daarmee saam die kompliment wat jy wel gegee het, ongedaan gemaak. Dis nie net jou woorde nie, dis ook die manier waarop jy goed sê. En jou lyftaal.

FLORIS Isak is reg. Kritiek is baiekeer meer as woorde. Dit kan ’n gesigsuitdrukking wees of oë wat rol of hande wat in die lug gegooi word. Hoe dit ook al oorgedra word, die boodskap is dat een persoon superieur bo die ander een is. Kritiek veroorsaak spanning en angs, en die liggaam se natuurlike reaksie op angs is om te veg of te vlug.

ISAK Dis presies wat ek doen. Ek baklei terug, loop weg of maak asof ek niks gehoor het nie.

MIA Of jy is aspris en gaan doen juis dit wat ek voorgestel het jy nie moet doen nie.

FLORIS Maar ’n verhouding waarin iemand te bang is om ’n mening uit te spreek, is ook nie gesond nie. Die heel beste manier om uit hierdie kringloop te breek is om weg te doen met negatiwiteit. Soos in niks nie. Nie in dit wat jy sê nie en ook nie dit wat jou lyf wys nie. En albei van julle moet hiervoor commit. Nie net vir nou nie, vir altyd. Selfs al praat julle vir die eerste ruk nie met mekaar nie, sal die liefde wat julle lank terug vir mekaar gevoel het, die een of ander tyd terugkom.

ISAK Goed, en dan? Wanneer ons onthou het hoekom ons vir mekaar lief was? Hoe gesels ons dan oor goed wat ons pla?

FLORIS Dis maar altyd beter om met “ek”-sinne te begin. Iets soos: “Daar is iets waarmee ek sukkel en ek sal dit graag met jou wil bespreek. Wanneer kan jy gesels?” Hiermee konsentreer jy op jou gevoelens. Jy kom nie as aanvallend voor nie en gee jy die ander persoon kans om daarop voor te berei. Laat die ander persoon dan ook ’n tyd en plek gee wat hom of haar pas.

ISAK Ek stem. As Mia my so uit die bloute kritiseer, is ek onmiddellik op my agterpote. As ek voor die tyd weet sy wil met my oor iets gesels, is daar nie ’n element van verrassing nie en sal ek myself nie heeltyd wil verdedig nie.

FLORIS Die heel belangrikste is egter steeds om glad nie negatief te wees nie. Omdat dit so ’n gewoonte is, sal dit aan die begin moeilik wees om toe te pas. Later sal julle begin sien op watter maniere julle krities is. Maniere waarvan jy nie eers bewus was nie, soos deur grappe oor die ander een te maak, sleg te praat van hulle of negatief oor jou maat te dink.

Ek daag julle uit om vandag hiermee te begin. Nie ’n woord nie, nie ’n kyk nie, selfs nie eers ’n negatiewe gedagte nie. Julle sal sien watter positiewe verandering dit in julle verhouding gaan bring.

Verwerk en vertaal na aanleiding van ’n artikel deur Harville Hendrix deur Marlize Leyden.