Wyse woorde – Anneline Kriel

0
258
Anneline Kriel

Wie onthou nie vir Anneline Kriel nie? Die beeldskone Mej. Wêreld van 1974 gee ’n bietjie insig en raad oor belangrike aspekte van haar lewe.

Wie onthou nie vir Anneline Kriel nie? Die beeldskone Mej. Wêreld van 1974 gee ’n bietjie insig en raad oor belangrike aspekte van haar lewe.

Oor skoonheid

As ek na my ou foto’s kyk, dan dink ek: ‘Ja, ek was so mooi!’ Maar ek dink elke jong mens besit daardie ‘mooi’. Die mooi van jonk wees is om vol lewe te wees, en ons almal kom op daardie stadium in ons lewe. Wat van binne uitstraal, is belangrik. Dit moet positief, vriendelik en opreg wees. Dis innerlike skoonheid. Persoonlikheid maak jou mooi – dat mense graag in jou geselskap wil wees, getuig daarvan. ’n Interessante gesig is ook mooi, nie net ’n sjokoladeboks-skoonheid nie.

Oor die media

Ek is ’n private mens en het my privaatheid verloor toe ek ’n skoonheidskoningin geword het. Dit was moeilik om te aanvaar dat die hele wêreld van jou besigheid geweet en ’n opinie oor jou lewe gehad het. Met Facebook geniet mense dit deesdae om hulle persoonlike lewe met die wêreld te deel, so privaatheid is nie vir hulle so belangrik nie. As gevolg daarvan gee mense minder om vir wat in ander se lewens gebeur. As ek vandag iets vir Anneline Kriel kon sê voor sy bekend geword het, sou ek haar waarsku om mense nie so maklik te vertrou nie.

Oor familie

My familie is wonderlik. Hulle het my altyd bygestaan en nooit veroordeel nie. My gesin is my anker – die enigste plek waar ek kan rondloop sonder om hare te was en waar ek nie heeltyd met vreemde mense geselsies hoef te maak nie. Ek is baie naby aan my suster, Renette, en my broer, Ernst. Ek dink hoe ouer ’n mens word, hoe belangriker word jou familie.

Oor kinders

Gepraat van defining moments. Ek dink my kinders was die grootste gebeurtenis in my lewe. Dit was my begeerte om ’n kind te hê en toe kry ek twee pragtige dogters. Alhoewel hulle deur ’n egskeiding gegaan het, het my man, Peter, met wie ek 20 jaar getroud is, vir ons ’n wonderlik stabiele en liefdevolle lewe gegee. Ek is so dankbaar daarvoor. Ons het ’n fantastiese gesin van vyf dogters. Daar is drie halfsusters: Naomi woon in Stellenbosch, Olivia in Los Angeles en Claudia in Engeland. Almal kom goed oor die weg met Tayla en Witney en ons gesin sien om na mekaar. Ons help mekaar en trek saam.

Oor gesondheid

Die groot uitdaging, dink ek, is om vrede te maak met die natuurlike verouderingsproses. Die natuur moet maar sy gang gaan. Ek voel dat Botox en al die vreemde goed wat in jou gesig ingespuit word, nie goed is vir jou gesondheid nie as gevolg van hulle bestanddele. Dis gif. Baie van my vriende stry teen kanker en ek besef dat gesondheid die belangrikste faktor vir ’n gelukkige lewe is. Jy kan niks geniet as jy in ’n hospitaalbed lê of pyn het nie. Gesond eet en oefening is belangrik en om rustigheid in jou siel te hê. Tel jou seëninge elke dag.

Oor aftree

Wat ’n fantastiese tyd in jou lewe! Wat ’n voorreg om 60 te wees! Om gesond te wees en om die beste te wees wat ek kan op dié ouderdom. Ek kyk na myself, maar ek hoef nie plankdun te wees of sonder plooie te wees nie. Ek is rustig in myself. Dis wonderlik om saam te wees met ’n man wat my beste vriend is. Ons geniet mekaar en ons diere (sewe honde) in Mauritius. Aftree beteken nie niks doen nie. Ons is besiger as ooit, maar met projekte wat óns kies en geniet om by betrokke te wees.