Wys jou liefde vir jou man

0
417
brief

Verlang jy na julle troudag toe almal julle liefde kon sien? Hier is een emosioneel intelligente man se brief oor hoe getroudes hulle harte vir mekaar kan wys.

Verlang jy na julle troudag toe almal julle liefde kon sien? Hier is een emosioneel intelligente man se brief oor hoe getroudes hulle harte vir mekaar kan wys.

My liefste Vrou

Jy was Saterdag so kwaad vir my... Voel jy steeds dat ek nie by jou wil wees nie? Glo jy regtig dat die tuin vir my belangriker is as jy? Dis dan juis oor ek vir jou lief is dat ek die tuin vir jou wil mooi maak na die winter!

Wat jy gesê het (eintlik gegil het), het my aan die dink gesit oor hoe ’n mens liefde bewys. Moenie so verbaas wees nie! Ek is nie heeltemal clueless nie. Toegegee: Ek het jou neef wat berading doen, gekontak ... Hier is ons twee se planne:

Praat reguit en eerlik oor wat jy voel en dink

Onthou jy hoe ek in ons beginjare my werksprobleme vir jou weggesteek het? Ek wou bekommernisse van jou af weghou. Dit was oneerlik! Ons liefde kan net groei wanneer ons ons binneste heeltemal vir mekaar oopmaak.

Dit gaan nie altyd lekker wees om alles van mekaar te hoor nie. Jy gaan jou wip as ek vertel van die mooi sekretaresse met wie ek willens en wetens nie gesels nie. Maar hoe anders sal jy gerus kan wees oor my getrouheid aan jou tydens ’n werkskongres? Wat jou ontstel, begryp ek ook nie altyd nie. Maar jy sal elke keer moet gal braak, sodat ek kan weet wanneer jy ekstra drukkies en koppies tee benodig.

Hierdie openhartigheid maak ’n mens kwesbaar, maar versterk ons liefde. Jou neef sê: Eerlikheid sonder liefde maak seer, maar liefde sonder eerlikheid is kortstondig en oppervlakkig.

Wees lief vir my al hou jy nie altyd van my nie

Ons het mos ’n trou-belofte afgelê om altyd vir mekaar lief te wees. Nie ’n trou-ooreenkoms waarbinne liefde net onder sekere voorwaardes gegee word nie. Dis selfsugtig om te sê: “Ek sal jou net liefhê as jy op ’n sekere manier optree. As jy dit nie doen nie, gaan ek ophou om jou lief te hê.”

Jy kan seker aan 150 voorbeelde dink waar ek jou liefdesgevoel blus. My laat werkery, verlepte garageblomme op Moedersdag, tentvakansies, vergete rekeninge... Sal jy dan asseblief jou troubelofte onthou en aanhou goed wees vir my?

Ek onderneem dieselfde met jou. Ja, jy is nie altyd ’n droomvrou wat my hart laat smelt nie. Ek sal liewer nie ’n lang lysie oor jou onaantreklike gewoontes opstel nie. Maar dink aan: skree op die kinders, jou uitgerekte sweetpak terwyl jy Grey’s Anatomy kyk...

Kom ons droom saam, en deel mekaar se passies en ideale

Niks maak die lewe vir my lekkerder as wanneer jy saam met my opgewonde is nie. Onthou jy toe ek in Dubai moes gaan werk en jy alles net so gelos het om saam te gaan? Dis nou moeiliker met ons oulike kinders om groot skuiwe te maak, maar ek het nog sulke drome.

Sal jy nie asseblief net uit plig luister wanneer ek hulle met jou deel nie? Sal jy asseblief saampraat, planne maak en opgewonde raak? Jou neef noem dit “empaties wees”: Voel wat ek voel wanneer ek my diepste wense met jou deel.

Ek sal dieselfde met jou doen. Ek belowe my oë sal nie glasig by jou verbystaar nie. Ek sal nie lag nie, niks afmaak as verspot of onmoontlik nie. (Ek weet jy is besig om snags ’n boek te skryf. Mag ek dit asseblief lees?)

Werk saggies met my en glo altyd die beste

Dit lyk my Spreuke 15:1 se sagte woord wat die grimmigheid afkeer, is ’n goeie begin vir liefdevol met mekaar wees. Sagtheid beteken dat jy nie dadelik die slegste van my dink nie. En nie onmiddellik aangeval of te na gekom voel nie.

Jou neef glo ’n mens beoordeel jou eie optrede aan jou bedoelings, maar jy beoordeel jou maat se optrede sonder om hierdie bedoelings in ag te neem. Saterdag se tuindrama is ’n goeie voorbeeld.

Ons sal sterk moet wees om so sag met mekaar te werk, om mekaar se goeie bedoelings raak te sien. Ons sal moet werk aan stemtoon en tydsberekening. Ons sal mekaar in detail moet ken om elkeen se omstandighede in ag te neem. Ons sal dit alles net met God se hulp en vanuit ons geloof kan doen. Ek glo ons kan!

Liefdegroete

Jou Man

Bron
Ways to Prove to Your Spouse You Love Them deur Ryan Frederick.